VN-bemiddeling oor raswette ‘deurbraak vir stryd teen rasmalheid’

Dr. Dirk Hermann en Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, tydens hul vroeëre besoek aan die VN. (Foto: Verskaf)

“ʼn Deurbraak vir Solidariteit se stryd teen rasmalheid en vir demokrasie.”

Só beskryf dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, die aanvang van ʼn bemiddelingsproses tussen die vakbond en die regering.

Die proses begin reeds Dinsdag en sal onder die vaandel van Suid-Afrika se Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geskied.

Solidariteit het die regering ingevolge konvensie 111 van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) in Genève, Switserland, oor wat Solidariteit “rasmalheid” noem, verkla. Die IAO is ʼn agent van die Verenigde Nasies (VN).

Die departement van arbeid en indiensneming (namens die regering), Solidariteit en die IAO het hul teenwoordigheid volgende week bevestig.

Sou die bemiddelingsproses niks oplewer nie, kan die saak boonop op verhoor geneem word en ʼn beslissing moontlik teen die ANC-regering gemaak word.

“Gewone mense wat saamgestaan het, het die regering nou in ʼn bemiddelingsproses gedwing,” sê Hermann.

“Dit is ʼn reusedeurbraak. Dit is die eerste keer, beslis sedert 1994, dat só iets gebeur; om die waarheid te sê, ek weet nie of daar al in Suid-Afrika ʼn presedent daarvoor geskep is nie.

“Dit beteken dat hier bemiddeling plaasvind, onder toesig van die VN in Suid-Afrika, oor Suid-Afrika se rasbeleid. Dit bevestig ook dat die regering nog sensitief is vir internasionale verhoudinge.”

Gelyke vennote

(Argieffoto: Mary Altaffer/AP)

Solidariteit het niks om te verloor in ʼn bemiddelingsproses nie; selfs al gebruik die regering dit net om tyd te wen, sê Hermann. “Ons verloor niks nie, maar ons wen die simboliese krag van ʼn regering wat hom onderwerp aan ʼn proses van die VN.”

Die bemiddelingsproses plaas Solidariteit boonop op gelyke voet met die regering. “Dit gaan eerder ʼn bokskryt as ʼn sagte proses wees, maar daar is reëls en grense.”

Dat die regering se rasideologie sentraal tot die gewraakte wetgewing staan, is nie altemit nie en Solidariteit is nie naïef oor die kans op suksesvolle bemiddeling nie. Die regering gaan ook nie sonder meer afstand doen van wetgewing oor ras nie.

Indien die regering (verteenwoordig deur die departement van indiensneming en arbeid) en Solidariteit binne ses maande ʼn skikking bereik, sal dit in Suid-Afrika in wetgewing omgeskakel word.

Indien geen skikking bereik word nie, gaan die verhoorproses voort en ʼn paneel internasionale regskenners bereg die saak.

“Die krag van só ʼn skikking, of ʼn uitspraak tydens ʼn verhoor, lê daarin dat die land ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing, verplig word om sy wetgewing te wysig,” verduidelik Hermann.

“Indien daar uitspraak in Solidariteit se guns is, plaas dit ons in ʼn ongelooflik sterk posisie: Dit beteken ons kan voortgaan met litigasie [oor raswetgewing] in Suid-Afrika.”

Die proses laat nie toe dat Solidariteit die VN en sy instellings vra dat ʼn streep summier deur die land se raswette getrek word nie. Dit laat hom wél toe om te vra vir ingrypende wysigings wat op internasionale standaarde gegrond is. Dié wysigings sluit in die bepaling dat ras as enigste kriteria gebruik word; ʼn wysiging om sosio-ekonomiese omstandighede ook te oorweeg; die oorweging van opleiding en onderrig; ʼn wysiging dat mense nie meer op grond van ras geklassifiseer word nie, en ʼn bepaling dat ʼn einddatum vir raswetgewing ingestel word.

Die vyf kwessies word bevat in internasionale konvensies wat Suid-Afrika bekragtig het, maar Suid-Afrikaanse wetgewing gaan veel verder as wat internasionale standaarde toelaat. Dit maak voorsiening vir bepaalde afwykings, maar plaas steeds bepaalde beperkings.

“Ons het geen twyfel dat Suid-Afrika die standaarde oortree nie.”

“Hulle is waarskynlik ook bekommerd oor die meriete van ons klag,” sê Hermann.

Internasionale aansien

Indien daar op verhoor teen die regering beslis word, kan Suid-Afrika van die konvensie geskors word. En dít sal ʼn reuse- diplomatieke verleentheid wees, sê Hermann.

“Suid-Afrika is ʼn oop ekonomie wat swaar op internasionale konvensies steun. Dit plaas Solidariteit in ʼn sterk posisie.

“Die regering is in hierdie stadium op wankelrige internasionale gronde en daaruit spruit waarskynlik hul deelname aan die bemiddelingsproses.”

Hermann sê hierdie is ook die eerste keer dat Solidariteit ʼn “substantiewe klag” by die VN indien. Dit beteken die inhoud daarvan is sterk. Die organisasie het in die proses ook die steun van sowat 500 000 mense vir die indien van die klagte ontvang.

Só verloop proses

(Argieffoto: pixabay)

Die huidige klag volg ná ʼn stryd wat Solidariteit al sedert 2016 by die VN oor die regering se rasbeleid en wetgewing soos die Wet op Billike Indiensneming en die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB-wet) voer. Solidariteit het destyds voor die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) verskyn na aanleiding van ʼn skaduverslag wat Solidariteit by dié komitee ingedien het.

Dié verslag is ʼn kommentaar op die regering se gereelde amptelike verslag wat by die komitee ingedien moet word. CERD het daarna ʼn aanbeveling gedoen waarin kritiek op die regering se apartheidsrasklassifikasie gelewer word.

Hierop het ʼn gelykheidsverslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gevolg waarin die kommissie bevind het die Wet op Gelyke Indiensneming gewysig moet word om met die internasionale konvensie te strook.

“Dit was vir ons ʼn baie groot deurbraak, maar die Suid-Afrikaanse regering het dit uit die aard van die saak nie gedoen nie,” sê Hermann.

Nóg ʼn klagte by die Internasionale Arbeidsorganisasie van die VN het gevolg. Die VN het ontvangs daarvan erken en bevind dat Solidariteit reeds alle “interne remedies” uitgeput en op sigwaarde ʼn saak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Opdraande stryd. Raswette is nou deel van ons bestaan.

annie ·

Skaars het Oom Jan sy voet aan wal gesit in die Kaap van Storms, of erge storms begin woed rondom setlaars wat juis gevlug het van vervolging in Europa met meer van dieselfde. Afrikaners is sedertdien as boos en gevaarlik afgemaak en beheer, sodat alles bo- en -ondergronds gegryp kon word. Presies dieselfde gebeur nog vandag. Hoe mooi ookal, verduidelikings aan soortgelyke magbeheptes en gieriges is ‘n mors van logiese Afrikaanse asem.

Harley Davidson ·

As almal net hulle deel doen soos nou met dischem en spur en die vf+ ook begin aandag gee aan die diskriminernde wette kan die diskriminasie teen huidige benaadeelde minderhede gestop word ,dit is soos die gesegde se as jy nie kla dan stem jy saam.Hopenlik val die ANC dan is al hierdie verby.

Republikein in die Wes Kaap ·

Selfs al val die ANC sal dit steeds voortgaan. Die besluitnemers in die privaat en openbare sektore implementeer nou eie interne rasmal beleide. Voorheen Afrikaanse universiteite is ‘n goeie voorbeeld, waar selfs Afrikaners aan die spits was. Feit is, die ANC het dit al voor 1994 beplan. Rasmal beleide is diep ingewortel. Afrikaners kan kla, maar dis beter om eerder losgemaak te word van die heersers en aan te beweeg.

minnie muis ·

soos ek die terries en kommunist ken , gaan hulle hulself loslieg en uitstel op uitstel kry en dan hulle alie afvee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.