Volhoubare planne nodig vir Krieket SA – AfriForum   

AfriForum sê dat volhoubare planne nodig is vir Krieket SA. (Argieffoto)

“Indien Krieket Suid-Afrika (KSA) werklik ernstig is oor transformasie in sport, moet hulle volhoubare talentidentifisering en ontwikkelingsprogramme daarstel.”

Só sê Ronald Peters, bestuurder van sport by AfriForum.

Die burgerregteorganisasie het in ’n brief aan adv. Dumisa Ntsebeza, ombudsman vir transformasie by KSA, onder meer gesê dat die huidige transformasiebeleid diskriminerend is en dat die instelling van rassekwotas ’n negatiewe impak op prestasie en die sportgemeenskap in geheel het.

Dit kom nadat KSA bekendgemaak het dat hy skriftelike voorleggings oor die transformasiebeleid van huidige en voormalige spelers, afrigters, administrateurs en belanghebbendes ook sal oorweeg.

KSA het in 2016 onder meer aangedui dat die nasionale span ‘n gemiddelde minimum van 54% swart spelers in die span moet hê.

In 2020 het KSA weer beklemtoon dat meer swart spelers, spesifiek Afrikane, in nasionale spanne moet speel en dat transformasiebeleide wat rassekwotas bevorder, meer aggressief toegepas moet word.

Volgens Peters moet daar ook dringend ’n onderskeid getref word tussen transformasie en ’n kwotastelsel.

“KSA moet eerder op planne fokus wat minderbevoorregte persone met hulpbronne toerus en aan hulle die nodige geleenthede gee om hul volle potensiaal te bereik,” het Peters gesê.

Hy het voorts gesê dat spelers op grond van meriete gekies en ontwikkel moet word en nie volgens die kleur van hul vel nie.

“As gevolg van die rol wat sport in ons gemeenskappe speel, is dit belangrik dat AfriForum se insette op hierdie proses – wat op nagevorste feite gebaseer is – deur die transformasieombudsman bestudeer moet word,” het Peters gesê.

“Die huidige transformasiebeleid diskrimineer nie net nie, maar dryf ook gemeenskappe uitmekaar.”

AfriForum het reeds in November 2020 ’n volledige verslag gepubliseer wat die negatiewe impak van KSA se transformasiebeleid op die sport uitlig. Die verslag is saam met die brief aan Ntsebeza gestuur.

“AfriForum vertrou dat adv. Ntsebeza die brief in goeder trou sal ontvang en dat hy die kritiese elemente wat in die skrywe en in die verslag vervat word, sal oorweeg wanneer hy sy aanbevelings oor die herstrukturering van die transformasiebeleid van KSA maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mudguard ·

Wat ookal. Buig maar die kniee. BEE en BBBEE gaan julle julle gatte laat sien.

Basjan ·

Ag maak wat julle wil. Ek het i.e.g belangstelling verloor.

pieter ·

Politieke in enige sport is n moeras ,
Die publiek ondersteun ook nie meer rugby nie.
Hoe kan jy enige goeie span lies op rasse kwotas,
Word op meriete gekies , ja man.

louis ·

Al uitweg is dat wittes hul eie klubs en nasionale ligaam kies

Misky ·

90% van krieket ondersteuners is blank. Wat het hulle gedink en ons het mos groot geraas gemaak toe Nathi Mthetwa destyds al die twak kwyt geraak het. Nou toe nou, waar is die grootbek nou? Julle was gewaarsku, moenie nou huil nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.