Voorgestelde Bela-wet ‘hartseer terugslag’ vir onderwys

(Argieffoto: pixabay)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê hy sal alles moontlik doen – saam met ander instellings en politieke partye wat dit ook teenstaan – om die inwerkingstelling van die voorgestelde Bela-wetgewing te beveg.

Die SOS het ʼn beroep op die regering, wat in hierdie stadium oor die Bela-konsepwet beraadslaag, gedoen om na internasionale bestuursmodelle te kyk waar gemeenskappe ʼn sentrale rol in skoolbestuur speel. Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by SOS, waarsku dat die voorgestelde wysigings skoolbeheerliggame sal stroop van die mag om onder meer oor taal- en toegangsbeleid te besluit.

“As ons na lande soos Kenia en Uganda kyk, sien ons dat samewerking tussen die staat en die private sektor lei tot ʼn hoër gehalte onderrig, teen ʼn laer koste vir die regering. Hierdie voorgestelde beleide gaan nie die onderwyskrisis in die land oplos deur die staat meer mag te gee nie.”

Die voorstel strook ook nie met die 1994-ooreenkoms dat taal en kultuur beskerm sal word nie, sê Buys.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by SOS. (Foto: Verskaf)

“Artikel 6 van die Grondwet is ʼn duidelike getuigskrif van ons land se verbintenis om taaldiversiteit te eerbiedig. Die druk deur ʼn sentrale owerheid om skole eentalig te maak is nie net ʼn aanval op ons kulturele diversiteit nie, maar ook ʼn afwyking van Unesco se beginsels van moedertaalonderrig as ʼn mensereg.”

Nog ʼn bron van kommer is die afname in die getal openbare skole in Gauteng sedert 2014 – terwyl die aantal leerders bly toeneem.

“Hoe kan ons verwag om ʼn moedertaalonderrigstelsel in werking te stel as daar nie eens genoeg skole is om aan die behoeftes van alle leerders te voorsien nie?” sê Buys.

“In ʼn tyd waar gemeenskappe, ouers en onderwysers so hard werk om ʼn verskil in die lewe van leerders te maak, is die voorgestelde Bela-wysigings ʼn hartseer terugslag. Die SOS dring daarop aan dat ʼn skoolstelsel waarin elke kind in Suid-Afrika gelyke toegang tot gehalteonderrig het, nagestreef moet word, waar elke leerder die reg het om in sy of haar moedertaal onderrig te word.”

Buys sê gehalteonderrig is vir almal ʼn prioriteit, maar kan nie gelewer word sonder om na gemeenskappe, ouers en onderwysers te luister nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Wil net weet? Gaan die ANC geld maak uit die Bela-wet, en sal die kaders kan vreet. Die ANC doen moes niks tensy hulle daaruit finansiel kan baat nie.

Nommer 7 ·

Slegs vir private- en godsdienstige funksies/redes. Skole verhuur hul fasiliteite vir private funksies en vir geloofsgroepe wat nagmaal hou.

Karoo ·

Ons sal soos altyd…. ‘n weg vind en ons nie onder laat kry nie. Ons is reeds so dun gesaai dat ons na onsself kan / moet kyk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ongelukkig kos alles geld. Tesame met medies fondse, aftreevoorsiening en normale belasting bereik die meeste mense nou hul limiet baie vinnig. En dis ook nie dat werk volop is nie. Ons kan /moet na onsself kyk tot by ‘n punt, daarna is dit genade.

Kirst ·

Dis deel van die NDR. Breek alles af wat gewerk het en vervang dit met sosialistiese (eintlik kommunistiese) instellings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.