Voorlopige ondersoek oor kinderhuisaantygings dán bekend

‘n Skermskoot uit die video. Die meisies se gesigte word verbloem om hul identiteite te beskerm soos die Kinderwet vereis.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling sal eersdaags sy bevindinge bekend maak van ʼn voorlopige ondersoek nadat drie meisies wat glo inwoners is van ʼn bekende kinderhuis in Vereeniging, Gauteng, verskeie aantygings oor die toestand daar in ʼn selfoonvideo gemaak het.

Maroela Media het Woensdag berig die meisies, van wie twee minderjarig en een 18 jaar oud is, staan in hul skoolklere en vertel in Afrikaans in ʼn skynbare ligte luim hulle is inwoners van die Catherine Robson- kinder- en jeugsorgsentrum.

Hulle verskaf hul name en ouderdomme terwyl die stem van ʼn vrou in die agtergrond gehoor kan word en sy vir hulle vrae vra. Die meisies vertel dat hulle een aand sonder kos buite die kinderhuis moes slaap. Hulle beweer ander kinders het hulle “deur die tralies” probeer kos gee en dat dié kinders toe ook gestraf is.

Hulle beweer verder niemand is gelukkig daar nie en die huismoeders vloek en slaan hulle glo. Hulle sê hul kos word glo in vuil potte voorberei en dat hulle al miere, kakkerlakke, staalwol en proppe in hul kos gekry het.

Die skynbare doel van die video is om die aandag van die “minister van gesondheid en welsyn” te kry om daar besoek af te lê aangesien dit nie ʼn “veilige hawe” is nie.

Mbangwa Xaba, woordvoerder van die departement, het aan Maroela Media gesê die departement is bewus van die video en het maatskaplike werkers aangewys om die aantygings te ondersoek.

“Die voorlopige verslag met die bevindinge sal na verwagting teen Woensdag beskikbaar gemaak word,” het Xaba gesê.

Ds. Danie Kruger, bestuurder by Catherine Robson, het vroeër aan Maroela Media gesê die bestuur is ook bewus van die video wat wyd versprei word.

“Die voorval is by die departement van maatskaplike ontwikkeling aangemeld. Die departement is versoek om ʼn onafhanklike ondersoek te doen, waarby lede van die adviesraad van Catherine Robson ook betrek sal word,” het Kruger gesê. “Die bestuur sal daarna op die aangewese optrede besluit.”

Kruger het gesê in terme van artikel 74 van die Kinderwet is dit in die kinders se beste belang dat hul identiteit nie op sosiale media gepubliseer word nie.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om nie die video verder te versprei nie. Ons beskou die video as lasterlik en is in die proses om regsadvies in te win.”

Die tehuis is ʼn geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat aan die NG Kerk behoort. NG Welsyn is ook bewus van die video en ondersteun die kinderhuisbestuur in die ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Suzie ·

ek het nou gelukkig, of ongelukkig, nie die video gesien nie, maar as ek so na hierdie foto kyk, lyk die meisies vir my goed versorg.

Carel Hancke ·

Ek het ook so gedink maar het tot ander insisgte gekom na ek die video gesien het

Piet Pompies ·

Moderne sosiale media maak dit moontlik vir onvolwasse persone om bewerings en inligting wêreldwyd te versprei met die druk van ‘n knoppie. Dit is nou maar so dat daar kinders is wat selfsugtig is in hul optrede en sal leuns versprei sonder dat hulle die impak daarvan besef.
In hierdie geval, as die bewerings waar is moet die nodige stappe geneem word, indien dit onwaar is moet die klaers die straf dra van hulle onwaarhede.
Soos deur ‘n ander leser opgemerk is, die kinders lyk goed versorg en tydens die opname is die kinders in ‘n ligte luim.

Belkie ·

Suzie, ek glo GEEN kind sal ‘n video maak en VALS aantygings maak van so aard nie; daar is teveel op die spel; hulle sal ge-intimideer word en wie weet wat nog! Waarom sou jy dink die kinders moet vuil wees? dit het niks te make met wat hulle op die video gesê het nie. Moenie te gou oordeel as jyself nie weet wat daar aangaan nie.

Jan ·

Jy aanvaar die video as waar? Daar is altyd kinders, veral dogters wat vals goed versprei om aandag te kry. Hulle dink dit is n groot grap!!

Mattew ·

Ek wil ook so graag dit glo, maar het al te veel gevalle gesien waar die videos gemaak word, meisies wat videos maak en mense beskuldig van verkragting, mishandeling ens wat toe nooit eers n bietjie waar was nie. Hul moet die plek afneem, neem n foto van die kos ens dan sal hul meer ernstig opgevat word deur die publiek

zahn ·

Wat my bekommer is die heel laaste sin in die artikel, NG Welsyn ondersteun die kinderhuis bestuur in die onderhoud, maw, as ek dit reg verstaan, is die bestuur klaar gecover? Dink julle nie dit sou beter gewees het om die bestuur en personeel te skors tot die ondersoek afgehandel is nie? Sou die bewerings waar wees, dink gou aan watter elemente gaan daai kinders nou blootgestel wees? Hulle is klaar wees, hoe erg sal dit nou gaan? Sou die bewerings vals wees, kan die gbestuur en personeel maar hul take hervat, maar tot dan, sorrie mense, weg van die perseel af!

Riana ·

Zahn, as die bestuur en personeel geskors is, wie gaan na die kinders kyk, dan is daar mos nou niemand om toesig te hou of die res van die kinders te versorg?

K ·

Interessante gebeurtenis wat nou gebeur op hul facebook blad…. gaan loer maar :(

Nuuskierig ·

Ek is nou super nuuskierig… waar kan ek die video sien? Het dit probeer google maar niks gesien nie

K ·

Nuuskierig – ek self het nie die video gesien nie, maar ek het op hul facebook page afgekom……

Wat leer ek ·

Dit lyk my ek moet ophou help, ophou vir enige armes skenk, ophou om vervoer aan mense te verskaf, ophou omgee, want dit byt terug. Of hoe?

Erick ·

Ek vertrou die moderne NGK g’n. Hulle het ‘n vriend van die wêreld en sodoende ‘n vyand van God geword.

Gesi ·

Hkm mag hy ni versprei word ni wat van vryheid vam spraak erger dinge word versprei en niks gebeur hkm mag hulle ni ook hulp vra nie niemand luister as kids praat nie

Marius ·

Waar daar n rokie trek is daar n vuurtjie.Ek glo die kinders.

Zelda ·

Dit was n vals berig. As julle Vaalweekblad add op facebook sal julle daar lees dat die meisies gister erken het dit alles n leun was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.