Voormalige munisipale bestuurder vas vir bedrog

geld ekonomie suid-afrika

(Argieffoto)

Die voormalige waarnemende bestuurder van die Ubuntu-munisipaliteit en ʼn medepligtige het Dinsdag vinnig in die landdroshof in Victoria-Wes in die Noord-Kaap verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie. Die twee mans het na bewering vier jaar gelede miljoene van die munisipaliteit gesteel.

Die voormalige bestuurder, Xolani Goodman Malgas (53), en Dan Bevin Sonwabo Nkili (58), sy trawant wat ʼn kontrakteur is, is Maandag in die vroeë oggendure deur die Valke aangekeer.

Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, sê die Ubuntu-munisipaliteit in Victoria-Wes het na bewering in 2016 verskeie betalings aan verskillende diensverskaffers gemaak sonder om die behoorlike verkrygingsprosedures te volg.

Mnisi sê die diensverskaffers was veronderstel om verskillende materiale te voorsien en af te lewer om elektrisiteit aan 206 huishoudings te installeer, asook om verskillende voorrade vir opgraderings in die omgewing te lewer. Hierdie dienste is nooit gelewer nie. Dit het glo die munisipaliteit omtrent R2 miljoen uit die sak gejaag.

Malgas en Nkili is R30 000 borgtog elk toegestaan en sal na verwagting weer op 5 Oktober in die hof verskyn.

Intussen is ʼn 40-jarige sakeman Dinsdag in die Palm Ridge-handelshof in Ekurhuleni borgtog van R50 000 toegestaan. Deon Pillay staan tereg op aanklag van bedrog nadat hy glo miljoene van die Stad Johannesburg gesteel het.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, sê Pillay het as die besturende direkteur van die maatskappy Esizwe Technology CC na bewering in Februarie 2018 vervalste fakture vir kantoorrekenaars van ongeveer R7,5 miljoen aan die Stad Johannesburg uitgereik.

Volgens Mulamu het Pillay glo die rekenaars in sy besit gehou en nie per faktuur aan die Stad verskaf nie.

Die Valke in Johannesburg het Pilllay Maandagmiddag in sy woning in Bassonia in hegtenis geneem oor die bewerings van bedrog en diefstal.

Pillay sal na verwagting weer op 5 Oktober in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johanncb ·

Sal ons ooit suksesvol wees om bedrog uit te roei? Dit is nou die ergste nóg!

christo ·

Die pad is nou oop vir die twee om deel van die ANC binnekring te word. As jy die korrupsie toets slaag en die nuusblaaie se opskrifte haal, is jy reg vir iets groter in die regerende party. Wat ‘n aanwins!

Is jy seker? ·

So plak hulle ‘n pleister op ‘n kanker pasïent…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.