Voortrekkermonument ‘word lewend’ tydens nagtoer

“Hierdie is nie my oorlog nie en steeds het ek alles verloor. Hardloop my kind, hulle is op ons, hardloop, maar die duiwel haal jou in, hulle steek mens en wa aan die brand. Die desperate geskree na hulp weergalm nou nog in my kop, bloedveld regoor die landskap lê kinders soos koring gesaai, afgemaai, flenters, verwoes. Ou mense vroumense, kalles en kinders assegaai so diep soos geloof self deur klein lyfies gedwing.”

Die woorde kom uit ’n monoloog uit die Gelofteblyspel, waarvan Jannes Erasmus die skrywer en regisseur is, en wat deur die Voortrekkermonument se eie akteur Karla Hoogendoorn opgevoer is.

Dit was maar een van die hoogtepunte tydens die eerste eksklusiewe nagtoer wat deur die baken van hoop, die Voortrekkermonument, aangebied is. Altesaam 35 toergangers het die unieke geleentheid bygewoon.

Tydens die monoloogopvoering van hierdie hartroerende toneel by die friespaneel wat die Slag van Bloukrans uitbeeld, het toergangers duidelik na hul asems gesnak en moes hulle teen die trane baklei. Altesaam 532 Voortrekkers is in die nag van 16/17 Februarie 1838 vermoor, van wie 185 kinders was.

Die toer, waar al die friespanele deur beligting werklik lewend word, is deur Charles Rademeyer aangebied en die toergangers het met lof oor die aanbieding gepraat.

Christiaan Jordaan, wat die rol vertolk van Sarel Cilliers, het die gelofte by kanon Grietjie afgelê, net soos Cilliers gedoen het in die oploop van die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.

Toergangers sê dit is vir seker een van die beste ondervindings wat hulle gehad het oor hoe die geskiedenis oorgedra en aangebied word.

“Dit is my eerste keer ooit by die Voortrekkermonument en wat ’n ervaring. Die opvoering van die vrou (Karla) was net hoendervleis. Sy het dit so goed gedoen, dit het gevoel of ek by Bloukrans is. Mens kan nie glo hoe wreed dit was nie,” sê die 18-jarige Tiané Smit.

Bronwyn Swanepoel (16) en haar broer Rogan (19) kon nie uitgepraat raak oor die beligting en hoe dit die friese “lewend gemaak” het nie.

“Dit is ’n heeltemal ander ervaring as wat ek ooit by die monument gehad het. Ek het meer van die monument gesien as wat ek ooit gesien het. Ek speel more netbal en ek gaan al my vriende sê hulle moet kom op die volgende nagtoer,” sê Bronwyn.

“Dit is heeltemal anders om dit te lees in ’n boek as om dit te beleef. Ek het vanaand in ’n uur en ’n half meer geleer as wat ek in my hele hoërskoolloopbaan geleer het oor dié geskiedenis,” sê Rogan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Riette ·

Dit klink na ‘n belewenis. Dankie dat die jeug ook so belangstel in ons geskiedenis.

George ·

Tog wil die afrikaner die oranje wit en blou vlag aanbid, alhoewel die UJ daar op is, wat direk verantwoordelik is vir 1000de vroue en kinders se dood.

OU SAAR ·

@George…
Ek verstaan jou punt. Die Oranje, Wit en Blou beteken simbolies vandag heeltemal iets anders vir die Suid Aftikaner.
Hoeveel onskuldige vrouens en kinders en plaasboere is al onder die huidige regering om die lewe gebring…?
Het jy al so daaraan gedink?

Papsak ·

Dankie vir almal wat nog belang stel in ons geskiedenis dit sal onsin bly die monument is onsin nou wie het nou baklei vir die land wie se lewens het gegaan vir die land wie se bloed het gevloei onsin nou se my nou is die land dan nie ons land nie hoe nou dan se hulle ons moet pad gee ek sal is my land is my ou landsvlag ek sal dtaan vir SA klaar mooi beeld wie geval het vir die land baie dankie met trots gese ?????

Gaitsigubib ·

George ek stem so baie saam met jou, ek is altyd jammer wanneer dit nie geplaas word nie. Net soos met sport wat aanbid word, word simbole van die ou SA ook dikwels aanbid. Ek weet jy hou dalk nie daarvan nie, maar regte afrikana le my baie na aan die hart. Dit is egter vir my betekenisloos as mens God nie daarin ken nie. Die voortrekkers se geskiedenis is onlosmaakbaar van hul godsdiens. Dis regtig jammer dat jare se valse propaganda n verkeerde beeld van die voortrekkers geskep het. Ek is verder bly dat die voortrekkers se verlede aan ons kinders vertel kan word, want in die skool kan hulle nie daarvan leer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.