Russel Meiring, woordvoerder van die ER24, het gesê die botsing het sowat 5 km buite Middelburg plaasgevind.
“Paramedici het teen 10:40 op die toneel aangekom waar drie vragmotors en tien motors die hele pad blokkeer het.” Volgens Meiring het talle van die motors omgeslaan tydens die botsing.
Meiring het gesê twee mense het ernstige beserings opgedoen terwyl ʼn derde persoon slegs geringe beserings opgedoen het. “Paramedici het die beseerdes op die toneel behandel voordat hulle na ʼn hospitaal in Middelburg geneem is vir verdere mediese sorg.”
Volgens Meiring het die bestuurder van die vragmotor glo beheer verloor waarna die vragmotor in talle motors wat deel van die Swart Maandag-optog was ingeploeg het.
Heelwat optogte teen plaasmoorde het Maandag in verskeie dele van die land plaasgevind.
Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het gesê die bestuurder van die vragmotor is op die toneel in hegtenis geneem. Die polisie kon nie onmiddellik bereik word om die inhegtenisname te bevestig nie.