Vrou erken glo betrokkenheid by veeartsmoord

Dr. Freddie Malan. (Foto: Facebook)

Linda Venter het glo erken dat sy betrokke was by die rooftog op ʼn veeartspraktyk in Pretoria vroeër vanjaar waartydens die vooraanstaande veearts dr. Freddie Malan doodgeskiet is.

Venter (26) is steeds in aanhouding nadat sy sowat ʼn maand gelede in hegtenis geneem is vir haar beweerde betrokkenheid by ʼn sogenaamde roofbende wat onder meer op ʼn sjokoladefabriek in Boksburg toegeslaan het.

Die bekende private speurder Mike Bolhuis het aan Maroela Media bevestig dat alle sake teen dié roofbende sedertdien na ʼn ondersoekbeampte in Boksburg verwys is. Venter word in dié stadium aan tien roofsake gekoppel waarvoor sy in aanhouding is.

Luidens inligting vanaf Bolhuis se speurspan kon Venter nog nie om borgtog aansoek doen nie aangesien verskeie uitkenningsparades nog gehou moet word.

“Sy het in ʼn deel van haar getuienis erken dat hulle by ʼn rooftog in Pretoria was waar ʼn dokter geskiet is. Die rooftog het skeefgeloop en die dokter is in die voorval geskiet,” het Werner Koekemoer, hoofondersoekbeampte van Bolhuis se speurspan, gesê.

Venter is die enigste lid van die roofbende wat al in hegtenis geneem is. Die ander lede van die roofbende, vermoedelik Zimbabwiërs, is nou skoonveld. “Dit was ons bekommenis van dag een af,” sê Bolhuis.

Volgens Bolhuis is hy bekommerd dat slegs Venter in hegtenis geneem is en dat die hele bende nie eerder saam op een slag in hegtenis geneem is nie. “Ons het ná die rooftog by die sjokoladefabriek die strop al nouer om die groep begin trek.”

Maroela Media het vroeër berig die groep het gegroei tot ʼn sindikaat van meer as 30 ná die rooftog wat Malan se lewe geëis het. Hoewel die groep aanvanklik mediese instansies geteiken het, het hulle later op enige ondernemings voor die voet begin toeslaan.

“Ons sit met meer as 30 klagtes [waarby die groep moontlik betrokke is] wat tans in- of uitgeskakel moet word,” sê Bolhuis.

Hoewel die groep die groter Pretoria en Johannesburg geteiken het, is dit moontlik dat hulle ook in ander dorpe toegeslaan het, verduidelik Bolhuis.

Daar gaan dus binnekort ʼn nasionale versoek geplaas word waarin mense aangemoedig word om na vore te kom met voorvalle waartydens die groep se modus operandi uitgeoefen is.

Nader Bolhuis by 082 447 6116, Werner Koekemoer by 082 820 3680 of Tony Naidoo by 082 076 7574 om inligting aan te meld.

Lees alle berigte oor Malan se moord asook die roofbende op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

francois ·

Die ontydige dood van Dr Malan bly erg ontstellend en bly verskriklik tragies. Hy was ons hondekinders se absolute Hero gewees. Wel hy was ons Hero ook want hy het hulle so uiters goed behandel en gesond gemaak wanneer hulle dit nodig gehad het.

Linda Venter jy en jou kriminele trawante van Zimbabwe wat nou skoonveld is het bose dinge gedoen. Julle het onskuldige mense beroof en doodgemaak. Julle verdien niks goed oor julle pad nie.

Zorro ·

Dis altyd onstellend om te sien dat daar sulke mense in ons eie geledere is. Ek het nog nooit sulkes ontmoet nie en ek hoop ook nie dit gebeur ooit nie. Dis verder skokkend dat sommige vrouens is.

ProotGraat ·

Me Venter. Meng jou met die semels ne …? Obviously is jy te onnosel om te verstaan, hoop jy vrot in die tronk.

Cherokee ·

Weer diskriminasie teen die wit geslag! Vang net die enigste witte, wat tien teen een deur die spioenasie dienste daar geplaas is om die rowers te vang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.