Vrou ‘nooit gedwing om te lieg oor verkragting’  

Wilna Stander, maatskaplike werker by CMR-Noord. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“Om ʼn kind binne drie uur te breinspoel om in fyn besonderhede te lieg dat haar pa haar seksueel misbruik het, is onmoontlik.”

Só het Wilna Stander, ʼn maatskaplike werker by die Christelike Maatskaplike Raad in die noorde van Pretoria (CMR-Noord), vandeesweek aan Maroela Media gesê oor voortslepende bewerings dat sy (en ander maatskaplike werkers) Megan Raaths (22) destyds as negejarige gedwing het om te sê haar pa, Abrie, het haar verkrag. Hy dien tans lewenslange tronkstraf vir dié verkragting in die Zonderwater-gevangenis in Cullinan uit.

Stander meen Megan ly aan “seksuele akkommoderingsindroom”, wat onder meer behels dat ʼn slagoffer skuldig, hulpeloos en verantwoordelik vir seksuele wangedrag voel omdat hulle die oortreder liefhet en glo dat hulle van die oortreder afhanklik is.

“Ná soveel jaar is Megan steeds ʼn slagoffer van mense wat haar vir eie gewin uitbuit, manipuleer en misbruik. Ek voel verskriklik jammer vir haar,” het Stander gesê.

Die pa en dogter het hulle vroeër vanjaar tot die Konstitusionele Hof gewend in ʼn poging om sy skuldigbevinding tersyde te stel en vra ook dat die Kinderwet gewysig word om soortgelyke voorvalle te voorkom. Dié hofaansoek, wat nog nie aangehoor is nie, word deur Megan se ma en Abrie se eksvrou, Zwanet Kuhn, gesteun.

Stander gaan binnekort ʼn eedverklaring tot dié saak voeg aangesien sy in die hofaansoek daarvan beskuldig word dat sy Megan destyds beïnvloed het om teen haar pa te getuig.

Abrie het voorheen appèl teen sy skuldigbevinding in 2012 aangeteken en die appèlhof het die saak na die landdroshof terugverwys, waar Abrie se vonnis bekragtig is.

Megan was nooit ‘afgerig’ nie

Notas wat tydens Megan Raaths se assessering in 2009 gemaak is. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Nadat ʼn dokumentêre program, Onthul: My pa het my nie verkrag nie, op 10 Julie op kykNET uitgesaai is, het ʼn storm behoorlik om Stander se kop losgebars. Die dokumentêr is intussen verwyder, maar dit het reeds onherstelbare skade aan Stander se reputasie en dié van CMR-Noord aangerig. Volgens Stander se prokureur, Willie Spies van die firma Hurter Spies Ingelyf, sal ʼn lasteraksie binnekort deur Stander teen die betrokkenes ingestel word.

Megan, wat sedert 2012 aanvoer dat haar pa onskuldig in die tronk sit, is in 2009 deur ʼn maatskaplike werker van CMR-Noord na Stander, toe ʼn privaat praktiserende maatskaplike werker, vir ʼn forensiese assessering verwys nadat haar ma, Zwanet, ʼn eksplisiete skets van ʼn man en vrou wat seks het, in haar skooltas ontdek het.

Megan vertel in die dokumentêr dat sy ’n paar sessies met Stander gehad het, waartydens sy “herhaaldelik” gevra is wie die skets geteken het. Sy erken sy het na ’n ruk gesê dit was sy, iets wat sy vandag ontken. “Sy [Stander] het dit basies in my kop ingeprent, ek het haar begin glo en dit self begin sê,” vertel Megan in die uur lange dokumentêr.

Stander sê sy het Megan nie herhaaldelik gevra wie die skets geteken het nie, maar dat Megan dit later tydens die assessering aan haar genoem het.

Stander, wat haar notas en dokumentasie oor die jare gehou het, het vandeesweek aan Maroela Media verduidelik en gewys wat sy alles tydens haar enkele, drie uur lange sessie met Megan gedoen het.

“Ek volg ʼn internasionale voorgeskrewe model, bekend as die Michigan State Protocol, waartydens kliniese en forensiese tegnieke benut word om inligting op ʼn ouderdomstoepaslike wyse te bekom, sonder dat die kind voel daar word ʼn onderhoud met haar of hom gevoer. Hierdie tegnieke sluit ook spelterapie in. Megan is in ʼn kindervriendelike omgewing geassesseer en is nooit gedwing om enigiets te sê nie.

“Om die akkuraatheid en betroubaarheid van die inligting te toets, word verskeie tegnieke ingespan om sodoende nie net op die kind se mondelinge onthulling staat te maak nie. In Megan se geval het die inligting wat deur haar onthul is, deurlopend bevestig dat haar pa haar seksueel misbruik het.”

Stander, wat al meer as 30 jaar in die beroep werk, sê daar is geen manier dat sy Megan – of enige ander kind – sal kan dwing om inligting te verskaf waaroor nie die kind of Stander beskik nie.

Sy sê Megan se stelling in die kykNET-dokumentêr dat sy en ander maatskaplike werkers haar “afgerig” het om te sê dat Abrie die oortreder was, Megan se poging is om die skuldlas wat haar ma en moontlik ook ander familielede op haar plaas, nou op kundiges te projekteer. Baie van Megan se stellings in dié dokumentêr blyk volgens Stander stellings te wees wat aan Megan voorgeskryf is om te sê.

“Megan was destyds al bekommerd oor die gevolge van haar onthullings, omdat sy positiewe sowel as negatiewe gevoelens teenoor haar pa gekoester het, en nie wou hê hy moes tronk toe gaan nie.”

Stander verduidelik wat sy in 2009 tydens haar assessering van Megan Raaths gedoen het. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Sy het Megan slegs by een geleentheid geassesseer en ʼn verslag met haar bevindings saamgestel, wat na die maatskaplike werker terugverwys is. Mediese toetse is ook gedoen wat bevestig het dat Megan gepenetreer is.

Die enigste ander kere wat Stander sê sy met Megan ten doen gehad het, was op 28 Oktober 2009 toe ʼn vrouepolisiebeampte Megan by Stander se kantoor ontmoet het. Luidens ʼn maatskaplike werker, Elaine du Toit, se verklaring het Megan self aangedring om haar polisieverklaring op 1 Desember 2009 by Stander se tuiskantoor af te lê.

Stander sê Megan het boonop tydens ʼn “onthullingsproses” in die jare ná haar evaluering ook aan ander maatskaplike werkers onthul sy is deur haar pa seksueel misbruik, en baie ander inligting verklap wat nooit aan Stander onthul is nie.

Maroela Media het van dié verklarings onder oë gehad.

Stander meen sy – asook haar kollegas in die maatskaplike werk- bedryf – sal boonop geensins daarby baat om kinders te “breinspoel” of af te rig om valse onthullings te maak nie.

“Ons is in hierdie beroep omdat ons werklik vir kinders omgee en ʼn roeping het om hierdie werk te doen.”

Stander sê sy het op aanbeveling van haar destydse regsverteenwoordiger nie kommentaar vir kykNET se dokumentêr gelewer nie, aangesien dit teen haar etiese kode as maatskaplike werker ingedruis het om inligting wat in vertroulike omstandighede aan haar meegedeel is, met die media te bespreek.

Nog sake teen CMR-Noord

Die regering het in Maart vanjaar sy subsidie aan CMR-Noord onttrek en alle statutêre sake van CMR-Noord weggeneem en aan die departement van maatskaplike ontwikkeling oorhandig.

Dít volg nadat Abrie se aansoek in die Konstitusionele Hof gebring is. Drukgroepe en veral beskuldigdes in kindermolesteringsake het verskeie soortgelyke aantygings teen CMR-Noord gemaak.  Dié sake word hoofsaaklik gedryf deur Abrie se regsverteenwoordiger, Joshua Lazarus van Shapiro en Ledwaba Ingelyf. Hy is glo ook Megan se werkgewer.

Verskeie maatskaplike werkers van CMR-Noord is in die proses afgelê. CMR-Noord het ʼn dringende hofaansoek teen die departement in dié verband by die hooggeregshof ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Boet ·

So kom die waarheid uit. Dankie Wilna en die CMR vir die goeie werk.

Prikkie ·

Hoe weet jy haar weergawe is die waarheid? Kom ons wag maar tot die hof hopelik eendag die waarheid na vore bring.

Frank John ·

Hoe oud was sy, dit kan dan maklik in haar kop ingebring word dat dit met haar gebeur het al weet sy selfs nie wat en of dit gebeur het nie. Maar as sy gepenetreer was het iemand dit gedoen, as dit nie die pa was nie, wie dan?

Carl ·

Nadat alles korrek hanteer is, kom daar tog twyfel as die kind na die tyd beweer dat sy nie verkrag is nie. Het sy destyds gejok of jok sy nou? Is hier dalk n onskuldige man, lewenslank in die gevangenis.

blia ·

Ek weet darem nie… so die bandopnames van daardie tyd wat uitgekom het is dan ook vals? Ek dink die dokumentêr was baie deeglik gedoen, en aantuigings en ongeruimdhede by die CRM was goed ondersoek en bewerings was gestaaf deur ander getuies en /of betrokkenes en deskundiges.

Annie Webb ·

So die prokureur wat nou die saak teen die CMR dryf, is MEGAN SE WERKGEWER? En hulle voer hulle smeerveldtog teen die CMR in die openbaar op TV? En Kyknet is bereid om dit uit te saai klaarblyklik sonder om ooit die CMR hulle kant van die saak te vra? Tipiese sensasionele soort gemors wat Kyknet en die mediamaatskappy wat hulle besit, tans opdis om ‘n sekere soort kyker te trek. Hulle “nuus” lyk deesdae ook so. Kyk maar na hulle moedermaatskappy se grootste verkoper, die Daily Sun, dan weet jy waarmee jy te doen het. Ek kyk of lees NIKS uit daardie stal nie, met apologie aan “stalle”!
HOEKOM sal maatskaplike werkers ‘n kind in ‘n rigting wil dwing? Hierdie duidelik wanaangepaste gesin soek GELD, soos in skadevergoeding. Dankie aan Maroela Media vir die soberheid en gesonde verstand wat julle openbaar. STERKTE aan die CMR.

Marcello ·

Sy kan maar sê net wat sy wil, sommige Maatskaplike Werkers gee NIKS om vir kinders nie. Ek weet persoonlik van ‘n geval waar die kind weggeneem is van die Ouer, ondat die kind woede uitbastings gehad het, i.pv. om hom na ‘n plek te stuur waar hy Sielkundige Behandeling kon ontvang, is hy na ‘n Instansie in Kaapstad wat hom soos ‘n Krimineel hanteer het gestuur. Nodeloos om te sê: Hy het soos ‘n wrak teruggekeer. Is dit regverdige oordeel. My huishulp het haar kleinkind gered van uithongering en “abuse” en wat was die uitslag, sy was toegesluit vir ‘n naweek. (Nadat die Welsyn die kind in haar sorg geplaas het, het hulle gedurende die dag gekom, en hom uit haar sorg verwyder sonder dat hulle haar in kennis gestel het). Sy het ‘n saak gemaak, en dit het 3 jaar geneem voordat sy haar onskuld kon bewys, sy was elke maand in die Hof, en het elke maand die dag se loon kwyt gewees.

Elize ·

Van die begin af gedink hier skuil meer hier agter. Dink eerder hulle moet die ma vasvat. Dit is sy wat onder die invloed van pille en dinge haar kind beinvloed het. Wat sou die maatskaplike werker daarby gebaat het? Dis die ma wat wou wraak neem en baie meer tyd by die kind spandeer het om haar voor te se.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.