Dogter onthul ‘my pa het my nie verkrag’

Megan Raaths

Dogter onthul ‘my pa het my nie verkrag’. (Foto: skermgreep)

’n Storm het in 2009 om Abrie Raaths se kop losgebars toe ’n suggestiewe en ontstellende skets in die skooltas van sy dogter, Megan Raaths (9), gevind is.

Dit het daartoe gelei dat Abrie op vier aanklagte van verkragting en twee van seksuele aanranding van sy dogter skuldig bevind is. Hiervoor is hy vier keer lewenslank tronkstraf opgelê.

In ’n skok-dokumentêr, Onthul: My pa het my nie verkrag nie, wat Sondag (10 Julie) uitgesaai is, het kykNET dié saak ondersoek, want Megan veg nou verbete dat haar pa vrygelaat moet word. In die dokumentêr beweer sy onder meer dat sy deur die maatskaplike werker Wilna Stander aangesê is om haar pa van haar verkragting te beskuldig.

Die dokumentêr is intussen op versoek van Stander se regspan onttrek, aangesien dit volgens die regspan verskeie lasterlike bewerings teenoor Stander bevat het.

Die pa en dogter het hulle vroeër vanjaar tot die Konstitusionele Hof gewend in ʼn poging om sy skuldigbevinding tersyde te stel en vra ook dat die Kinderwet gewysig word om soortgelyke voorvalle te voorkom. Dié hofaansoek, wat nog nie aangehoor is nie, word deur Megan se ma en Abrie se eksvrou, Zwanet Kuhn, gesteun.

Zwanet het destyds angsbevange vir Abrie gebel vir raad nadat sy die eksplisiete skets van ʼn man en vrou wat besig is om seks te hê, in Megan se besit gevind het. Abrie en Zwanet was toe al vir ʼn rukkie geskei.

Sy raad was om die skets saam te neem na die staande afspraak wat hulle die volgende dag by hul sielkundige gehad het.

Leon Nel, ’n private ondersoeker wat intussen deur Megan aangestel is om ’n oudit van die saak te doen, se mening oor dié raad is dat iemand wat bedreig sou wees deur so ’n skets, nie die aanbeveling sou maak om dit na ’n sielkundige te neem nie.

Die sessie by die sielkundige het egter gelei tot die verwysing na ’n maatskaplike werker, Wilna Stander. Sy het in daardie stadium as ʼn privaatpraktiserende maatskaplike werker gewerk. Stander is tans ʼn maatskaplike werker vir die Christelike Maatskaplike Raad in die noordelike provinsies (CMR-Noord). Stander is aanvanklik genader om kommentaar, maar is deur haar destydse regsverteenwoordiger afgeraai om oor die saak te praat, aangesien dit moontlik ‘n invloed op Abrie se hangende saak kan hê.

Megan vertel in die dokumentêr dat sy ’n paar sessies met Stander gehad het, waartydens sy herhaaldelik gevra is wie die skets geteken het. Sy erken dat sy na ’n ruk gesê het dat dit sy was, iets wat sy vandag nie as die waarheid beskou nie.

“Sy het dit basies in my kop ingeprent, ek het haar begin glo en dit self begin sê,” vertel Megan in die uur lange dokumentêr.

Marita Rademeyer, ’n kliniese sielkundige, sê in die dokumentêr dat ʼn mens veral met kleiner kinders versigtig moet wees.  ʼn Kind sal na die derde of vierde keer wat dieselfde vraag gevra is, besef dat hul eie antwoorde nie dié is wat die volwassene wil hoor nie.

“Teen die vierde keer wat jy die vraag vra, gaan jy dalk ’n ander antwoord kry.”

Rademeyer beklemtoon later in die dokumentêr dat vrae in ʼn saak soos hierdie nie in ʼn leidende wyse aan kinders gevra moet word nie.

Nel vertel in die dokumentêr dat daar verskeie aanhalings van Megan in Stander se assessering is. Sy het egter geen notas van die aanvanklike assessering ingedien tydens die oorspronklike verhoor nie. Daar is ook nie ’n stemopname van Megan se sessies met Stander gemaak nie.

Megan het reeds voor die uitslag van die verhoor begin sê dat die beweringe wat tydens die sessies gemaak is, nie waar is nie.

In ’n klankgreep wat deur Zwanet verskaf is en op 2 Februarie 2013 opgeneem is, verduidelik ’n histeriese Megan aan haar ma dat die beweerde verkragtings nooit plaasgevind het nie.

“Mammie ek kan nie help nie! Tannie Wilna het gesê dit was nie ek nie dit was hy. Ek het gesê, nee dit was nie hy nie en hulle het aangehou en aangehou sê dit was hy… Toe weet ek nie meer wat se kant toe om te gaan nie.”

In ‘n omvattende onderhoud wat Maroela Media later met Stander gevoer het, sê Stander dat sy onmoontlik in ‘n drie-uur-lange-sessie vir Megan sou kon breinspoel. “Ek volg ʼn internasionale voorgeskrewe model, bekend as die Michigan State Protocol, waartydens kliniese en forensiese tegnieke benut word om inligting op ʼn ouderdomstoepaslike wyse te bekom, sonder dat die kind voel daar word ʼn onderhoud met haar of hom gevoer. Hierdie tegnieke sluit ook spelterapie in. Megan is in ʼn kindervriendelike omgewing geassesseer en is nooit gedwing om enigiets te sê nie.

“Om die akkuraatheid en betroubaarheid van die inligting te toets, word verskeie tegnieke ingespan om sodoende nie net op die kind se mondelinge onthulling staat te maak nie. In Megan se geval het die inligting wat deur haar onthul is, deurlopend bevestig dat haar pa haar seksueel misbruik het.” Sy sê Megan het in die jare daarna ook aan ander maatskaplike werkers onthul dat haar pa haar seksueel misbruik het.

Megan voer verder in die dokumentêr aan dat haar ma deel was van die span wat haar voorberei het op wat sy in die hof moes getuig.

Sy het vrae en antwoorde gekry na haar sessies met die maatskaplike werker wat sy moes leer asof dit vir ʼn toets was, iets wat haar ma haar mee gehelp het. Zwanet vertel self dat sy tuis dié vrae aan Megan gestel het, waarop Megan sekere antwoorde moes gee.

Megan sukkel vandag om haar ma te vergewe oor die aandeel wat sy in die hofsaak gehad het.

“My ma is eintlik ʼn goeie persoon, maar ons het nie die ma-dogterverhouding wat jy sou kies om te hê met jou ma nie. Ek is nog lief vir haar, ek is ook nog kwaad vir haar. ʼn Mens kan ook nie vir altyd kwaad bly nie, maar dit gaan vir my moeilik wees om haar uiteindelik te vergewe.”

In Nel se 2021-videogreep verduidelik Zwanet dat sy telkemale gedreig is met haar kinders wat van haar af weggeneem gaan word om in ʼn plek van veiligheid geplaas te word.

CMR-Noord het egter in e-pos-korrespondensie met kykNET gesê dat hulle nie dié soort dreigemente maak nie.

Nel het tydens sy ondersoek na CMR-Noord en die Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR) uitgereik om sodoende vir hulle toegang tot die getuienisse teen hul werknemers te gee, maar het geen antwoord daarop ontvang nie. Toegang tot dié getuienis sou vir hulle die geleentheid bied om interne ondersoeke van stapel te stuur om gepaardgaande aksiestappe teen die betrokke werknemers te doen.

Dr. Botha van Aarde, die uitvoerende hoof van die KMDR, voer egter aan dat die KMDR glad nie deur Nel genader is nie. Hy het ook verduidelik dat hy verstaan dat die CMR ook nie enige amptelike klagtes ontvang het nie.

Antoinette Slabbert, senior joernalis by Rapport het in die dokumentêr verduidelik dat sy ’n hele paar gesprekke met ds. Danie Janse van Rensburg, voorsitter van CMR-Noord, gehad het.

“Ek het dit regtig op sy hart probeer druk dat ons ook bekommerd is en ek het amper by die CMR gepleit om hul kant van die storie te vertel.”

ʼn Skokonthulling is gemaak toe Nel vertel dat daar vandag 50 klagte soortgelyk aan dié van Megan teen CMR-Noord is.

Daar is talle pa’s wat op ʼn anonieme wyse aan die dokumentêr deelgeneem het om hul ervarings met Stander en CMR-Noord te deel.

Hul lewens is glo ook onherroeplik verander ná die ingryping van CMR-Noord.

In die dokumentêr het Megan ʼn telefoniese gesprek met haar pa, Abrie, wat hoopvol is dat hulle daarin sal slaag om te bewys dat hy onskuldig is. Sy vertel ook van ʼn onlangse kuier wat sy saam met haar stiefma saam met hom in die Zonderwater-gevangenis in Cullinan gehad het.

Dit was die eerste keer in 13 jaar wat sy hom weer gesien het en sy beskryf hom as die liefdevolle pa wat sy onthou. Sy hoop om ʼn verhouding met hom te kan bou.

Lees die volledige onderhoud met Wilna Stander hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Sandra ·

Dis sulke dinge wat ek nie kan begryp nie. Nou is ‘n pa se hele lewe vernietig. Wie wou wat daardeur bereik? ‘n Gesin is vernietig. Is dit die maatskaplike werker wat onbekwaam was?

Frank ·

Dink aan Cele die hoed. Dieselfde tipe mag en vervolgingswaansin

Miena ·

Nee dis nie al nie – dis Zwanet Kuhn (nee de Lange – Raaths) wat die grootste negatiewe invloed in die saak gehad het

Wiehan ·

So word sogenaamde Maatskaplike werkers en Ma’s se woorde altyd geglo. Ek het ‘n vriend gehad wie se vrou hom een Vrydag aand slaap pille ingegee het, toe na haar lover toe is en eers die volgende oggend vol “lovebites” terug gekom het. Toe hy haar oor die “lovebites” konfronteer toe vlieg sy by die huis uit ek gaan le ‘n klag van verkragting teen hom. Na maande in die tronk toe trek sy ewe skielik die saak terug. Na ‘n groot gesukkl en menige hof sake word hy vry gelaat. Die uit einde is dat hul geskei is en hy die kinders gekry het, maar hy’t sy werk, kar en huis verloor. Dis nou sogenaamde geregtigheid.

Frank ·

Die NG en sulke “christelike” maatskaplike werkers is die ergste. Ek het klag teen mishandeling teen iemand gele met 2 ander klaers, en 80% van die maatskaplike werker se verslag het oor MY gegaan terwyl nie eens 5% oor die mishandeling van die minderjarige gegaan het nie. Hoofkantoor het net skouers opgehaal en hulle skelm maatskaplike werker ondersteun, al kon ek daardie verslag stuk vir stuk uitmekaar skeur en bewys dit is verdraai en vals en botweg leuens.

Andreas ·

Toemaar, die staat se maatskaplike werkers is nog erger.
Ek het oor die tyd maar agtergekom dat daar in baie gevalle wolwe in skaapsklere is wat graag liefdadigheid voorhou.

Miena ·

Jy praat nou waarheid. Ek het by DOJ&CD: Landdroskantoor in die Kinderhof gewerk en self gesien wat gaan aan, wie se wat en wie kry hul sin.

Ettienne ·

Maatskaplike werkers is onbevoeg om evaluasies van jong kinders te doen. Hulle werkwyses is onwetenskaplik en nie klinies verantwoordbaar nie.

Elize ·

Wie kry wat hier uit? Betaal iemand die maatskaplike werker? Kan ‘n ma se wraak so erg wees?

Miena ·

Abrie kry die seerste seer hier uit. Niemand het enigsins finansiele gewin gehad nie. Zwanet se wraak was iets verskriklik teenoor Abrie asook haar aangenome seun – Jacobus, dat sy dit teenoor die mense baie naby aan haar uitgewoed het (haar ouers, 2-lingsusters, vriendin (ek self) e.a. vriende, skoonfamilie ag die lys gaan aan)

Miena ·

En niemand anders – behalwe Abrie- kry meer seer as die ouma & oupa’s van Megan nie. Beide kante is platgeslaan. Jare na die begin van die hele ding moet hulle nou weer als van vooraf beleef en herleef. My empatie skaar ek saam die groot-ouers.

Mimi ·

My hart breek, ek kan net dink hoe die kind of nou vrou voel maar daardie pa, die man, die nagMarie, vrese, trane, hulpeloosheid wat hy moes voel en deur gaan! Ek en my man gaan deur iets soortgelyk waar my eie dogter na sy my man ontmoet het ‘n vreeslike siek obsessie ontwikkel het met hom en vreeslike pornografie oor “step daddy’s” gaan Google het vir maande en haar boeties my vertel hoe sy haar self met sy vibrating skeermes bevredig en my jongste langs wie sy slaap vertel van wat sussie in die bed doen skielik om draai en sê my man het haar verkrag toe ek haar WI fi af sit en haar verbied het om iewers te gaan. Dit het ons almal se lewens erg skade gedoen en ons is nog steeds besig met hof sake want daars nie genoeg bewyse nie en die DNA laboratory is 2 jaar agter, my jongste het alles aanskou waar hulle haar pappa weg vat en sukkel vreeslik met haar emosies en het erg onttrek en rebeleer sys 9 en haar suster wat die dinge gesê het is 15 ons is verpletter

Miena ·

Ek wil nogsteeds weet wat gaan met die ma gebeur omdat sy meineed gepleeg het? Van die begin af, deur die hofsaak, na die tyd tot onlangs toe? Leon Nel se duidelik vir haar sy moet mooi dink voor sy antwoord maar die antwoord strek nie in ooreenstemming met verskeie van die bewerings nie. Gaan die reg sy gang gaan met haar ook?

Pietertjie ·

Dis presies om hierdie rede dat ek dit nie eens kan waag om in dieselfde omgewing as my stiefdogter te wees nie, terwyl my stiefseun ‘n fantastiese verhouding met my hele familie het. My stiefdogter is kwaadwillig ingeprent dat ek vir haar ouers se gebroke huwelik verantwoordelik is. Dis natuurlik van alle waarheid ontbloot.

Annemarie ·

So hartseer en skandelik. Saak word oorgedra vanaf cmr noord na social development pta middestad. Net so pateties. Moet daar eers iets met 4 kinders gebeur en op voorblad van koerante verskyn voor daar opgetree word en nodige aandag te gee aan die saak. Dis presies wat gaan gebeur.????????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.