Vrou sterk goed aan ná kameelperdaanval

Nicole, haar verloofde Jason, en hul kinders, Kaia en Kayden (4) (Foto: Verskaf)

Nicole Panos sterk steeds in die hospitaal aan ná ʼn kameelperd haar en haar twee kinders onverwags in die Kuleni-wildreservaat in Hluhluwe, KwaZulu-Natal aangeval het. Die voorval het die middag van 19 Oktober 2022 plaasgevind.

Nicole en Jason Coetzer se 16 maande oue dogtertjie is in die voorval oorlede.

Hul vierjarige seuntjie Kayden het verskeie skedelbreuke opgedoen, maar hy is reeds uit die hospitaal ontslaan.

Christa Panos, Nicole se ma, het Saterdag aan Maroela Media gesê dit gaan goed met Kayden. “Dit lyk nie of hy enige oorblywende simptome het nie. Hy is baie geheg aan sy pa met sy ma in die hospitaal en hy mis sy sussie.”

Nicole het ernstige rugbeserings opgedoen tydens die voorval. Sy het ook frakture aan haar kakebeen, ribbes en een van haar arms opgedoen met skade aan haar lewer en een van haar longe. Sy moes ook bloedoortappings kry.

Christa sê Nicole het reeds twee groot operasies agter die rug en albei prosedures het goed afgeloop. Sy is reeds uit die intensiewesorgeenheid geskuif. “Sodra sy sterk genoeg is, sal sy na die rehabilitasie-eenheid oorgeplaas word. Sy het nog steeds geen gebruik van haar bene of voete nie.” Volgens Christa kan die dokters nog nie met sekerheid sê of die skade permanent sal wees nie, omdat rugbeserings van individu tot individu verskil.

“Mens is altyd bekommerd as jou kinders op die pad gaan wees; mens dink nooit só iets kan op jou voorstoep gebeur nie.”

Nicole en haar kinders het die betrokke dag op ’n voetpad tussen hul en haar ouers se huis, wat op die wildreservaat geleë is, gestap toe die voorval plaasgevind het. Dit is ʼn pad wat hulle en die personeel van die reservaat elke dag gebruik. As ʼn gekwalifiseerde gids het Nicole alle normale protokol vir ontmoetings met diere gevolg. Hulle het nie die kameelperde genader nie en die diere was op ’n veilige afstand. Hulle was reeds verby die diere toe die kameelperdkoei van agter af gekom en hulle aangeval het. Dit was ʼn onverwagse aanval en daar was ook nie ʼn kalfie in die omgewing nie.

Christa sê Nicole doen asemhalingsoefeninge saam met die fisioterapeut asook oefeninge vir die beweging van haar regterhand. Sy moet ook so lank as wat sy kan in ʼn stoel probeer sit.

ʼn Roudiens vir Kaia sal gereël word sodra Nicole ook sterk genoeg is om dit te kan bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.