ʼn 33-jarige vou en ʼn vermeende huurmoordenaar verskyn Woensdag in dorp se landdroshof in verband met ʼn polisiebeampte van Ladysmith in KwaZulu-Natal se onlangse “goed beplande moord”.
Kapt. Thulani Zwane, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die beampte, ao. Bongani Sibusiso Xaba, en sy vrou het op 23 Mei in hul voertuig op die Collingspas in Elandslaagte gery. Die vrou voer aan die voertuig het onklaar geraak en haar man het stilgehou om ondersoek in te stel. “Twee mans het uit bosse langs die pad gespring en Xaba aangeval en erg aangerand. Twee selfone is glo tydens die beweerde voorval gesteel,” het Zwane gesê.
Xaba is ná die aanval na ʼn hospitaal gejaag waar hy aan sy beserings beswyk het.
Die Elandslaagte-polisie het die voorval ondersoek en bepaal die vrou het ʼn 29-jarige man gehuur om haar man te vermoor. “Die beweerde aanval was baie goed beplan. Die huurmoordenaar is Maandag in Roosboom in hegtenis geneem, en Xaba se vrou is in Steadville aangekeer. Toe die vrou in hegtenis geneem is, is die ‘gesteelde’ selfone in haar besit gevind,” het Zwane bygevoeg.
Albei verdagtes word van moord aangekla. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie. Die verdagtes se name kan eers bekend gemaak word nadat hulle in die hof verskyn het.
Was ook nie so goed beplan nie baie foute is gemaak……………………………