Vrou vas wat glo familielede vir versekeringsuitbetalings vermoor

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

’n Intelligensie-gedrewe operasie het Donderdagoggend tot die inhegtenisneming van ’n 49-jarige vrou gelei wat vermoedelik haar familielede vermoor het om voordeel uit versekeringseise te trek.

Die verdagte is in Centurion opgespoor en tydens ʼn verwyderingsoperasie deur die polisie in samewerking met ʼn versekeringsmaatskappy in hegtenis geneem.

Sers. Keshi Mabunda en ʼn span speurders het die afgelope twee maande aan hierdie saak gewerk ná hulle ʼn wenk van familielede van die verdagte ontvang het. Mabunda is ingespan om ondersoeke aan die gang te sit weens sy kundigheid om soortgelyke sake op te los.

“Deur ontleding en insameling van bewyse, insluitend die opgrawing van ʼn liggaam, kon die span sy jongste verdagte met die eerste fokus van die saak koppel,” sê brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder.

“Die moord wat aanvanklik as ʼn ‘natuurlike dood’ verklaar is, het in Mmabatho in Noordwes plaasgevind toe ʼn familielid [vrou] in Maart vanjaar onder geheimsinnige omstandighede gesterf het.

“Ondersoeke toon dat die verdagte op ʼn bedrieglike wyse versekering namens haar familielid – voor haar moord – uitgeneem het,” sê Mathe.

“Die span ondersoek ook die dood van die verdagte se seun wat in Julie vanjaar dood is, haar man wat in 2016 gesterf het en haar twee dogters wat in 2015 en 2005 dood is.

“Die verdagte het volgens ondersoeke groot bedrae geld deur haar aktiwiteite in haar sak gesteek,” sê Mathe.

Sy sal na verwagting Vrydag op ʼn aanklag van moord in die Mmabatho-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Ek kan die persoon se doen en late verstaan. Daar is seker maar in elke familie ‘n lid wat jy van die gras af wil maak. Die vraag is hoe jy dit doen. Die antie het te gulsig geraak. Sy gaan los kom of ‘n ligte vonnissie kry. Ek sien tien jaar tronstraf opgeskort vir vyftien jaar met ‘n opgeskorte bykomde boete van tweeduisend Rand vir vyf jaar.

Delia ·

Jy kan dit verstaan??? Ek het nie een so n familielid nie. Hou nie van is een ding, masr moord. Nee Chris..jou familie moet dalk maar versigtig wees vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.