Vrou vermis, eksman ondervra

Die vermiste Desiree Baartman. (Foto: Verskaf)

Oos-Kaapse polisiespeurders is op soek na ’n vrou van Bethelsdorp wat al langer as ’n week vermis word. Desiree Baartman (57) se eksman is tans in aanhouding vir ondervraging.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê Baartman is verlede Vrydag (9 Junie) vir die laaste keer gesien. Sy is na bewering dié dag omstreeks 10:00 by haar huis in Nagelstraat weg en het nog nie weer teruggekeer nie.

Daar is aanvanklik navraag gedoen by familie en vriende by wie Baartman gereeld gaan kuier. Ook hulle het haar nog nie weer gesien of van haar gehoor nie en Baartman is Woensdag (14 Junie) as vermis aangemeld.

Baartman se eksman het haar die betrokke dag as vermis by die polisie op Bethelsdorp aangemeld.

Daar word beweer dat die vervreemde egpaar na hul egskeiding steeds saam gewoon het.

Janse van Rensburg sê forensiese deskundiges het die afgelope naweek die egpaar se huis vir leidrade deursoek. Baartman se eksman is intussen op grond van ’n voorlopige ontleding in aanhouding geplaas vir ondervraging.

Daar is ook op ’n vuurwapen beslag gelê.

’n Saak van poging tot moord word in dié stadium ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.