Vrou wat baba steel, lank tronk toe

Foto ter illustrasie. (Argieffoto: Unsplash)

ʼn 34-jarige vrou is vandeesweek 12 jaar tronkstraf opgelê vir die ontvoering van ʼn week oue babaseuntjie naby Jozini in KwaZulu-Natal in 2011.

Die vrou het in die Empangeni-streekhof verskyn en skuldig gepleit. Sy het aan die hof gesê dat sy die kind gesteel het omdat sy lief is vir kinders en geen kinders van haar eie het nie. Sy het gesê dat sy van plan was om die seuntjie te hou.

Die saak het eers vyf jaar later aan die lig gekom toe die skuldige en haar kêrel uitmekaar is en vrae gevra is oor wie die kind se ouers is.

Die skuldige het aan die hof gesê dat sy destyds na die baba se ma se huis is nadat sy gesien het daar hang babaklere op die wasgoeddraad buite die huis.

Die ma van die baba was in daardie stadium net 16 jaar oud en het aan die skuldige gesê dat haar ouers in Johannesburg is. Die skuldige het toe vir die ma gejok en gesê dat sy vir die regering werk en mense help wat nie ID’s en geboortesertifikate het nie om toegang tot finansiële hulp van die staat te kry.

Die beskuldigde het die ma toe oortuig om haar toe te laat om haar en die baba na die Jozini-sakesentrum te neem om vir die nodige dokumente aansoek te doen.

“Daar aangekom, het die skuldige aan die jong ma geld gegee om kos te koop en haar na die naaste winkel gestuur. Terwyl die ma in die winkel is, het die skuldige met die baba gevlug,” lui ʼn verklaring deur die hoof van openbare vervolging in KwaZulu-Natal. Sy het die kind na Johannesburg geneem.

In ʼn verklaring wat voor die hof gedien het, het die baba se ma gesê sy het dae aaneen gehuil nadat die baba verdwyn het en niks geëet of geslaap nie. Sy het glo oral na hom gesoek en elke keer wat sy gehoor het dat ʼn baba gevind is, het sy en haar ouers hulle daarheen gehaas om te kyk of dit nie dalk haar kind is wat gevind is nie.

Die kind is intussen aan die ma terugbesorg.

Ses jaar van die skuldige se vonnis is vir vyf jaar opgeskort, wat beteken dat sy effektief vir ses jaar agter tralies sal wees.

Die kantoor van openbare vervolging het die skuldigbevinding en vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adri ·

Ek het al voorheen ook gevra: skrik tronkstraf regtig die mense af? Is die gedagte om elke dag heeldag niks te doen nie, drie maaltye per dag te geniet en gerieflike huisvesting te ontvang, nie al wat hulle van die lewe vra nie?

Stephanus ·

Stem 100% saam. Ek ken nie die omstandighede van die skuldige nie maar as sy vermoeënd is, gee vir haar n weeskind om groot te maak. Dat sy gestraf moet word, is so, maar laat sy n gemeenskapsdiens verrig. Dit sal waarskynlik nie goed afgaan by die lydende party nie maar, afhangende van die tipe diens wat die skuldige sal moet lewer, kan die gemeenskap daarby baat en die druk op die tronke en staatskas verlig word

VaalDonkie ·

Daar is niks lekker aan die tronklewe nie. Ons is nie in Noorwee of Swede waar daar televisies en sagte beddens is nie. En hier help die wagte sommer met die aanrandings en verkragtings. So moenie stres nie, tronkstraf is wel ‘n straf.

jacobus ·

hoekom 3 maaltye per dag.meeste mense kan dit nie eers bekostig nie. is hulle dan tronk toe om vet gevoer te word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.