Vroue op bus in Limpopo doodgeskiet

Twee vroue is Donderdag op ʼn bus op die N1 in Limpopo doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

Twee vroue is Donderdag op ʼn bus op die N1 in Limpopo doodgeskiet nadat verdagtes wat hulself vroeër as passasiers voorgedoen het, skielik op insittendes losgebrand het. ʼn Derde vrou is ook getref en ernstig beseer.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het die bus vanoggend ongeveer 01:00 uit Pretoria vertrek. Die bus behoort aan die Copperbelt-busmaatskappy en was op pad na Harare in Zimbabwe.

“Drie verdagtes het in Pretoria op die bus geklim en hulle as passasiers voorgedoen.

Twee vroue is Donderdag op ʼn bus op die N1 in Limpopo doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

“Terwyl die bus oor die Mantsole-weegbrug langs die N1 gery het, het een van die verdagtes ʼn vuurwapen uitgeruk ʼn skoot deur die voorste windskerm afgevuur. Dit het die busbestuurder gedwing om stil te hou. Die ander verdagtes het drie vroue geskiet, van wie twee op slag dood is. Die ander een is kritiek beseer.”

Mojapelo sê al die ander passasiers is toe beveel om uit die bus te klim en op die grond te lê.

“Hulle is daarna van hul besittings, insluitend geld, selfone en paspoorte beroof. Die verdagtes is na bewering deur ʼn ander voertuig opgelaai wat die bus agtervolg het.”

ʼn Grootskaalse soektog is tans na die verdagtes onderweg.

Enigeen met inligting wat met die ondersoek kan help, kan kapt. Dana Smit by 081 577 4383 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.