Vroue veiligste in Limpopo

Vroue_gelukkig_berg_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

ʼn Driekwart van vroue voel onveilig in Suid-Afrika, veral in die Wes-Kaap, Gauteng en die Oos-Kaap. Vroue in Limpopo voel wel klaarblyklik minder onveilig as in die res van die land. Só wys ʼn opname wat die versekeraar 1st for Women onder meer as 6 500 vroue landwyd gedoen het.

Luidens die opname voel vroue veral onveilig wanneer hulle huis toe loop in die aand (98%), alleen in ʼn voertuig ry (77%) of saam met vriende uitgaan (63%). Al is hulle alleen tuis, sê meer as die helfte van vroue (54%) hulle voel onveilig.

Die versekeraar het provinsies se misdaadsyfers tussen Januarie 2023 en September 2023 ontleed en saam met vroue se opvatting van veiligheid in elke provinsie gevoeg, om ʼn indeks van veiligheid per provinsie saam te stel. Hiervolgens is Limpopo (92 uit 100 punte) die veiligste provinsie vir vroue om in te leef, gevolg deur Mpumalanga (68,6) en Noordwes (67,5).

Grafika: Elaine Krige

Limpopo het die kleinste getal vroue gehad wat gesê het hulle voel onveilig of heeltemal onveilig, asook die minste vroue wat ʼn slagoffer was van misdaad, volgens die jongste “slagoffers van misdaad”-verslag. Volgens misdaadstatistieke is dit ook die provinsie waar die minste ernstige misdade soos moorde, aanrandings en rooftogte deur lede van die gemeenskap aangemeld word.

“Die indeks gee slegs ʼn aanduiding van misdade wat aangemeld is en vroue se opvatting van veiligheid in hul provinsie. Dit gee ons dus net ʼn gedeelte van die groter prentjie,” lui die verslag. “Ons het die data tot ons beskikking gebruik om dié provinsies uit te lig waar dit die veiligste is vir vroue om te leef en studeer en hulle hopelik só meer vreesloos te maak.”

Die Wes-Kaap is klaarblyklik die provinsie waar vroue die onveiligste voel én is. Dié provinsie het maar 37,5 uit 100 punte gekry. Ten spyte hiervan het die kleinste persentasie van vroue wat in die Wes-Kaap woon, aangedui dat hulle die land wil verlaat weens kommer oor hul veiligheid. ʼn Groot getal vroue wat in Limpopo, Vrystaat en Mpumalanga woon, het wel aangedui dat hulle weens veiligheidsredes wil emigreer.

Seugnette van Wyngaard, hoof van 1st for Women, sê die hoër misdaadstatistieke in die Wes-Kaap, veral wat geweldsmisdaad betref, kan toegeskryf word aan meer gevestigde infrastruktuur om misdade aan te meld. “In dié geval kan hoër misdaadsyfers dui op ʼn meer ondersteunende rapporteringskultuur, wat eintlik ʼn positiewe faktor is.”

Luidens die opname meen vroue meer sigbare polisiëring, strenger wetgewing en erger strawwe vir misdadigers is van die oplossings wat Suid-Afrika ʼn veiliger plek vir vroue kan maak. Borgtog behoort ook nie aan oortreders toegestaan te word nie en mans moet beter opgevoed word oor hoe om vroue te respekteer.

Vir meer oor die opname, asook wenke vir vroue om veiliger te wees, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.