Vrugtebome geskenk om kinders van landbou, produksie te leer

Mokitlane Primary School. (Foto: Verskaf)

AfriForum en Saai het hande gevat met Kgosi Gaboilelwe Moroka van die Barolong Boo Seleka‑ tradisionele gemeenskap van Thaba ’Nchu om skole in dié gebied van die landbouwaardeketting en selfstandigheid te leer.

Sewe vrugtebome, wat appel-, granaat-, appelkoos-, perske- en vyebome insluit, is aan sewe skole geskenk. Leerders is touwys gemaak oor hoe vrugtebome geplant en versorg moet word, en ook oor die welvaartskeppingsmoontlikhede van vrugteproduksie, verwerking en die verkoop van produkte geleer.

“Ons het die plant-marathon van dié vrugtebome in Boomplant- en Erfenismaand [gedurende September] aangepak en sewe bome by vyf skole op een dag geplant,” het Kgosi Gabo Moroka, kgosi [hoof] van die Barolong Boo Seleka‑ tradisionele gemeenskap, gesê.

“Dit is eerstens om aan te dui dat dit elke dag, 24 uur per dag, neem om na welvarendheid te streef. As ons ’n volhoubare, selfstandige en welvarende nasie wil word, moet ons die toekomstige geslagte leer om hard te werk en ook deur hierdie inisiatief bewusmaking skep oor die belangrikheid van vergroening, die noodsaaklikheid van landbou as ’n bron van voeding en lewe, om selfonderhoudend en selfstandig te wees. Bewusmaking moet ook geskep word van die ekonomie wat uit landbou kom – maar ook om ons jongmense te leer om dit wat aan hulle behoort, te koester en te versorg deur na die bome om te sien sodat hulle die vrug van hul arbeid kan geniet.”

Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sê die erkenning- en samewerkingsverdrag wat AfriForum en die Barolong Boo Seleka‑ tradisionele gemeenskap verlede maand gesluit het, bepaal dat daar samewerking sal wees in landbou-ontwikkeling en die bevordering van gemeenskapselfstandigheid en selfbestuur.

Tshipinare Primary School. (Foto: Verskaf)

“Om skole die geleentheid te bied om kinders te leer oor vrugteproduksie en om verantwoordelikheid vir die plant en versorging van bome te neem, is vir ons ’n volgende stap in die praktiese implementering van hierdie verdrag.”

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê “as ’n netwerk vir familieboere is dit vir die organisasie belangrik dat mense, en veral kinders, verstaan dat die waardeketting wat verseker dat ons almal kos het om te eet, by primêre produksie begin”.

“Dit is ook belangrik vir kinders om te weet van die welvaartskeppingsmoontlikhede wat boerdery bied. Dit is ’n geleentheid om skole te bemagtig om hierdie kennis aan kinders oor te dra, en daarom is dit vir Saai ’n voorreg om betrokke te wees.”

AfriForum en Saai sê hulle sal die kantoor van Kgosi Gaboilelwe Moroka bystaan om die skole met die versorging van die bome te ondersteun, asook met die toekomstige uitbreiding van hierdie inisiatief na ander skole in die Barolong Boo Seleka‑koninkryk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.