Vrystaat-brande knou voedselproduksie

Veldbrand in Marquard (Foto: Verskaf)

Boere in die Vrystaat is op hul knieë oor die meer as ’n halfmiljoen hektaar se landbougrond wat reeds die afgelope brandseisoen afgebrand het.

Volgens Vrystaat Landbou (VL) het hierdie veldbrande nie net ’n impak op boere wat kosbare landbougrond verloor het nie, maar ook op die landbousektor, waar voedselproduksie direk geraak word.

In die geheel is 539 137,22 ha grond sedert 1 Mei in die provinsie in 5 781 brande verwoes.

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder vir VL, sê hierdie veldbrande het ernstige gevolge vir die hele landboubedryf.

“Veldbrande vernietig nie net weiveld nie, maar benadeel ook mense se lewe. In sommige gevalle het werkers en boere hul lewens verloor in hul pogings om hierdie brande te bestry. Sommige boere is gedwing om hul boerdery af te skaal weens onvoldoende veld vir hul diere, terwyl ander gedwing is om op te hou boer.”

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Hy sê omtrent 7% van die plase wat deur die veldbrande geraak is, kan uit voedselproduksie gehaal word weens landbougrond wat afgebrand het. “Dit het ’n impak op nasionale inkomste-invordering aangesien weiding op hierdie plase eers na drie jaar genoegsaam herstel voordat hulle weer in volle produksie kan kom.”

Talle boere verloor boonop duisende rand weens veeverliese omdat baie min hul kommersiële veekuddes verseker. Dit is omdat veeversekering so duur is. Die duisende beeste en skape wat doodgebrand het se vleis kan nie geëet word nie en word in diep slote begrawe.

Die 2017‑landbousensus deur Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) toon dat 62% van die boere in die Vrystaat kleinskaalse boere is wat op minder as 500 ha se grond boer. Hierdie boere het omtrent alles in die veldbrande verloor. “Dit het tot gevolg dat hulle nie meer al hul werkers in diens kan neem nie, waarna die werkers die plase moet verlaat. Dit dra by tot die toenemende maatskaplike probleme en werkloosheid in gemeenskappe,” sê Armour.

Brande kwaadwillig gestig

Veldbrand in Marquard (Foto: Verskaf)

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê sommige veldbrande is kwaadwillig deur mense gestig, terwyl die veldbrandindeks oranje en rooi was, wat enige oop veldbrande verbied.

Sy sê sommige veldbrande is ook opsetlik gestig deur mense wat onwettig op boere se grond jag. Van hierdie onwettige jagters stig die brande sodat kleinwild uit hul skuilplekke kruip. Sommige van hierdie jagters het ook vure gemaak om hul vleis gaar te maak.

“’n Persoon wat kwaadwillig ’n brand stig, behoort skuldig te wees aan ’n misdryf ingevolge die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (Wet 101 van 1998). Sulke optrede moet as opsetlike saakbeskadiging gesien en strafregtelik hanteer word,” sê Buys.

Armour sê dit is belangrik dat die publiek en veral mense wat in dorpe woon, ingelig word oor die impak wat veldbrande het op ’n veilige en volhoubare landbousektor, ook wat voedselvoorsiening betref.

Johann Savage Breytenbach, bevelvoerder van die oorhoofse brandbeskermingsvereniging (FSUFPA), het vroeër aan Maroela Media gesê die provinsie se brandseisoen strek gewoonlik oor sowat ses maande. Dit begin normaalweg in Mei en bereik ʼn piek enige tyd van middel Julie tot September.

Na gelang van vanjaar se groot brandlading kan die brande tot November of selfs Kersfees voortduur, het Breytenbach gewaarsku. Vanjaar se brandlading is hoog weens die buitengewoon hoë reënvalseisoene die afgelope drie jaar.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling raai boere aan om op die uitkyk te wees vir daaglikse uiterste weerwaarskuwings met inagneming van die seisoenale weervoorspelling.

“Die risiko van veldbrande, veral in somerreënvalgebiede, bly totdat voldoende reën ontvang word. Droë winterreënvalgebiede skep gunstige toestande vir veldbrande en daarom is voorkomingsmaatreëls van kardinale belang,” sê Reggie Ngcobo, departementele woordvoerder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.