Vrystaat-hospitaal: ‘Uitstekende vordering’, maar werkers staak

(Foto: Moroesi Ramorapeli – Mooketsa via Health-E)

Die Vrystaatse departement van gesondheid sê hy het “uitstekende vordering” gemaak met talle van die kwessies by die Boitumelo-streekhospitaal wat deur vakbonde aangeroer is.

“Die besware wat die vakbonde geopper het, was reeds kwessies wat besig was om getakel te word – nie soos die indruk wat geskep word dat die departement nie omgee nie,” het Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement, gesê.

Volgens hom is die lugverkoelingstelsel in drie van die vyf teaters reeds herstel; die dak wat in die kombuis gelek het, is herstel; die dreineringstelsel en vyf koelkamers is herstel en die teëls en geiser is geïnstalleer. Nuwe waterpype is ook geïnstalleer en die waterprobleme is opgelos. ʼn Kragopwekker is ook herstel.

Volgens Mvambi is 549 van die 801 poste gevul. “Daar is 250 vakante poste, maar hiervan is 234 poste gevries, omdat dit al vir meer as ʼn jaar lank vakant gelaat is.” Daar is onder andere vier vakante poste vir spesialisdokters en 15 vakante poste vir dokters. Daar is 12 vakante poste vir verpleegsters, en 28 vakante poste vir verpleegpersoneel. Daar is 38 vakante poste vir professionele verpleegsters.

“In die lig van die vordering wat gemaak is, is die departement verbaas oor die aggressiewe houding deur sommige van die vakbonde wat verlede week Donderdag onwettig begin staak het. Die departement het sy senior bestuur gestuur om in te gryp by die staking en seker te maak dat pasiënte nie hierdeur geraak word nie.”

Mariette Pittaway, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder oor gesondheid in die Vrystaat, sê die party het al die afgelope ses weke 12 keer aan die LUR en departementshoof geskryf om hul aandag te fokus op probleme by die Boitumelo-hospitaal. “Ons het ook seker gemaak dat premier Sisi Ntombela ingelig is in die hoop dat sy sal ingryp.”

Pittaway sê die personeel het intussen, soos voorspel, begin staak en dit laat die gemeenskap met die ineenstorting van die “vooraanstaande” Kroonstad-hospitaal en ʼn gebrek aan basiese mediese dienste.

“Die LUR vir gesondheid, die provinsiale departement van gesondheid en die instansie se swak bestuur is ten volle verantwoordelik vir die staking. Hulle was ten volle bewus van die probleme en die desperate toestande waaronder pasiënte en personeel verkeer het.”

Pittaway sê alhoewel die reg om te staak deur die Grondwet gewaarborg word, mag dit nooit inbreuk maak op burgers se grondwetlike regte nie, soos die reg tot toegang tot gesondheidsorg.

“Die families van pasiënte wat, sedert die staking begin het, nie toegang gehad het tot mediese dienste nie, het begin om die DA te kontak. Ons het die LUR en die departementshoof gekontak en hulle het ons verseker dat alles onder beheer is.”

Tydens ʼn oorsigtelike besoek Maandag aan die Boitumelo-hospitaal, kon die DA nie enige verpleegsters aan diens opspoor nie. “Pasiënte ontvang al sedert Saterdag nie enige mediese behandeling nie, omdat die studente wat na die pasiënte omsien, nie magtiging het om medikasie uit te deel nie. Dokters van omliggende dorpe gee hul bystand waar hulle kan. Die situasie is egter glad nie onder beheer nie. Die DA versoek opnuut die nuwe ANC-regering in die Vrystaat om verantwoordelik op te tree om seker te maak dat daar nie nog lewensverlies is weens ʼn gebrek aan gesondheidsorg nie.”

Die DA het onderneem om ʼn klag by die Menseregtekommissie in te dien om die situasie by die hospitaal te ondersoek.

Die gesondheidswerkersvakbond Haitu het gesê hy sal sy lede by die hospitaal verdedig.

“Die personeel eis oortydbetaling en dat personeeltekorte dringend gevul word. Werkers moet oortyd werk en hulle ontvang nie betaling daarvoor nie,” sê Lerato Mthunzi, algemene sekretaris van Haitu. “Hulle kry nie enige tyd af nie, omdat daar ernstige personeeltekorte is.”

Mthunzi sê die vakbond veroordeel die provinsiale departement dat hy dreig om werkers af te dank oor die “sogenaamde onwettige staking”. “Gesondheidsorgwerkers, veral verpleegsters, word beskou as noodsaaklike werkers en daar is dus beperkings op die reg om te staak. Hierdie status word egter misbruik deur die werkgewer en daarom versuim hulle om die kwessies wat werkers raak, te takel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eugene ·

Dis die vakbonde se skuld vir stakings en optogte en werkloosheid en Brande.

Nici ·

Ek reken hul moet net aanhou dans en sing totdat dit geld uit die hemel reen. Afrika oplossing.

Danie ·

Dis mos nie nuus nie ons weet dit.En wat gaan gebeur niks.Gesondheid was een van die staatsdept wat eerste geduik het.Ten minste kan jy nie kla oor enige diens nie want daar is geen diens.

Shakespeare ·

Uitstekende vordering in ANC/EFF vertaal lees “Uitstekende verorbering”

Jakes ·

Die dept van gesondheid sal van einde Maart 2023 sit met meer as 2000 dokters wat nou klaar is met hul Zuma jare en nog nie geplaas is nie want daar is nie geld om hulle te betaal nie. Die dept word deur onbeholpe mense bestuur en van verpleegsters prast ek nie eers van nie. Gaan kyk oor 6 maande hoe die verbeterde hospitaal dan lyk voordat ons bly word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.