Vrystaatse boer kry 427 jaar tronkstraf vir bedrog, diefstal

Foto: Matthias Zomer/Pexels.com

ʼn Boer van die Vrystaat is Vrydag tot 427 jaar tronkstraf gevonnis nadat die hooggeregshof in Kroonstad hom skuldig bevind het op 20 aanklagte van diefstal en ses van bedrog. Cornelius Andries Loggenberg (37) sal egter net 15 jaar effektief agter tralies wees aangesien die regter beveel het dat die vonnisse gelyklopend uitgedien word en tien jaar daarvan boonop vir vyf jaar opgeskort is. Die klagte volg nadat Loggenberg meer as 2 000 beeste wat nie aan hom behoort het nie, verkoop en die geld op homself bestee het.

Luidens die klagstaat boer Loggenberg in Kirkdale naby Koppies en het hy tussen 2009 en 2013 in totaal 2 136 Holstein-beeste ter waarde van R25 miljoen by verskeie boere teen betaling gehuur. Dit was met die doel om sy eie melkboerdery uit te brei. Die bepalings van die ooreenkoms was dat die beeste die eiendom van die verhuurders sou bly en dat Loggenberg die beeste met die beëindiging van die kontrak in ʼn goeie toestand aan die boere sou teruggee. Indien van die beeste in die proses sou doodgaan, moes Loggenberg hulle vervang met soortgelyke beeste. Luidens ʼn verklaring deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Loggenberg aanvanklik by die bepalings van die ooreenkoms gehou, maar in Junie 2013 het hy skielik opgehou om enige van die klaers vir die huur van die beeste te betaal. Daar is toe vasgestel dat hy die meeste van die beeste verkoop en die geld op sy eie persoonlike uitgawes bestee het. “Party klaers het groot bedrae geld belê deur Loggenberg toe te laat om Holstein-beeste namens hulle aan te koop en dan dié beeste weer by hulle te huur. Die beskuldigde het egter geen beeste met dié geld gekoop nie, maar dit eerder op persoonlike uitgawes bestee,” sê die NVG.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Ter verswaring van straf het die staatsaanklaer, adv. Jacques Harrington, aangevoer dat die beskuldigde die koeie tot só ʼn mate verkoop en wanaangewend het, dat die besigheid inmekaar gevou en die klaers groot finansiële verliese gely het. “Hy het groot skuld aangegaan om voer vir die beeste aan te koop en toe hy in die moeilikheid beland, het hy bloot ander boere oortuig om in sy besigheid te belê,” het Harrington vir die hof gesê. “In die proses het hy gevestigde boere om die bos gelei en hulle was op die ou einde die slagoffers van sy diefstal en bedrog.”

Die regter het 10 jaar van die effektiewe 25 jaar tronkstraf opgeskort vir vyf jaar, mits Loggenberg nie in dié tyd aan soortgelyke misdade skuldig bevind word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Willem ·

Geen probleem as hy steel moet hy sit maar hul moet konsekwent wees . Sal seker geblik word soos al my boodskappe

Cherokee ·

Die afleiding is dat die straf aan hom toegedien, absoluut niks behalwe ‘n wrang glimlag van die klaers ontlok, want daar is geen vergoeding vir hul skade. Dit verander niks aan die skade wat hy hulle berokken het nie.

Oujongvrou ·

Kry hulle jammer. Probeer help n medemens en dis die dank.

Pierreli ·

Hy kort ten minste nog 100 aanlkagte teen hom om in daardie rol te kan dien.

marius ·

Hoeveel jaar gaan die regerings skurke dan kry ? Elf en derig duisend en een miljoen en nul ….los maar .

Oujongvrou ·

Jy is nie boer nie, jy is n skurk en steek die naam boer in die skande. Sies man

Pierreli ·

Ja, mens kry skelms orals, selfs tussen ons, ons eie mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.