Vrystaatse brande: Jong man veg om sy lewe

Tewie Nel (Foto: Verskaf)

’n Jong boer van Hertzogville in die Vrystaat het Maandag erg gebrand toe hy probeer het om ’n brand op hul plaas in bedwang te bring. Die brand is veroorsaak deur ’n veldbrand wat Sondag te midde van ’n betoging op die R708 tussen Hertzogville en Christiana uitgebreek en in die rigting van Bultfontein, Hoopstad en Dealesville versprei het.

Tewie Nel (25) veg tans om sy lewe in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein.

Gerhard Nel, Tewie se pa, vertel sy seun het 40% derdegraadse brandwonde aan sy gesig, albei sy arms, bene en hande asook oor sy lyf opgedoen.

“Die brand het Sondag na ons plaas, wat sowat 40 km van Hertzogville af is, versprei en ons het tot Maandag omstreeks 03:00 gespook om die brande geblus te kry. Teen Maandag 09:00 het die brand weer ’n tweede asem gekry,” vertel Nel.

“Tewie het ingespring en vir ’n paar uur gespook om die brand in bedwang te bring. Hy gee gewoonlik sy beste in alles in die lewe en sou nie rus totdat die brand geblus is nie.”

Daar het die middag omstreeks 13:00 ’n dwarrelwind gekom en die vlamme reg rondom die gedeelte waar Tewie gestaan het, versprei.

“Tewie was vasgevang met die vlamme rondom hom. Hy het probeer uithardloop en dis toe dat hy val en deur die vlamme oorweldig word.”

Tewie is daarna hospitaal toe gejaag en lê tans in die neuro-intensiewesorgeenheid. Hy is ook aan ’n ventilator gekoppel nadat hy baie rook ingeasem het.

(Foto: Twitter)

Nel sê dit gaan vandag al ’n bietjie beter met sy seun en hulle probeer hoopvol bly.

“Sy niere het vanoggend ook self begin uitskei, wat darem ’n positiewe teken is.”

Tewie sal wel vir die volgende paar maande hospitaal toe moet gaan vir veloorplantings.

“Hy het nou fisieke en emosionele letsels waarmee hy vir die res van sy lewe sal moet loop. Die brande was so onnodig en nou het dit nog skade aan my kind ook aangerig.”

Nel sê hy en sy vrou se trane lê vlak en hulle is baie emosioneel oor die voorval. Tewie is die egpaar se enigste kind.

Meer as 100 000 ha is reeds verwoes en duisende diere dood nadat verwoestende veldbrande die afgelope paar dae in die omgewing van Hertzogville, Bultfontein, Hoopstad, Bloemhof en Dealesville woed.

Die brande is volgens berigte in dié stadium onder beheer, maar word steeds fyn dopgehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Dup ·

Die arme boeregemeenskap.As dit nie plaasaanvalle is nie,dan is dit droogte en veldbrande.Ons kan net hoop en vertrou dat hulle omstandighede drasties sal verbeter.

Zombie ·

En dan ontstaan brande nie noodwendig as gevolg van natuurlike oorsake nie.

Pieter ·

Laat die eff en anc betaal. Die rassiste wat ons grond soek sit agter die.

Frikkels ·

Die klomp kriminele moet aangekla word van poging tot moord en terrorisme man!

Kokerboom ·

Baie baie sterkte aan die familie. Ons bid dat Tewie spoedig sal herstel

SomeOne ·

Here staan Tewie ook by met genesing, sterkte ook aan die familie

Suzette ·

Ons bid dat die Liewe Heer jou gesond sal maak. Alles van die beste. Ons harte huil vir jul verskriklike verlieste met die brande.

JohanR ·

Dit lyk my plaas aanvalle word elke dag op een of ander manier verskerp. En Ramaphosa se daar is NIE plaas moerde en aanvalle. ANC gee die geld, EFF gee die orders en taxis ry die aanvallers aan….maar om dit te bewys? Sterkte aan die man en sy familie. Ons wat nie boere is nie kan ons net verbeel wat julle elke dag, en elke donker nag moet deurmaak!

Maggies ·

Nog ‘n jong man wie se lewe onherroeplik verander agv. onluste, haat en nyd.
Tewie mag jy en jou ouers geseën word met jou beterskap en ten volle genesing. Ek glo die hele boeregemeenskap bid vir jou.

Mieke ·

So jammer om te hoor van julle seun. Ons bid vir sy volkome herstel. Mag die Here julle sterkte, krag en moed gee gedurende hierdie moeilike tyd.

FM ·

Here ons Here

U het blindes laat sien en kreupeles laat loop.
U het U álles vir ons aan die kruis betaal.
Genees asseblief vir Tewie na liggaam en gees.

Dit bid ons in die wonderlike Naam van Jesus Christus
Amen

Anel ·

En as dit nie op terrorisme neerkom nie, weet ek nie. Sterkte aan julle en dankie vir dit wat julle vir hierdie land opoffer.

Ivana ·

Ons bid vir julle as n gesin en GLO GOD SAL JUL SEUN GENEES

Cecilia ·

Brandstigting! En d tegering lig nie n vinger om d skuldiges wat dit begin hetcte veroordeel nie. Maroela kry asb n bankrek vir skenkings. As enkel iuer het ek nie veel nie maar ek wil grasg bydrae tot n fonds vir ons boere

Johanna Adriana ·

Ons bid vir hierdie jongman. Here, help asseblief. Amen.

Althes ·

Here wees hom genadig en laat hy volkome herstel.
Verlos ons van die donker bose wie ons geluk, vrede en voortbestaan wil vernietig. U is groter as als op aarde.

Anoniem ·

My kommentaar is!!!! As Tewie Nel nou iets ernstigs gaan oorkom is dit aan die hand van die Regering!!!!! Mnr bRamaphosa wanneer sê jy iets hieroor????

LANA is ELANè ·

Ek wonder altyd as ek na so iets kyk of lees, hoe voel die booswigte wat verantwoordelik is daarvoor, voel hulle selfvoldaan, voel hulle dat hulle hul punt gemaak het deur na die streep van anargie en verwoesting wat veroorsaak is, te kyk? Wat gaan aan in so persoon se psige en hoe is dit dat een persoon by name van Juli~ass, soveel mag het oor mense se gesonde verstand?
Hierdie brande maak dat ek mismoedig is omdat ek nog nie landuit is nie!

Annelize ·

Ja, die nadraai van ‘n betoging, en geen haan sal hieroor kraai nie. Dis nou maar ‘n feit, hulle betogings laat altyd ‘n streep van verwoesting, skade, verlies en magtelose hartseer agter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.