Vrystaatse damme voller as verlede jaar

Die Gariepdam. (Foto: Water&SanitationRSA/Twitter)

Dam- en riviervlakke in die Vrystaat het die afgelope tyd merkwaardig gestyg, danksy reënbuie in dié gebied. Dít volgens die departement van water en sanitasie se watervoorsieningstelsel.

In sommige gevalle het damvlakke meer as 100% gestyg.

Die Vrystaat se waterkapasiteit staan tans op 92,2%, teenoor verlede jaar gedurende dieselfde tyd toe dit op 74,6% gestaan het.

Die Rustfonteindam by die Modderrivier is op 74,3% in vergelyking met 24,7% verlede jaar. Die Groothoekdam by die Kgabanyanerivier staan op 96,9%, ʼn groot verbetering teenoor verlede jaar toe dit net 43,6% vol was. Dié dam én die rivier voorsien water aan Bloemfontein.

“Die watervlakke is ʼn groot verligting vir die gemeenskap en die boere,” lui die departement van water en sanitasie se verklaring.

Die Welbedachtdam by die Caledonrivier is 100% vol, wat ʼn 4,1%-toename is teenoor verlede jaar. Die Knellpoortdam wat die Rietspruitdam aanvul, staan op 76,3%, terwyl dit 20,4% vol was verlede jaar. Die Krugersdriftdam het met meer as 1% gestyg sedert verlede jaar en staan nou op 100,8%.

Die dam met die langste damwal, Vanderkloofdam, staan tans op 94,2%, teenoor verlede jaar toe dit 79,2% vol was.

Die Gariepdam, die grootste waterbergingsfasiliteit in die Suidelike Halfrond, het danksy goeie reënval ʼn verskil van 11,1% in sy watervlakke. Dié dam se vlakke het gestyg van 87,6% verlede jaar tot 98,7% vanjaar.

Die Fika Pasto-dam het ʼn groot verskil in watervlakke gesien nadat dit gestyg het van 35,5% tot 100%. Die Tierpoortdam staan tans op 97,6%, in vergelyking met verlede jaar toe dit net 34,5% vol was. Dié dam word gebruik vir landboudoeleindes.

Ondanks ʼn goeie reënopbrengs vanjaar het die departement van water en sanitasie ʼn beroep op mense gedoen om water spaarsamig te verbruik.

“Ons hulpbronne is steeds onder druk en inwoners moet die waterbeperkings nakom wat deur die onderskeie munisipaliteite in die provinsie en die land as geheel ingestel is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper ·

Bid tot die Here jou God en Hy sal antwoord op jou gebede.Hy weet wat ons behoeftes is nog lank voor ons vra en Hy voorsien mildelik aan ons behoeftes.

Gawie ·

Gariepdam grootste in die Suidelike-Halfrond, groter as Kariba?

Alexander ·

Jy’s reg, iemand het nie mooi navorsing gedoen nie. Kariba kan meer water hou as al Waterwese se damme saam. Cahora Bassa ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.