Vrystaatse ingenieur ontvoer, vermoor

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

ʼn Ingenieur van die Beatrix-goudmyn op Theunissen in die Vrystaat is Sondag dood aangetref nadat hy vroeër die naweek by sy huis ontvoer is.

Mojakisane Lesoetsa was 30 jaar oud.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, sê ʼn groep verdagtes het Lesoetsa se huis op Welkom Saterdag binnegegaan en hom gegryp voordat hulle met Lesoetsa in sy Volkswagen Polo op die vlug geslaan het.

Die uitgebrande wrak van dié voertuig is Saterdag in ʼn oop stuk veld langs die St. Helena-hospitaal op Welkom gevind. Lesoetsa se liggaam is ʼn dag later in Virginia aangetref. Hy het veelvuldige beserings gehad.

Die polisie is sedertdien op die spoor van moontlike verdagtes ná die jong ingenieur se moord.

Volgens Thakeng word verskeie persoonlike items en huishoudelike toestelle in hierdie stadium uit Lesoetsa se huis vermis.

Enigiemand met inligting rakende die ontvoering en moord word versoek om speursers. Pitso Matsie van die polisie op Welkom se eenheid vir ernstige en geweldsmisdade by 071 062 7692 te bel. Waardevolle inligting kan ook by die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karoo ·

Stere aan sy vriende en familie…. deesdae blyk dit dat dit enige van ons kan wees wat so iets oorkom.

Windhond ·

Wilde weste, maar mens kon daar ten minste jou self bewapen en jouself verdedig, – hier word jou onmiddelik aangekla van moord of SM en word jy toegesluit, of jy nou n vaste woonplek besit en n vaste werk het maak nie saak nie – jy word toegesluit en dan word jy verstrengel in die reg stelsel totdat jy vrek van stres en/of jy die tydelike met die ewige verwissel met die hulp van jou vriendelike sel maat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.