Vrystaatse kragskuld hoop op

(Argieffoto)

Altesaam 16 munisipaliteite in die Vrystaat het teen einde Augustus Eskom gesamentlik meer as R17 miljard geskuld vir dienste gelewer.

Dit is ’n reusagtige verhoging van die R2,6 miljard wat die munisipaliteite teen Augustus verlede jaar geskuld het.

Die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit in die Thabo Mofutsanyana-distrik se kragrekeninge is die verste in die rooi en sy skuld aan Eskom beloop na raming R6,8 miljard. Hierdie munisipaliteit bedien onder meer Harrismith en Kestell.

Die Matjhabeng-munisipaliteit (wat onder meer Welkom, Virginia en Odendaalsrus bedien) skuld die kragvoorsiener sowat R4,9 miljard, gevolg deur die Ngwathe-munisipaliteit (Parys, Vredefort en Heilbron) wat ongeveer R1,6 miljard skuld.

Volgens Titi Makhetha, ’n woordvoerder van Eskom, verbruik hierdie drie munisipaliteite maandeliks gemiddeld R200 miljoen (97 GWh) se elektrisiteit.

Verder staan die Mangaung- metropolitaanse munisipaliteit (wat onder meer Bloemfontein bedien) se skuld op sowat R306,6 miljoen en die Dihlabeng-munisipaliteit (wat onder meer Bethlehem bedien) op sowat R715,8 miljoen.

Die Metsimaholo-munisipaliteit (Sasolburg, Deneysville, Oranjeville, en Viljoensdrif) is die enigste munisipaliteit in die Vrystaat wat ’n nulbalans handhaaf, terwyl die Setsoto-munisipaliteit (wat onder meer Ficksburg, Clocolan, Marquard en Senekal bedien) voortgaan om sy lopende rekening te betaal.

Makhetha sê die kragvoorsiener verskaf maandeliks elektrisiteit in grootmaat aan die munisipaliteite wat dit dan teen ’n wins aan hul klante verkoop. Daarbenewens ontvang munisipaliteite staatstoelaes vir gratis basiese elektrisiteit.

“Desondanks bly die munisipaliteite se lopende rekeninge en agterstallige skuld ongediens en bring hulle Eskom verder op sy knieë. Selfs in hierdie moeilike tye word daar van Eskom verwag om elektrisiteit aan hierdie munisipaliteite te verskaf terwyl sy netwerke in stand gehou moet word,” sê Makhetha.

Agnes Mlambo, hoofbestuurder in die Central-East-Cluster (Vrystaat en KwaZulu-Natal), sê dit is moeilik vir Eskom om voort te gaan om infrastruktuuruitgawes aan hierdie nie-betalende munisipaliteite te voorsien.

“Dit is onregverdig vir hierdie Vrystaatse munisipaliteite om van Eskom te verwag om elektrisiteit kosteloos aan hulle te verskaf, veral terwyl die land se kragvoorsiening reeds beperk word,” meen Mlambo.

“Munisipaliteite het ’n grondwetlike verantwoordelikheid en plig ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA), nie net teenoor Eskom nie, maar ook teenoor hul klante, om hul finansiële verpligtinge vir die grootmaatverskaffing van elektrisiteit teenoor Eskom na te kom.”

Volgens Mlambo plaas munisipale skuld ’n geweldige las op Eskom se inkomstestroom, wat dienslewering negatief beïnvloed.

“Ons doen ’n beroep op Eskom sowel as munisipale klante om elektrisiteit wettig te gebruik en om vir alle dienste te betaal wanneer dit betaalbaar is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Koos 100 ·

En Pretoria is elke maand in die nuus met dreigemente van Eskom oor R1.6 miljard se skuld. Dis kleingeld teen die skuld! Duidelik speel De Ruiter en sy bende ‘n politieke spel. Krap asb ook die res van die land se skuld aan Eskom ook oop asseblief Maroela!

Henry ·

eskom moet net al die rekeninge wat gelewer is se geld invorder binne die 30 dae. Dan sal dit nie nodig wees om sulke groot prys verhogings aan te beveel nie. Hoe moet ons as pensionarisse met die groot verhogings leef.

Jacobus ·

Eskom dreig elke maand om Pretoria se elektrisiteit af te sny, is dit omdat hulle onder DA beheer is en die wat se rekeninge uitstaande is vir maande selfs jare onder ANC beheer? Eskom word al vir jare as n politieke speelbal gebruik en die getroue betaler ly daaronder.

Roelof ·

Eskom moet al die stadsrade wat skuld se krag afsny. Tyd dat betalers se geld in n trustfonds hanteer word en so uit kaders se sakke bly

Alex ·

Ek stem hiermee volkome saam. Dit sê elk al lankal. Hierdie is politieke speletjies wat gespeel word

Antie Sarie ·

Waarom kry munisipaliteite krag rekeninge as beide die munisipailiteit en skom regerings instansies is?

Roelof ·

Tyd dat Eskom stadsrade se rekeninge oor vat en dan nie betalers afsny

Hennie ·

Hoekom word hulle anders hanteer André? Dubbel standaarde om politieke punte te “score”!

Daniel ·

Stuur rekeninge vir Posa ons gaan ook nou krag en water gratis kry

Danie ·

Daar word altyd van n voorbeeld gepraat,nou lees ek dat grootkoppe in die staat parlement nie vir water,krag en dienste betaal nie.Inaggenome die bitter klein salaris hulle ontvang met die voordele.(motor,brandstof,oortyd,subsidies,selfoon ens).Nou kan ek verstaan hoekom armoede en werkloosheid toeneem.

Roelof ·

Tel al die skuld bymekaar wat ANC stadsrade Eskom skuld. Genoeg om Eskom in die groen te plaas en weer soos 30 jaar gelede kan produseer. Maar nee. Die kaders maak hulle sakke vol

Alex ·

Snaaks. Pretoria se krag moet onmiddelik af oor R1.6b, maar niks word gedryg in die Vrystaat se skuld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.