Vrystaatse premier bedank

Sisi Ntombela (2022) (Foto: US Embassy South Africa via Wikimedia Commons)

Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, het Dinsdag haar bedanking ingedien.

“Die bedanking skep ʼn leierskapkrisis in die Vrystaatse regering ʼn week voor die provinsiale rede gelewer moet word en waarvoor daar reeds kostes aangegaan is,” sê Roy Jankielsohn, die DA se provinsiale leier.

Die ANC in die Vrystaat het vroeër vandeesmaand aangekondig dat die premier en die burgemeester van Bloemfontein herroep sal word, sonder om enige datums te verskaf. Woordvoerders in die provinsiale regering het bevestig dat Ntombela die provinsiale rede sou lewer.

“Sedert die voormalige premier in 2019 in die amp aangestel is, het toestande in die Vrystaat steeds agteruitgegaan en die inwoners van die provinsie gaan gebuk onder die impak van swak ANC-leierskap,” voeg Jankielsohn by. “Terwyl die ANC se faksiegevegte voortduur, gaan dienste en die ekonomie verder agteruit onder die bykomende las van beurtkrag.”

Jankielsohn sê die afwaartse trajek van die provinsie, wat aan die gang gesit is tydens Ace Magashule se ampstermyn, het net al hoe meer duidelik geword onder Ntombela se leierskap.

“Net soos haar voorgangers het sy verandering belowe deur die herstel van pad-infrastruktuur, verbetering van gesondheidsdienste en om die talle munisipaliteite tot orde te roep. Tot dusver het ons nog geen verbetering gesien in dienslewering in enige van die provinsiale departemente nie en die Vrystaatse ekonomie krimp steeds. Met dié bedanking moet die wetgewer nou ʼn nuwe premier aanstel voor die provinsiale rede of die rede sal verder uitgestel moet word – ʼn verdere koste vir die belastingbetaler,” sê Jankielsohn.

Intussen verwelkom Patricia Kopane, woordvoerder van ActionSA, die nuus oor Ntombela se bedanking.

“Sy het die eerbare ding gedoen en op haar swaard geval. As ʼn premier het sy niks gedoen om die lewens van mense in die provinsie te verbeter nie.”

Kopane sê ActionSA het reeds op 6 Februarie versoek dat sy bedank, aangesien dit “duidelik geword het dat die mense van die Vrystaat vertroue verloor het in haar vermoë om die provinsie te bestuur”.

“Hulle het geen vertroue dat sy vir hulle die geleentheid kon bied om vordering te maak, te ontwikkel of die kringloop van armoede te verbreek nie. Sy het die provinsie in die ergste toestand oorgeërf, maar sy het niks gedoen om die skade om te keer nie.

“Trouens – onder haar leierskap het die Vrystaat die gesig geword van korrupsie, met talle onvoltooide projekte wat slegs geskep is om die ANC-kabaal te verryk. Tot dusver is niks gedoen met die asbeshuise nie – ʼn projek wat die staat R255 miljoen gekos het en daar is niks om daarvoor te wys nie. Dit was ook die onderwerp van die Staatskapingverslag. Die Silver en Dark City-behuisingsprojekte is ook steeds onvoltooid en het die staat byna R260 miljoen gekos. Die visprosesseringsaanleg in Bethulie staan ook stil. Altesaam R6,5 miljoen is aangewend om dié aanleg op te rig. Agt jaar later gaan die gebou agteruit en die toerusting word gevandaliseer,” voeg Kopane by.

Kopanong, Matjhabeng, Maluti a Phofung en Mafube-munisipaliteite is ʼn teken van ʼn mislukte regering. “Mense sit sonder water en sanitasie en werknemers word nie hul salarisse betaal nie.”

Die grootste polisiestasie in die Vrystaat, Parkweg-polisiestasie in Bloemfontein, staan ook onvoltooid ná R41 miljoen aan opknappings spandeer is. “Dit is nou die vierde jaar met drie kontrakteurs wat al aangestel is. Polisiestasies het nie genoeg hulpbronne nie en is nie voorbereid om stygende misdaadvlakke in die provinsie te hanteer nie. Onvoldoende sekuriteit by skole hou ook ʼn bedreiging in vir behoorlike onderrig. Leerders en onderwysers is nie veilig nie.”

Kopane sê die Vrystaatse departement van gesondheid misluk klaaglik om die operasie-agterstand in te haal. “Daar is ʼn yslike groot tekort aan vaardighede, opgeleide personeel, mediese praktisyns en noodsaaklike medies hulpbronne.”

Die Vrystaatse paaie is vol slaggate wat ʼn groot oorsaak is vir onnodige ongelukke en slagoffers van die Jagersfonteindam-tragedie is steeds dakloos. “Hulle moet steeds by vriende en familie bly. Nie ʼn enkele belofte wat Ntombela gemaak het, is vervul nie.”

Kopane sê dit is tydens haar amp dat die provinsie meer gewelddadige gemeenskapsbetogings beleef het en dit het tot verdere skade aan infrastruktuur gelei.

“Dit sou nalatig gewees het van haar om tydens die provinsiale rede voor die mense te staan en nog leë beloftes te maak. Haar nalatenskap is vol beloftes wat nooit vervul is nie. Haar bedanking is ʼn tree in die regte rigting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pietertjie ·

Sy moet nou net nie haar bedanking probeer wysig of terugtrek nie. Vra maar vir Randall.

Waarnemer ·

Kom ons hoop cyril en sy hele kabinet volg haar voorbeeld en bedank.

M ·

Valke …Arende… Aasvoëls… Uile….. Hier ruik iets nie lekker nie … begin sommer vanaand, na hierdie berig, ‘n in diepte ondersoek te doen…asseblief ….

Wildemien ·

Die onderskeie kommissies is lankal reeds aangestel en betaal + die bevindinge oor al hierdie sogenaamde projekte gepubliseer. Geen gevolge; geen nasorg. Buiten natuurlik Ace Magashule se bevordering. Hierdie antie se volgende pos is seker Minister van Elektrisiteit. Syt hoeka so ‘n 800 watt smile.

Elméne ·

Ek stem 100% saam met jou vermoedens!!! Sy het iets wat sy wegsteek en dink dat indien sy vinnig genoeg bedank, sy skotvry gaan wegkom.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Wonder nounet wanneer gaan al die onnerabil members (ANC lede/kaders) die eerbare ding doen en ook op hulle swaarde val. Maar dis ñ pyp-droom, en ek twyfel sterk. Hoe lui die gesegde nouweer…”there is no honour amongst thieves.” So, die nagmerrie gaan voort! Gelukkig beskaam die hoop nie.

Christine ·

Hoop die res in die Vrystaat volg, want Bloemfontein lyk eerder soos ‘n varkhok.

Chris ·

Ek dink met hartseer terug aan my studie jare 1977 – 1980. DIe Vrystaat het geblom. Sal nie kommentaar lewer oor hoe die plek so agteruit gegaan het nie.

Di ·

Good riddans! Hoop sy gaan nou permanenet op pensioen, hoeka lankal tyd

SjN ·

Soustrein ryer dink seker dat sy gevrywaar gaan word deur te bedank, die wiel draai.

Grassie ·

As ‘n mens na die foto kyk lyk dit of sy darem ten minste goed vir haarself gesorg het, Soos die ou mense gesê het – “spekvet en gladverhaar”

Papsak ·

Ek stem hoop glo en bid dat anc regering en Ransphosa haar voorbeeld volg en almal bedank wat se vreugde sal dit nie wees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.