Vuurwapenamnestie: Nuwe amnestietydperk versoek

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het Woensdag ’n brief aan Bheki Cele, minister van polisie, gerig waarin hulle versoek dat die minister ʼn tweede amnestieperiode aan die parlement voorlê.

In die brief voer AfriForum aan dat die Covid-19-pandemie ʼn impak op die amnestietydperk gehad het, aangesien vuurwapeneienaars by polisiekantore weggewys is en nie betyds hul vuurwapens kon inhandig nie. Die amnestieperiode het reeds Sondag (31 Januarie) verstryk.

AfriForum versoek ook dat mense met onder meer vuurwapenlisensies wat verval het en wat nou in onregmatige besit van hul vuurwapens is, nie vervolg sal word nie hangende die uitkoms van die aansoek om ’n verdere amnestieperiode. Hierdie persone bevind hulself in ’n penarie omdat hulle dit nie meer by polisiekantore kan inhandig of elders kan laat stoor sonder om die risiko te loop om vervolg te word nie.

Etlike polisiekantore reg oor die land is verlede week gekenmerk deur lang rye vuurwapeneienaars wat van die amnestieperiode gebruik wou maak. “Daar was ook verskeie gerugte en klagtes dat slegs ’n sekere aantal aansoeke en innames per dag oorweeg is. Die res is glo weggewys, ondanks die feit dat lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi op 20 Januarie alle provinsiale kommissarisse beveel het om te verseker dat stasies onder hul beheer verskeie aanpassings maak,” lui AfriForum se verklaring. Dié aanpassings behels die toedeling van bykomende polisielede tot die vuurwapenafdeling. Polisiestasies is ook versoek om aansoeke en vuurwapens tot so laat as 21:00 in te neem.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, sê die organisasie word oorval met oproepe van lede wat vertel hoe hulle vir etlike ure in rye moes staan, net om keer op keer weggewys te word.

“Met 2020 se ontberinge en vrees vir Covid-19 kan ’n mens verstaan dat menige burger nie die amnestieperiode as prioriteit geag het nie. Dit is ongelukkig meestal ouer mense wat hieronder gely het en nou in vrees lewe omdat hulle nie van die amnestieperiode kon gebruik maak nie,” sê Kamfer.

Maroela Media het vroeër berig daar was kort voor die verstryking van die amnestieperiode groot kommer oor die oënskynlik klein hoeveelheid wapens wat tot dusver ingehandig is – met sommige belanghebbendes wat die jongste amnestietydperk selfs as ʼn mislukking bestempel.

Volgens die polisie se amptelike syfers was daar in Oktober 2019 altesaam 400 805 vuurwapens waarvan die lisensies reeds verval het. Teen Mei verlede jaar is 27 336 wapens ingevolge die vorige amnestietydperk ingehandig.

Teen 13 Januarie vanjaar is altesame 23 399 vuurwapens en 119 781 patrone ingehandig. Van die vuurwapens wat ingehandig is, is 3 139 vrywillig ingehandig, terwyl 20 260 mense aansoek gedoen het om lisensiehernuwings.

Teen verlede Donderdag was daar altesaam 40 729 vuurwapens en 199 573 patrone vrywillig ingevolge die huidige vuurwapenamnestietydperk by polisiestasies ingehandig.

Indien wapens wat tydens die huidige amnestietydperk buite rekening gelaat word, is die polisie dus op soek na sowat 370 000 vuurwapens waarvan die lisensies reeds verval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cecilia ·

Go AfriForum.
Dis belaglik dat jy jou wapen moet indien terwyl jy wag vir jou nuwe lisensie. Ek kan jou waarborg daai wapens gaan tussen neus en ore verdwyn. En jy as eienaar gaan maar d loss vd wapen moet aanvaar. D onbevoehde SAPS het my pa se wapen “verloor”. Sorry was hul antwoord. So daar is geen manier wat ek my wapen vir d onbevoegde SAPS gee nie.

Sarel ·

Daar us geen nut daarin om Wapens in te handig nie.Misdadigers hzndig nie wspens in nie. Mense moet toegelaat word om aznsoek te doen vir Hrrnuwingvan Lisensies

Jaada ·

Vuurwapenlisensies wat verval het moet ook uitgestel kry soos bestuurslisensies.

Persheks Adri ·

Ek hoop en bid dat hulle die tydperk sal verleng vir diegene wie nie kon aansoek doen nie! Soos ek op die vorige berig gesê het: trek ‘n skedule op met lisensies, voertuie en wapens en kyk elke dag in dit vas. Ons kyk nie na ons lisensies op ‘n daaglikse basis nie so dit werk vir my!

Frank ·

Wag nou al sedert begin Junie vir ‘n nuwe lisensie al is ek toegewyde jagter. Ons DFO is ook net elke tweede week op kantoor, indien wel. Vreeslik baie “vergaderings” elsers……

Gerhardus ·

Ek het sonder moeite my wapen ingehandig en aansoek om hernuwing gedoen. Dit was immers my eie agterlosigheid dat my lisensie verval het. Wat vir my egter ‘n probleem is, is die feit dat ek net blankes gesien het wat wapens inhandig. Nie ‘n enkel anderskleurige nie. Ek lei af hulle verkies onwettige wapens want dan kan hulle nie vervolg word nie .

Deidre ·

Hoekom is dit dat SA burgers altyd tot die laaste wag om iets te doen. Of dit nou n vuurwapen-, voertuiglisensie of rybewys is. Die mense het amper n jaar gehad om onder die 2 amnesties aansoek te doen. Maar nee slapgat sal hul wees. Die stelsel van die vuurwapens stuur n sms of epos uit om jou as eienaar te herinner om aansoek te doen. Maar as jou inligting foutief is op die stelsel is die kanse nul om daardie kennisgewing te kry. So vuurwapen eienaars gaan “update” jou inligting by jou naaste Polisiestasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.