Vyf glo verbind met ‘ontvoeringsindikaat’, Melville-skietery

Van die vuurwapens waarop beslag gelê is. Foto: SAPD

Polisiebeamptes en lede van die Valke het vroeg Donderdagoggend op lede van ʼn beweerde ontvoeringsindikaat toegeslaan by ʼn huis in Kliprivier in die suide van Johannesburg.

“Die intelligensiespan van die SAPD het leidrade opgevolg in verband met ʼn ontvoering vroeër die maand en dit het hulle na die huis in Kliprivier gelei,” het brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.

Vyf mans, onder wie twee buitelanders, is in hegtenis geneem. Drie van die verdagtes sal waarskynlik van ontvoering aangekla word en die ander twee van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Daar is tydens die operasie beslag gelê op buitelandse militêre uniforms, verskeie vuurwapens, waaronder gewere en pistole, waarvan sommige in die tuin op die erf begrawe was. Dit sluit onder meer in twee AK47-gewere, ʼn Uzzi-masjiengeweer en twee haelgewere.

“Die eienaar van die huis is steeds soek en die ontvoeringslagoffers is nog nie gevind nie,” het Naidoo gesê.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, was ook Donderdag op die toneel. “Ons moet voortgaan met ons pogings om die eienaar van die huis en enigiemand anders wat met die groep verbind word, op te spoor en in hegtenis te neem. Maar belangriker is dat ons die ontvoeringslagoffer moet opspoor en veilig met sy familie herenig.”

Daar word intussen ondersoek ingestel oor die moontlikheid dat die groep verbind kan word met die Nuwejaarsdag-skietery buite die restaurant Poppy’s in Melville in Johannesburg.

Twee vroue is in die voorval doodgeskiet en ses ander gewond. Altesaam 11 mense is sowat twee uur ná die skietery in Melville in ʼn soortgelyke skietery in Newtown gewond.

Verskeie skote is omstreeks 03:00 op Mary Fitzgeraldplein, spesifiek op die BBP-gedeelte van ʼn Nuwejaarspartytjie, vanaf die brug op die M2-Suid afgevuur.

Enigiemand met verdere inligting oor die saak word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Prikkie ·

Wat op aarde is besig om in hierdie land van ons te gebeur?

Is die straf te lig of word daar te gou parool toegestaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.