Vyf in Khayelitsha doodgeskiet

(Argieffoto: SA Polisie)

Die polisie in Khayelitsha ondersoek die omstandighede rakende vyf mans wat in twee afsonderlike voorvalle Saterdagaand in dié Kaapse gemeenskap doodgeskiet is.

Volgens kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, is daar ’n vermoede dat die twee aanvalle moontlik met die dwelmhandel verbind word, maar dit sal deur verdere ondersoeke bevestig moet word.

In die eerste voorval is drie mans, onderskeidelik 34, 36 en 50 jaar oud, omstreeks 20:30 op die hoek van Nyebelele- en Nthangostraat doodgeskiet.

“In hierdie stadium is dit nie duidelik wat tot die aanvalle gelei het nie,” sê Traut.

In ’n afsonderlike voorval is twee mans, in hul 30’s, omstreeks 21:35 in Tutuweg doodgeskiet.

“Die mans was in ’n blou Hyundai-sedan toe hulle deur die insittendes van ’n wit Volkswagen Polo oorval en doodgeskiet is.”

Een van die slagoffers is op die toneel dood, terwyl die ander later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Nog niemand is in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie en die polisie vra dat enigiemand met meer inligting Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

Die gemeenskap van Khayelitsha sal Maandag ’n geleentheid kry om samesprekings met ministers in die veiligheidsgroepering, senior bestuur van die polisie en amptenare van die departement van gemeenskapsveiligheid en Stad Kaapstad te hou oor die werk wat deur die nasionale departemente en provinsiale regerings gedoen is om misdaadkwessies aan te pak.

Bheki Cele, minister van polisie, dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, en Mondli Gungubele, minister in die presidensie, sal tydens die gemeenskapsbetrokkenheid tussensektorale en tussendepartementele oplossings verskaf wat voortspruit uit die Khayelitsha-reaksieberaad, wat laas op 16 Junie gehou is.

Die gemeenskapsbetrokkenheid is ’n reaksie op hoë voorvalle van kontakmisdade wat in Khayelitsha aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Alweer, waar is die sogenaamde minister van polisie, wat so skree by ‘n vergadering.

Pannies ·

Dit raak nou rof in SA. Die polisie gaan sukkel om by al die misdaad uit te kom.
Praat nie eens van al die skuldiges vastrek nie.
Hulle sal moet die doodstraf terugbring vir voorbedagte moord om misdadigers af te skrik.

Kobus ·

Snaaks , vanoggend oor RSG nuus gehoor dat die Kommissaris van polisie bevestig het dat daar vordering teen misdaad gemaak word. Dit blyk dat sy optimisme gegrond is op twee verdagtes wat verbind word met die Kestell moorde aangekeer is. Mooi so Kommissaris, geweet jy sal ‘n verskil maak. Ek vertrou ons gaan binnekort hoor van nog 1000e arrestasies. Indien die maatstaf twee verdagtes per maand is dan is ons ins veilige hande. Doen so voort

gpsa ·

Dis eenvoudig. Kry onwettige mense uit die land en maak grense toe. Voor dit nie gebeur nie gaan dit voort gaan.

Swerwer ·

As daar dwelms by betrokke is dan is die optrede seker goedgekeur deur die huidige Regering

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.