Vyf nuwe Covid-19-gevalle by tronke aangemeld

Argieffoto

Die departement van korrektiewe dienste het Vrydag vyf nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld. Dit bring die getal bevestigde gevalle by korrektiewe dienste op 177 te staan.

“Die departement het ook drie gevalle van persone wat van Covid-19 herstel het ná drie beamptes in die Wes-Kaap negatief getoets het. Dit beteken 87 persone het reeds herstel,” het Singabakho Nxumalo, woordvoerder van korrektiewe dienste, gesê.

“Die departement bied steeds ondersteuning aan beamptes en gevangenes wat positief toets vir Covid-19.”

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het die parool goedgekeur van “lae risiko”-gevangenes in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te bekamp in Suid-Afrika se oorvol tronke, wat beskou word as ʼn hoë risiko vir besmetting.

“Die president het dié besluit geneem in reaksie op ʼn versoek van die Verenigde Nasies aan alle lande om bevolkingsgetalle by tronke te verminder sodat fisiese distansiëring en selfisolasie toegepas kan word,” het die presidensie in ʼn verklaring gesê.

Net minder as 19 000 gevangenes, uit ʼn totaal van 155 000, sal na verwagting vrygelaat word.

Gevangenes wat tot lewenslange tronkstraf gevonnis is of tronkstraf uitdien vir spesifieke ernstige misdade, soos seksuele oortredings, moord en poging tot moord, geslagsgebaseerde geweld en kindermishandeling, kom nie in aanmerking vir parool nie.

Persone wat deur die besluit geraak word, sal op parool vrygelaat word, in plaas daarvan dat hul vonnisse verlig word.

Glynnis Breytenbach, voormalige staatsaanklaer en huidige DA-LP, meen egter dié besluit gaan tot ’n groter humanitêre krisis lei as wat die president hiermee probeer vermy. Sy glo nie dit gaan moontlik wees om soveel gevangenes suksesvol op parool vry te laat nie, aangesien baie van die gevangenes wat vrygelaat word, nie gesinne of huise het om na terug te keer nie. Diegene wat wel ʼn heenkome het, kan moontlik terugkeer na ’n huis waar daar min of geen kos is nie.

Volgens Breytenbach is dit boonop onmoontlik om in die huidige ekonomiese omstandighede werk te kry. Dit is boonop selfs moeiliker vir dié met ’n kriminele rekord om werk te kry. Dié wat op parool vrygelaat word, kan dus maklik in die versoeking kom om weer in misdaad te verval.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rika ·

Oplossing : “Repatriteër hulle Robyn eiland toe…problem solved!!!

Ivana ·

Ja en nou wil ons president 19000 van hulle in die samelewing loslaat om die verspreiding in tronke te bekamp en te bevorder in die res van die land. Hoe de hel verstaan jy dit

Eerlik ·

Die aantal wat dit reeds onderlede het en herstel het daarvan regverdig nie die vrylating van 19000 nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.