Vyf sterf in huisbrand

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

’n Gesin van vyf, onder wie drie kinders, is Sondag vroegoggend in ’n huisbrand in die Geluksoord-nedersetting naby Christiana, Noordwes, dood.

Volgens brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het ’n buurman na bewering omstreeks 03:30 rook vanuit die bure se huis sien kom. Hy het na die huis gehardloop, maar al die deure en vensters was toe en gesluit.

“Die man het na sy huis teruggehardloop om ’n ysterstaaf te gaan haal om die deure en vensters oop te breek. Hy het ook ander bure van die rook in kennis gestel,” sê Mokgwabone.

“Nadat die rook in bedwang gebring is, het die man en ander bure die huis binnegegaan en gevind dat die plafon en ’n paar huishoudelike items gebrand het.

“Die liggame van twee kinders, onderskeidelik agt en 15 jaar oud, is in die sitkamer aangetref. Die liggaam van ’n driejarige seun is in ’n ander vertrek gekry terwyl ’n paartjie, onderskeidelik 38 en 48 jaar oud, dood in die hoofslaapkamer aangetref is.”

Al vyf gesinslede is op die toneel dood verklaar.

Die omstandighede van die brand word ondersoek en geen vuilspel word in hierdie stadium vermoed nie, sê Mokgwabone.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.