Vyf sterf in skietery met polisie

(Foto: Shutterstock)

Vyf moordverdagtes is Saterdagaand noodlottig gewond in ʼn skietery met die polisie in Bhucanana in die Ntambanana-polisiëringsdistrik in KwaZulu-Natal.

Kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die polisie, sê beamptes van die provinsiale taxigeweld-taakspan het op inligting gereageer toe hulle ʼn verdagte voertuig opgemerk het. “Die beamptes het hulleself voorgestel en die verdagtes beveel om stil te hou. Die verdagtes het weggejaag en ʼn hoëspoedjaagtog het gevolg.”

Die bestuurder van die verdagtes se voertuig het beheer verloor oor die voertuig en in ʼn heining vasgery. Hulle het vinnig op die polisiebeamptes begin vuur.

“Die taakspan het teruggeskiet. Vyf verdagtes is noodlottig gewond. Twee vuurwapens is in hul besit gevind.”

Die verdagtes is gesoek in verband met die moord op ʼn 31-jarige man wat op 1 Julie 2023 by ʼn taxistaanplek in Ndlangubo, Eshowe, doodgeskiet is. Die verdagtes is glo na die taxistaanplek om geld te eis wat vroeër die dag bekom is. Daar was ʼn skietery en die 31-jarige man het gesterf. Hy is op die toneel dood verklaar. ʼn Vuurwapen is langs sy liggaam gevind.

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) is in kennis gestel van Saterdagaand se skietery vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

M ·

Dankie vir die spoedige optrede deur Polisiemanne met integriteit en toewyding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.