Vyf vas wat glo miljoene van WVF buit

Thulas Nxesi. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die minister van arbeid, Thulas Nxesi, het die inhegtenisneming van vyf verdagtes wat met bedrog van miljoene rande by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) verbind word, verwelkom.

Vyf mense is die afgelope naweek in Soshanguve, Atteridgeville en Mamelodi in hegtenis geneem nadat R5,6 miljoen se Covid-19-TERS-eise wat vir honderde werkers bestem was, in ʼn enkele begunstigde se rekening beland het.

Die Valke het ook beslag gelê op vyf voertuie, insluitend ʼn Range Rover Evoque, en ander items wat met die geld gekoop is, het kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, gesê.

Die geld moes in ʼn bankrekening van ʼn arbeidsmakelaar betaal word, maar is eindelik in net een van die begunstigdes se rekening inbetaal. Dié het die geld na bewering na vriende en sakevennote oorgeplaas.

Nxesi het die spoedige inhegtenisnemings verwelkom.

“Ons het vroeër al gesê ons sal elke sent wat ons in dié tyd bestee naspoor. In samewerking met ons interne ouditeure, die kantoor van die ouditeur-generaal en gekontrakteerde forensiese ondersoekers, gee ons kennis aan diegene wat gedink het die WVF is ʼn bron van maklike geld. Julle sal opgespoor en vervolg word,” het Nxesi gesê.

Die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid het reeds suksesvol aansoek gedoen dat die geld tydelik gevries word.

Die vyf verskyn na verwagting Maandag in die handelshof in Pretoria.

Sedert die bekendstelling van die TERS-voordeel aan die begin van die afsonderingstydperk het honderde werkgewers al aangemeld dat hul TERS-voordele in verkeerde rekeninge betaal is. Talle werkgewers is ingelig dat die geld betaal is, net om later uit te vind dit het oënskynlik in ʼn ander bankrekening beland.

Nxesi het vantevore self na werkgewers gekap wat hy daarvan beskuldig het dat hulle net ʼn gedeelte van die eise aan werkers betaal.

Die DA het egter gesê dit is bykans ondenkbaar dat die beweerde bedrog en geldwasserry sonder die aktiewe of stilswyende samewerking van WVF-amptenare kon plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pappa Beer ·

Wow, R5.6m! Dis nie eers n druppel in die see as dit teen die res van die korrupte cANCer regering gemeet word nie. Wat van kopdoek se skelm tabak geld, geld wat vir kospakkies moes gaan, “business relief fund” geld wat nie aan blanke besighede gegee mag word nie? Asseblief man, dis n patetiese poging deur die skelm regering om gesig te koop en te maak of hulle op die bol is.

JohanR ·

Ja nee Pappa Beer……in Engels noem mens dit “smoke & mirrors.” Trek die aandag af met R5.6m, dan vergeet die mense van die ander amper R2 biljoen! Hou die vyf se name dop. Hulle sal iewers in die ANC opeindig met ‘n lekker job!

J ·

Wat is hulle name ? … wys asb hulle gesigte!

Wed dis ANC kaders … spesiaal ontplooi vir hulle misdaad vaardigheid!

Om die armes te BEROOF!

Misky ·

En die een wat daai finale “transfer” knoppie gedruk het en die “fout” gemaak het….. waar is daai een en moet verantwoording doen?

Gemaskerde Sopbeen ·

Die vis vrot van die kop af. Gaan kyk binne die WVF vir die eitlike skuldiges

Renier ·

hulle het seker nie gedeel nie,sal binnekort weer aangestel wees met verhoging. wie nie deel nie mag nie speel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.