Vyf veiligheidswagte by Pikitup-depot vermoor

Die wagte is by ‘n depot in Johannesburg doodgeskiet. (Argieffoto: City of Joburg/Twitter)

Die Suid-Afrikaanse munisipale werkersunie (Samwu) het sy diepe kommer te kenne gegee na die moord op vyf veiligheidswagte by ʼn Pikitup-depot in Devland in die suide van Johannesburg.

ʼn Groep gewapende mans het volgens Bafana Zundu, provinsiale sekretaris van Samwu in Gauteng, die depot Dinsdag bestorm en sewe veiligheidswagte geskiet.

“Vier van die werkers is op die toneel dood,” sê Zundu.

ʼn Vyfde werker het ʼn dag later aan sy wonde gesterf, terwyl nog twee tans in die hospitaal is.

“In hierdie stadium is die omstandighede wat tot die skietery gelei het, onbekend. Die werkers is nie van hul persoonlike besittings beroof nie en die stad se eiendom is ook nie gesteel nie.”

Michael Sun, Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir omgewing en infrastruktuurdienste, sê die skietery by die Goudkoppies-terrein het omstreeks 17:50 gebeur, kort voor die aandskof moes oorneem.

Die wagte werk vir twee private veiligheidsmaatskappye, asook vir die stad self.

Samwu sê hy is bekommerd dat werkers wat veronderstel is om die stad se infrastruktuur te beskerm, self kwesbaar is vir aanvalle.

“Om sake te vererger word die werkers nie van wapens voorsien om hulself en die stad se eiendom mee te beskerm nie. Ons is dus bekommerd oor die veiligheid van honderde veiligheidswagte in die stad wat elke dag verseker dat die stad se eiendom beskerm is,” sê Zundu.

Samwu het ʼn beroep op wetstoepassers gedoen om te verseker die aanvallers, “wat vyf families van ʼn broodwinner beroof en verskeie kinders sonder ʼn ouer gelaat het”, word gevind en boet vir hul dade.

Die vakbond het gemeenskappe in die gebied ook gevra om saam met die owerhede te werk om die boosdoeners aan te keer.

“Hierdie mense bly tussen ons. Iemand moet weet wat hulle gedoen het en ons pleit by die gemeenskap om te help om dié monsters aan te keer.”

Samwu en Sun het hul medelye met die families en die werkers by Pikitup uitgespreek en die gewonde slagoffers ʼn spoedige herstel toegewens.

Die Kliptown-polisie ondersoek die voorval, maar volgens Sun is geen inhegtenisnemings nog gedoen nie. Alle bedrywighede by die vullingsterrein is intussen gestaak terwyl veiligheidswagte na ander plekke oorgeplaas word.

Inwoners is gevra om intussen alternatiewe depots te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Jack ·

Sekuriteit in die land word ‘n baie gevaarlike werk.Die aanvallers speel nie.Hulle kom gewapen.As jy nie wakker en gereed is vir hulle nie gaan jy sterf.

Lindi ·

Sadly word hulle ook so min betaal, dat ek regtig nie weet hoe oorleef die mense nie. Hulle probeer nt ‘n wettig werk doen, en dan gebeur sulke goed.

Mauritz ·

Wat is die doel of funksie van ‘n ongewapende veiligheidswag?

Willem ·

Patroleer, Observeer, Identifiseer en Rapporteer. Gewapende reaksie-personeel of SAPD reageer op die rapport en ondersoek die voorval.

piket ·

Parlement. Howe se vensters. Nou dit. Pogings om chaos te veroorsaak. Alles anargie opwekkende aksies. Moet NIE van “regering” hulp of optrede verwag NIE. HOEKOM NIE? GO FIGURE.

JL ·

Absoluut tragies dat mense wat werk en ‘n bydra lewer, geteiken, geïntimideer en vermoor word deur ‘n klomp ghwarre.

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel met die oorledenes se familie. Waar is Hoed nou. Hoekom is hy nie teenwoordig om met die afgestorwenes se families te simpatiseer nie, rede omdat hul nie SAP Lede is nie?

Smurf ·

Vullingsterreine of stortingsterreine is nog altyd n goudmyn vir onwettige immigrante en ” asgat grawers”. Dit is n baie gevaarlike plek veral as jy alleen daar opdaag. Hierdie klink vir my soos n despuut oor ” zones’ wat skeef geloop het.

Jacobus ·

Ja dit is hoekom die partye se lede mekaar vermoor vir n plek by die krip van SA. ROMMELSTATUS.

SlinkseKoljander ·

Dit gaan lekker hier in Afrika, waar is Beke? Sy bek is maar stil deesdae

Ansie ·

Ek kan dit nie verstaan nie. Wat is ‘n sekerheidswag werd sonder ‘n wapen – veral in SA? Hierdie soort van “logika” verstom my.

Toy ·

Mnr die President, die misdaad ruk erg handuit, dit kan mos nie so aangaan nie, regtig. Dit sommer in die begin van die jaar. Dit is skokkend om die minste te se.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.