Vyfjarige dood in swembad aangetref

Mvelo Gumede het in bure se swembad verdrink. (Foto: Rusa)

ʼn Vyfjarige seuntjie is Donderdag dood in ʼn swembad by ʼn huis in Lotusville in Kwazulu-Natal aangetref.

Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het klein Mvelo Gumede Woensdagmiddag laat verdwyn toe hy in sy pa se erf by hul huis in Sun-singel gespeel het. Die pa het Rusa se hulp ontbied en ʼn soektog na die seuntjie is omstreeks 18:50 van stapel gestuur.

Die kind is die volgende oggend [Donderdag] met sy gesig na onder in die bure se swembad aangetref. Volgens Rusa het die kind “traumatiese beserings” aan sy gesig gehad. Dit is egter nie duidelik wat dié beserings veroorsaak het nie.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het die voorval Donderdag aan Maroela Media bevestig en gesê dat ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen word. Netshiunda het ook bevestig dat die kind Woensdag as vermis aangemeld is. Hy het egter nie verder oor die ondersoek of die beweerde beserings uitgebrei nie.

Rusa sê die seuntjie het kort voor sy verdwyning glo met ʼn sesjarige dogtertjie gespeel wat op dieselfde perseel as sy pa woon. Sy het egter huis toe gekeer om te eet, maar Mvelo was skoonveld.

“Polisiebeamptes het met die sesjarige kind gepraat, maar sy kon nie enige inligting verskaf nie.

“ʼn Soekspan is saamgestel en daar is op verskeie plekke in Lotusville gesoek – sonder sukses. Die soektog is omstreeks 02:30 afgelas en om 06:00 vanoggend [Donderdagoggend] hervat. Rusa se R44-helikopter is ook ingespan om met die soektog te help.”

Die sesjarige kind se tannie het glo Donderdag weer met die dogtertjie gesels om inligting te bekom oor wat dalk van die seuntjie kon geword het. Volgens Rusa was die kind sigbaar getraumatiseerd, maar het steeds geen inligting verskaf nie.

Die swembad waarin Mvelo Gumede verdrink het. (Foto: Rusa)

Rusa-lede was in dié stadium besig om in die omliggende bosse na Mvelo te soek toe ʼn inwoner hulle ingelig het dat die seuntjie in ʼn nabygeleë swembad dryf. Dit was sowat 50 meter van waar Rusa-beamptes besig was om te soek.

“Reaksiebeamptes en Rusa-paramedici het na die betrokke eiendom gegaan waar die vermiste seuntjie met sy gesig na onder in die swembad gedryf het.

“Sy liggaam is om 07:21 uit die swembad gehaal en hy is kort daarna dood verklaar. Die seuntjie het traumatiese beserings aan sy gesig gehad. Sy sandale het in die swembad gedryf. Vuilspel kon nie bevestig word nie.”

Rusa vermoed die kind het toegang tot die bure se erf verkry deur ʼn beskadigde ogiesdraadomheining.

Die seuntjie woon by sy ma in Ndwedwe, ook in KwaZulu-Natal, maar hy het vir die vakansie by sy pa in Lotusville gekuier. Hy was ʼn leerder aan die Siya Kolisi-kleuterskool in Durban.

Verdrinking in Ndwendwe

In ʼn afsonderlike voorval in die Ndwendwe-gebied, waar klein Mvelo se ma woon, het ʼn negejarige kind Woensdag in ʼn rivier verdrink.

IPSS Medical Rescue sê op Facebook dat voorlopige ondersoeke daarop dui dat die kind saam met maats in die rivier geswem het voordat hy onder die water verdwyn het.

Die voorval is om 17:00 aangemeld, waarna ʼn soektog onmiddellik van stapel gestuur is. Die soektog het tot vroeg Donderdagoggend geduur totdat die seun se liggaam gevind en aan die polisie oorhandig is.

“Dankie aan almal wat gehelp het om berusting aan die gesin te bring. Ons innige meegevoel gaan uit aan die maats en familie van die oorledene,” het IPSS Medical Rescue gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johanna ·

Ditisso hartseer. Men’s Kan nooit n kind alleen Los nie veral waar water baby is nie. Ek is nie n speurder nie maar sy beserings laat dit fishy lyk

Johanna ·

Dit Moet wees waar water betrokke is. Sorry verkeerd getik

Casper ·

Johanna,niemand is volmaak nie,maar jy het ‘n geldige argument rakende die beserings.Ek is van mening dat vuilspel nie uitgesluit kan word nie.Waar was die bure dat hulle niks agter gekom het nie.

Shakespeare ·

In daai slyk swembad sou ek ook verdrink het…..en ek is n sterk swemmer.

Perdeby ·

So die bure het nooit gesien daar is iets in hulle swembad nie vir ‘n hele middag en nag nie???

Koen ·

Dis nie ‘n swembad nie. Dis ‘n vuil slykdam waar nie eers visse sal swem nie.

Christine ·

Die bure is dalk weg met vakansie of dit was reeds donker? Die beserings aan die seuntjie se gesiggie en die trauma van sy maaitjie, laat mens dink sy weet iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.