Waar is Malema se verskoning ná ‘haatspraak’?

Julius Malema, leier van die EFF. (Foto: EFF/Twitter)

Het EFF-leier Julius Malema verskoning gevra vir sy haatspraak en aanhitsing tot geweld? En is Malema bo die wet verhewe?

Dít is net sommige vrae wat die burgerregtegroep AfriForum aan die Menseregtekommissie stel oor die instelling se belofte om Malema hof toe te sleep vir haatspraak, ʼn belofte wat die MRK klaarblyklik nie gestand gedoen het nie.

Die MRK het Malema en die EFF in November skriftelik kennis gegee om binne tien dae die uitlatings wat in Oktober tydens ʼn EFF-saamtrek in die Wes-Kaap gemaak is, terug te trek en verskoning daarvoor te vra. Die party en Malema het egter aangedui dat hy dit nie gaan doen nie.

Die MRK het ná die saamtrek op 16 Oktober in Kaapstad verskeie klagte ontvang wat verband hou met Malema se uitlatings. Die VF Plus, TLU SA en AfriForum het onder meer klagte by die kommissie ingedien. Malema het onder meer gesê: “Julle moet nooit bang wees om dood te maak nie, ʼn rewolusie vereis dat daar op een of ander punt doodgemaak moet word, want doodmaak is deel van ʼn rewolusionêre daad”.

Die MRK het gewaarsku indien Malema versuim om aan sy eise te voldoen, hy die partyleier na die gelykheidshof sal sleep om ʼn tussentydse interdik te bekom.

AfriForum sê in die lig van Malema en die EFF wat geweier het om verskoning te vra en ʼn gebrek aan verdere optrede deur die MRK, eis hy nou terugvoer oor verskeie kwessies. Dit sluit in of Malema wél verskoning gevra het indien wel, word ʼn elektroniese afskrif van die verskoning versoek.

Die organisasie vra ook:

  • Of die MRK die gelykheidshof genader het vir die toepaslike tussentydse interdik en/of ander verligting?
  • Indien die MRK nog nie die gelykheidshof genader het soos hy onderneem het om te doen nie, waarom hy nog nie stappe gedoen het nie?
  • Of die MRK ʼn finale besluit geneem het om die gelykheidshof te nader, soos hy onderneem het om te doen?
  • Of die MRK enige van die duisende individue betrek het wat gekla het oor die gewraakte optrede van Malema?

“As die MRK nie sy beloftes nakom nie, hoe kan diegene wat deur haatspraak of aanhitsing tot geweld geteiken word, enige versekering in sy toekomstige beloftes vind?” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Is Julius Malema bo die wet verhewe? Het hy te hoë profiel geword vir die MRK om aan te vat in die hof? Beskou die MRK haatspraak teenoor sekere minderheidsgroepe as minder ernstig as ander?”

Van Zyl sê AfriForum, sy lede en die breër publiek sal binnekort hopelik duidelike antwoorde hieroor kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Geert ·

Ek dink Afriforum moet herbesin oor hulle beleid en seker maak wat hulle lede verlang. Vir wat moet ons nog op sogenaamde hoë grond beweeg as dit is hoe ons in ons eie land behandel word.

miche ·

Ek het volle vertroue in Afriforum.
Hul doen die regte ding op die regte tyd.

Karpraat ·

Hy is op n vorige geleentheid op iets soortegelyks deur die Malema Regte Kommissie vrygespreek en het ook n hofsaak van aanranding gewen waar videomateriaal beskikbaar was en teen hom gebruik is. Moenie verbaas wees as hy weer wegkom nie. Daar is nog die saak van die onregmatige afvuur van n vuurwapen by n saamtrek ook uitstaande en dit lyk of hy daarmee ook gaan wegkom want dit draal ook al n paar jaar.

Perdeby ·

Indien die MRK niks doen omtrent dit nie AfriForum privaat vervolging, dis al wat lyk my enige impak het.

Jannie van Niekerk ·

Malema besit vir Gaum en Nissen derhalwe sal die Malema Regte Kommissie absoluut NIKS doen teen die koddige nar nie.

Herman L ·

Is die MRK enigsins bevoeg of gee hulle net nie ‘n flenter om vir wetsgehoorsame Suid-Afrikaners nie?

Roek ·

En wat beteken die verskoning , absoluut niks, hy kry ver te veel aandag in die media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.