Waarnemende regter betrek by padwoedevoorval

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

ʼn Senior advokaat van Pretoria, wat ook ʼn waarnemende regter is, word by ʼn padwoedevoorval betrek waartydens ʼn motoris glo in sy nek en been gesteek is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê egter dié senior regsgeleerde spring nou vervolging vry weens sy aansien in die regsberoep.

Die privaatvervolgingseenheid is onlangs deur Conrad Pretorius genader oor ʼn vermeende padwoedevoorval wat hom met “lewensgevaarlike beserings” gelaat het.

Pretorius en sy vrou het na bewering op 1 Augustus by ʼn verkeerslig in Menlopark gestop wat buite werking was. Daar was na bewering ʼn woordewisseling tussen Pretorius en die advokaat, wat in ʼn ander voertuig was.

Die woordewisseling het glo daartoe gelei dat die advokaat vir Pretorius sowat 5 km deur die strate van die woonbuurt gejaag het, voordat hulle in ʼn doodloopstraat tot stilstand gekom het.

Daar word beweer dat Pretorius en die advokaat uit hul voertuie geklim en mekaar gekonfronteer het. Pretorius voer aan dat die advokaat hom toe met ʼn skerp voorwerp in die nek gesteek het, waarna hulle handgemeen geraak het en hy ook in sy been gesteek is.

Pretorius het glo kort daarna na sy motor teruggekeer en hy en sy vrou het na die naaste hospitaal gery vir behandeling.

Pretorius is by die hospitaal opgeneem en sowat ʼn week later eers ontslaan.

Conrad Pretorius het ernstige beserings tydens ‘n vermeende padwoedevoorval opgedoen. (Foto: Verskaf)

Volgens die privaatvervolgingseenheid het Pretorius ʼn saak van poging tot moord teen die advokaat aanhangig gemaak terwyl hy in die hospitaal was. Dit het egter kort daarna aan die lig gekom dat die advokaat ook ʼn saak teen hom aanhangig gemaak het.

Pretorius het na bewering meer as vyf prokureurs genader om hom te verteenwoordig, maar almal het hom weggewys as gevolg van die advokaat se hoë aansien in die regsbedryf.

Pretorius het eindelik AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê in ʼn brief aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) dat Pretorius op 17 Augustus ʼn oproep ontvang het om homself by die Brooklyn-polisiestasie oor te gee.

Pretorius het op 22 Augustus na die polisiestasie gegaan, waar hy beweer dat die ondersoekbeampte in die saak en die advokaat se regsverteenwoordiger hom probeer intimideer het om die saak teen die advokaat te laat vaar.

Volgens Nel is daar aan Pretorius gesê dat hy óf “die probleme [moet] uitsorteer” óf albei partye sal in hegtenis geneem word.

“Ons kliënt [Pretorius], wat vasbeslote is dat geregtigheid moet seëvier, het nie voor die dreigement van inhegtenisneming geswig nie, en geweier om die saak te onttrek,” sê Nel.

Pretorius is dae later in hegtenis geneem en het ʼn kennisgewing op sy selfoon ontvang dat die advokaat ook vasgetrek is. Albei sou op 25 Augustus vir die eerste keer in die hof verskyn het.

Nel beweer egter dat die advokaat op 25 Augustus “vry” in die gange van die hof rondgeloop het, maar nooit as ʼn beskuldigde in die hof verskyn het nie.

Pretorius het wel in die hof verskyn en sy saak is tot 14 September uitgestel vir verdere ondersoek.

Op 28 Augustus het dit onder die privaatvervolgingseenheid se aandag gekom dat die staatsaanklaer in die advokaat se saak glo besluit het om nie die advokaat te vervolg nie. Die rede was glo dat daar nie genoeg bewyse teen hom was nie.

Nel bevraagteken in sy brief aan die NVG of die advokaat in die eerste plek in hegtenis geneem is soos beweer is, en waarom die vervolging van ʼn prima facie-saak van poging tot moord summier net laat vaar is.

“Die NVG se neiging om selektiewe vervolgings in te stel gaan klaarblyklik onverpoos voort,” sê Nel.

“Die stappe wat gedoen is om hierdie saak te laat verdwyn, is egter tevergeefs.”

Pretorius is vasberade dat die advokaat vervolg moet word, en indien die NVG nie sy besluit hersien nie, sal AfriForum se privaatvervolgingseenheid private vervolging instel.

Nel het ook ʼn beroep op die NVG gedoen om ʼn interne ondersoek na die advokaat se optrede van stapel te stuur. Indien hulle versuim om dit te doen, sal die advokaat se beweerde gedrag sedert die padwoedevoorval na die NVG se bestuur verwys word.

“Die NVG skuld die samelewing die sekerheid dat beweerde oortreders met politieke verbintenisse nie teen vervolging beskut sal word nie, en dat mense se statuur in die regsberoep hulle nie teen vervolging sal beskerm nie,” sê Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mieke ·

Is dit nie so as ‘n regs persoon aan ‘n misdaad skuluig bevind word, hy sy regslisensie sal verbeur,?

Wondermaarnet ·

Laat sluit die gemors toe. Hy dink omdat hy ‘n regsgeleerde is hy is “untouchable” soos die kaders in die land.

Mieke ·

Dan wil ek ook weet wat gedoen en gesê is voor die padwoede insident…

Anel ·

Nou hoekom word sy naam nie bekend gemaak nie, of ‘n foto van hom geplaas nie? Hoekom word die slagoffer nie beskerm nie? Dis ‘n wonder sy adres en foonnommer word nie ook gepubliseer nie!!!!

Bolandse Nooi ·

Want die ander een se naam mag eers genoem word na hy gepleit het in ‘n hof. “Onskuldig tot skuldig bewys” en al daai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.