Wag geskiet terwyl Eskom-werkers aan kabels werk

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Veiligheidswag is vroeër vandeesweek in Mabopane in Tshwane geskiet terwyl hy Eskom‑werkers begelei het wat kabels in die gebied moes vervang.

Hoewel die wag net geringe beserings opgedoen het, meen Eskom dat hy moontlik drastiese stappe sal moet doen indien voorvalle soos dié voortduur.

Kith Maitisa, Gautengse bestuurder van veiligheid, gesondheid, omgewing, kwaliteit en sekuriteit by Eskom, sê die voorval het plaasgevind terwyl tegnici besig was om kabels te vervang om kragtoevoer na Mabopane Blok D te herstel.

“ʼn Motor met vier insittendes het langs die veiligheidswag stilgehou waarna twee gewapende mans uitgespring en die wag geskiet het. Die verdagtes het ook die wag se dienswapen gebuit,” sê Maitisa.

Die beseerde wag is na ʼn plaaslike mediese fasiliteit geneem vir behandeling en is die volgende dag ontslaan.

Die voorval is reeds by die plaaslike polisiestasie aangemeld, wat die saak verder ondersoek.

“Dit is kommerwekkend dat hierdie voorval nie net die derde van sy soort in hierdie gebied is nie, maar ook dat sommige lede van die gemeenskap ons tegnici dreig terwyl hulle herstelwerk probeer doen,” sê hy.

“Dit is onaanvaarbaar dat ons werknemers veiligheidswagte nodig het om hulle teen aanvalle te beskerm terwyl hulle gemeenskappe se kragtoevoer probeer herstel.”

Maitisa het bygevoeg dat Eskom nou “geen ander keuse het nie” as om sy dienste aan gebiede te onttrek waar die lewens van sy werknemers bedreig word.

“Terwyl ons die jongste gewelddadige optrede teen ons werknemers veroordeel en gemeenskappe aanspoor om nie by sulke misdade betrokke te raak nie, is ons dankbaar dat hierdie voorval nie tot enige lewensverliese gelei het nie en dat ons kollegas minstens by die huis kan herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.