Walvis naby Dasseneiland ontknoop

Die jong boggelrugwalvis het naby Dasseneiland in ‘n tou verstrengel geraak. Die walvis is met spesialistoerusting losgesny en was ongedeerd. (Skermgreep: SAWDN)

ʼn Jong boggelrugwalvis van omtrent 7 m lank is naby Dasseneiland aan die Weskus gered toe dit in toue verstrengel geraak het.

Dasseneiland is sowat 10 km suidwes van Yzerfontein.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse walvis-ontknopingsnetwerk (SAWDN), het gesê beamptes van die departement van landbou, bosbou en visserye het Vrydagoggend alarm gemaak oor die verstrengelde walvis.

Vrywilligers van die netwerk in Kaapstad en Yzerfontein is met twee reddingsbote van die Nasionale Seereddingsinstituut ontplooi en het die jong walvis verstrengel in ʼn tou aangetref. Die tou was aan die seebodem vasgemaak en ook aan twee boeie gekoppel. Dit is deel van ʼn navorsingslyn van die departement in die gebied, het Lambinon gesê.

Vrywilligers het gespesialiseerde toerusting gebruik om die toue los te sny.

“Die walvis het gesond gelyk ná dit losgesny is en het met selfvertroue weggeswem,” het Lambinon gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.