Warmer weer gou hier

(Foto: Pixabay)

Ná ʼn lekker lang en koue winter – en selfs sneeu in die middel van September in die Wes-Kaap – is warmer weer volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens om die draai.

Volgens Lehlohonolo Thobela, ʼn voorspeller by die weerdiens, is die kouefront met sulke uiterste toestande nie algemeen vir hierdie tyd van die jaar nie, maar Suid-Afrikaners kan van Donderdag maar gerus hul plakkies gaan uithaal en die kortbroeke begin stryk.

“Ons kry normaalweg koue toestande net ná die lente wat gewoonlik winderige toestande meebring, maar nie sneeu nie,” sê Thobela.

“Van Donderdag behoort die somer weer kop uit te steek en warmer temperature kan dan in die sentrale dele van die land verwag word.”

Thobela sê vroeë voorspellings is dat Suid-Afrikaners vir ʼn droë somer moet voorberei.

“Hoewel sekere dele van die land lentereën ervaar sal El Niño gou droër weerstoestande meebring.

“Die oostelike dele van Suid-Afrika, veral in die laat somer, sal na verwagting lae reënval ondervind,” sê Thobela.

Volgens voorspellings kan Suid-Afrikaners dus koel tot warm weertoestande vandeesweek verwag met warmer weer wat van Donderdag oor die sentrale dele van die land sal heers.

“Daar is egter nóg ʼn kouefront wat die suidelike dele van die land sal tref en Donderdag ʼn 30%-kans op reën aan die Weskus meebring.”

Die sentrale en oostelike dele van die land sal na verwagting nie binnekort reën kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Faraway ·

Terwyl als om ons verander, vreemd is en uitmekaar val …. val als eintlik in plek

George ·

Winter was soos alle ander, nie te lank nie, koelerig, handjie vol dae regtig baie koud, maar standaard.

Sandra ·

weet nie waar jou standaard inkom nie, want die Kaap het ‘n uiterste winter gehad, en ek is nie vandag se kind nie

daarsdit ·

Die weer in SA is soos beurtkrag. Mens wag maar en kyk, as hulle se dis warm is dit nie, as hulle se dis koud is dit nie en 30% reen is definitiewe reen. Oor 60-70% dan kyk ons maar of dit gaan of nie. Die weer mene weet net so min soos Eskom se mense

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.