Waterberg se wildehonde: Swerwende spooktrop nou veel veiliger

Die trop word beskou as meesters daarvan om onder die radar te beweeg en hulle spog met ʼn 100%-oorlewingsyfer, amper ongekend vir Afrika-wildehonde. (Foto: Christel Cornelissen)

Hulle noem die trop die spookhonde van die Waterberg. En dit is waarskynlik danksy hul vermoë om haas geruisloos skielik te verskyn en dan weer in die digte Bosveld te verdwyn, wat tot dusver die trop se oorlewing verseker het.

Wanopvattings en onkunde oor Afrika-wildehonde was besig om dié besonderse spesie tot op die rand van uitwissing te dryf. Wêreldwyd is daar net sowat 6 500 van die diere oor; in Suid-Afrika ʼn skamele 650.

Die Waterberg-trop is een van die enigste vrylopende troppe wildehonde in die land. Hul beskerming en oorlewing is in hierdie stadium hoofsaaklik te danke aan die onvermoeide werk van die Waterberg Wild Dog Initiative (WWDI), ʼn gemeenskapsgebaseerde projek wat hom beywer vir die beskerming van die trop.

Dit is ‘n besonder skugter trop wat voor die aanvang van die bewaringsprojek selde gesien is. (Foto: Christel Cornelissen)

Die WWDI fokus veral daarop om plaaslike grondeienaars te ondersteun wat as gashere vir die trop optree en hulle goedgesind is, maar veral ook om die konflik wat tussen die trop en mense ontstaan te ontlont.

“Hierdie bevolking is uiters belangrik omdat dit een van die Suid-Afrika se laaste troppe vrylopende Afrika-wildehonde is. Hulle word nie ingeperk deur grense of heinings of reservate nie en kom die gebied natuurlik binne en verlaat dit ook so,” verduidelik Reilley Mooney, projekkoördineerder.

Nie almal is die wildehonde egter goedgesind nie en Mooney en haar span ondersteuners werk onverpoosd om bewusmaking oor die lot van die spesie te skep en inwoners van die gebied met feite oor die diere toe te rus.

Die huidige Waterberg-trop bestaan uit 12 volwasse honde en ʼn onbekende hoeveelheid klein hondjies wat tans in ʼn goed beskermde lêplek grootgemaak word. Die trop swerf gewoonlik oor ʼn gebied van sowat 65 000 hektaar, of oor sowat 55 eiendomme in private besit. Dit het dit vantevore besonder moeilik gemaak om die trop te siene te kry en benewens spore op ʼn stofpad of oorblyfsels van hul prooi was daar min teken van die trop.

Reilley Mooney van die Wateberg Wild Dog Initiative luister of sy die sein wat die wildehonde se halsbande uitstuur, kan hoor. (Foto: Maroela Media)

Dié spesifieke trop word boonop beskou as meesters daarvan om onder die radar te beweeg en hulle spog met ʼn 100%-oorlewingsyfer, amper ongekend vir Afrika-wildehonde. Dit is waarskynlik dié vermoë om in die veld te verdwyn wat hulle tot dusver aan die lewe gehou het.

Wanneer daar egter kleintjies is, soos nou, bly die trop in ʼn beperkte gebied tot die jongspan sterk genoeg is om self die wêreld aan te durf. Dit skep ʼn geleentheid om hulle fyn dop te hou.

Drie honde van die trop is danksy die bewaringsprojek reeds met halsbande toegerus waarmee hul bewegings en gedrag gemonitor word. Nie net verskaf die bande waardevolle navorsingsinligting nie, maar dien ook as afskrikmiddel vir diegene wat Afrika-wildehonde as ʼn oorlas beskou wat van kant gemaak moet word. Indien daar dus byvoorbeeld beweer word dat die trop verantwoordelik is vir vee- of wildverliese, is dit makliker om vas te stel of die trop in daardie stadium wél naby die betrokke plaas was.

Ekotoerisme-projek

In Suid-Afrika is daar tans net sowat 650 Afrika-wildehonde oor. (Foto: Christel Cornelissen)

Die wildehonde se gebruik om so te sê kamp op te slaan terwyl die jong hondjies groei, word nou ook gebruik as ekotoerismegeleentheid en die opbrengs daarvan word gebruik om private grondeienaars op wie se eiendom die trop jag, vir enige verliese te vergoed.

Dit beteken wanneer die trop op ʼn spesifieke plaas ʼn prooi jag – gewoonlik twee keer per dag – kan die grondeienaar finansieel vergoed word vir die verlies sodat die wildehonde nie as ʼn bedreiging vir die volhoubaarheid van die plaas beskou word nie. In hierdie stadium, terwyl die klein hondjies op een plek gehou word, beperk die trop sy bewegings tot oorwegend drie plase. Al dié grondeienaars is die trop goedgesind en by hul bewaring betrokke, maar Mooney sê die trop verkeer in lewensgevaar wanneer hulle op die “verkeerde” plaas beland.

Dit is ʼn uitsonderlike belewenis om die “geverfde” honde van naby te aanskou, iets wat voor die bekendstelling van die bewaringsprojek byna nooit gebeur het nie. Die trop is veel stiller as byvoorbeeld troppe wat in die Krugerwildtuin aangetref word, maar danksy die ekotoerismeprojek en die halsbande wat hulle bewegings monitor, is die ontwykende groep nou veel makliker om op te spoor.

ʼn Voorafopgeneemde roepsein word gebruik om die trop te lok en ʼn rooibok, gewoonlik ʼn skenking van een van die jagplase in die omgewing, word uitgesit sodat besoekers die trop ʼn klipgooi ver kan dophou. Dié gebruik om hulle te “roep” en te kondisioneer dat kos daarmee gepaard gaan, beteken ook die diere kan makliker verdoof word, indien nodig.

Drie van die honde in die trop het halsbande wat help om hul bewegings dop te hou. Dit dien ook as bykomende beskermingsmaatreël. Die halsbande is egter peperduur. (Foto: Christel Cornelissen)

Die dinamika in die trop is verstommend en die diere se onderlinge interaksie aangrypend. Die Waterberg-trop se alfa-teef loop mank weens ʼn gebreekte voorpoot wat nooit behoorlik genees het nie – en sou dit enige ander spesies gewees het, sê Mooney, sou sy lankal dood gewees het.

Wildehonde pas egter aan om die swakkeres onder hulle ook te beskerm. Jong of swakker diere word toegelaat om eerste aan die platgetrekte prooi te vreet en dan eers val die sterker lede van die trop aan die prooi weg. Kos word opgevreet en dan weer in die lêplek opgebring waar die klein hondjies of lede van die trop wat agtergebly het om hulle te beskerm, kans kry om te eet.

John Thomson, visepresident van Future Toyota en self ‘n groot bewaringsgesinde, bespied die bosse vir enige teken van die trop se jong hondjies. (Foto: Maroela Media)

Twee tewe in die trop is in Maart vanjaar na die Mabula- private wildreservaat verskuif waar hulle saam met twee reuns wat op eie stoom daar opgedaag het, nou ʼn trop vorm. Mooney sê dit was aangrypend om te sien hoe die trop gewag en geroep het vir hul maats wat verskuif is. Die nuwe trop by Mabula het egter reeds ʼn hegte band gevorm en hul hervestiging word beskou as ʼn belangrike stap in die langtermynbewaring van die spesie.

Die motorvervaardiger Toyota is een van die groot ondersteuners van die projek en het verlede jaar ʼn bakkie geborg en operasionele finansiering verskaf om die Waterberg-trop te help beskerm.

John Thomson, visepresident van Future Toyota, sê die handelsmerk word graag gebruik deur boere, wildboere en ook as wildbesigtigingsvoertuie. Dit is vir die maatskappy belangrik om te help omsien na Suid-Afrika se nalatenskap en net soos met Toyota se noue betrokkenheid by renosterbewaringsprojekte, is die wildehondprojek ʼn geleentheid om terug te ploeg in die gemeenskap wat die maatskappy ondersteun.

Toyota ondersteun die projek en het onder meer ‘n bakkie verskaf wat gebruik word om die trop te monitor. (Foto: Maroela Media)

“Die grootste ding wat ons vir die wildehond- en renosterprojek kan doen, is om mobiliteit te verskaf. Dit is waarin ons spesialiseer en daarom pas die projek uitstekend by ons handelsmerk.”

  • Besoek die Waterberg Wild Dog Initiative se Facebook-blad hier en kry meer inligting oor die bespreking van wildbesigtigingsritte om die diere van nader te beskou.
  • Maroela Media se besoek aan die Waterberg Wild Dog Initiative is moontlik gemaak danksy Toyota.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ontnugterde senior ·

Ek is mal oor wildehonde. Hulle is so ‘n interessante spesie. Komaan boere beskerm hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.