‘Waterveiligheid moet prioriteit wees’

(Foto: Cam James/Unsplash)

Die somervakansie het uiteindelik aangebreek en duisende Suid-Afrikaners stroom na strande, poele en waterparke om aan die versengende hitte te ontsnap. Dit is egter van sleutelbelang om veiligheid te prioritiseer om ongelukke te voorkom en ʼn veilige vakansie vir almal te verseker.

Luidens ʼn verslag van die internasionale joernaal vir omgewingsnavorsing en openbare gesondheid verdrink byna 1 500 mense jaarliks in Suid-Afrika, van wie 29% (ongeveer 450) kinders onder 14 jaar is.

In die afgelope jaar was daar ʼn 20%-toename in verdrinkings en slegs in die afgelope drie maande is daar 150 gevalle van verdrinkings oor die hele land aangeteken.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die afgelope weke oudergewoonte ʼn beroep op mense gedoen om veilig te wees in alle wateraktiwiteite gedurende die vakansie.

“Een van die eenvoudigste dinge wat jy hierdie somer kan doen om veilig te bly is om ʼn strand te besoek waar lewensredders aan diens is en om net tussen die rooi en geel vlaggies te swem,” sê Rebecca Carter-Smith, die Wes-Kaap se lewensreddersbestuurder by die NSRI.

“Daar is baie ander maniere waarop jy jouself en ander veilig kan hou, soos deur te leer hoe om kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toe te pas, seker te maak jy weet om 112 in ʼn noodgeval te skakel, of om die NSRI-noodnommer (087 094 9774) op jou foon te stoor voordat jy strand toe gaan.”

Kingstrand, Port Elizabeth (Foto: southafrica.net)

Sy sê alkohol is een van die hoofoorsake van verdrinkingsterftes in die land omdat dit mense se oordeel aantas en die doeltreffendheid van toesig oor kinders rondom water benadeel – wat hul lewens in gevaar kan stel.

“Sleurstrome hou ook ʼn wesenlike gevaar in en kan jou maklik onkant betrap en dieper die water in trek. Lewensredders is egter opgelei om hierdie gevaarsones raak te sien en besoekers te lei oor waar hulle die water veilig kan geniet.”

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, sê die volgende voorsorgmaatreëls moet te alle tye geprioritiseer word:

  1. Verseker dat ʼn verantwoordelike volwassene altyd toesig hou, veral oor kinders en minder ervare swemmers.
  2. Swem by strande waar en wanneer lewensredders aan diens is.
  3. Bly binne aangewese swemgebiede en wees bewus van potensiële gevare soos sterk strome en dieptes.
  4. Moenie alkohol drink en dan swem nie, aangesien dit die risiko van verdrinkings verhoog.
  5. Maak seker dat lewensreddende toerusting, soos reddingsbaadjies, reg gebruik word en in ʼn goeie/werkende toestand is.
  6. Moenie alleen swem nie. Swem altyd saam met ʼn maat.
  7. Vermy dit om self iemand te probeer red wanneer jy sien hulle is in gevaar. Skakel 112 in ʼn
  8. Pasop vir opblaasbande, bote en speelgoed.
  9. Weet waar die naaste nooddienste is en hou ʼn noodsituasieplan gereed vir alle wateraktiwiteite.

“NSRI-lewensredders is vanjaar toevertrou om na 65 strande oor die hele land om te sien, teenoor 21 verlede jaar. Toegerus met vinne, duikpakke, Malibu-reddingsborde en torpedo-boeie, is NSRI-lewensredders goed voorbereid om waternoodgevalle doeltreffend te hanteer.”

Argieffoto (Foto: NSRI)

Respekteer die seelewe

Nico Booyens, mariene bioloog en hoofnavorser by die haainavorsingseenheid in Mosselbaai, sê dit is van sleutelbelang om ʼn bewuste benadering tot veiligheid by die see en op ons strande te handhaaf.

Hy sê die see het sy eie dinamika en risiko’s en dit is noodsaaklik vir lede van die publiek om bewus te wees van verskeie faktore wat gevare inhou. Hy benadruk dat nie net mense se veiligheid in ag geneem moet word nie, maar dat seelewe ook beskerming nodig het.

“As ons vermaak by die see soek, moet ons bewus wees van ons omgewing en die natuurlike gedrag van die seelewe.

“Ons moet ook bewus wees van hoe ons onsself naby die see gedra om nie die seelewe se natuurlike gedrag en habitat te versteur nie.”

  • Hoewel dit belangrik is om daarop te let dat haai-aanvalle nog relatief skaars is, kan verskeie faktore tot so ʼn aanval bydra. Troebel water kan die kans verhoog dat ʼn haai ʼn mens met ʼn ander prooi verwar. Booyens moedig vakansiegangers aan om bewus te wees van watertoestande en dit te vermy as hulle nie daardeur kan sien nie.
  • Gebiede met robbe en visse moet te alle tye vermy word omdat dit haaie na die omgewing lok.
  • Volgens Booyens neem haai-aktiwiteit toe tydens sonsopkoms en sonsondergang. “Wees bedagsaam en vermy die see gedurende hierdie tye.”
  • Sommige haaispesies migreer oor lang afstande, wat met menslike ontspanningsaktiwiteite kan oorvleuel. Booyens beklemtoon die belangrikheid daarvan om plaaslike haaimigrasiepatrone te verstaan.
  • Booyens waarsku vakansiegangers ook om weg te bly van dooie seediere wat in die see dryf omdat dit haaie kan lok.

Booyens sê besoekers wat op enige seelewe afkom wat gestrand is, moet ʼn veilige afstand hou.

“Wilde diere kan gestres wees en menslike inmenging kan hul toestand vererger.

“Moet ook nie probeer om die dier self te red nie. Bel eerder plaaslike reddingsorganisasies of die betrokke owerhede om die situasie te assesseer en die regte stappe te doen.

“Moenie kos of water vir die gestrande dier gee nie. Hul dieetbehoeftes is spesifiek en verkeerde voeding kan skade veroorsaak.”

Hy sê mense wat op ʼn gestrande dier afkom, moet akkurate inligting oor die gestrande dier se posisie, grootte en toestand verskaf wanneer die situasie by gesagsorganisasies aangemeld word.

“Die vakansieseisoen moet ʼn tyd van vreugde, ontspanning en natuurgenot wees.

“Dus, terwyl jy die see en ander wateraktiwiteite hierdie vakansie geniet, moet jy onthou om bewus te wees van jou omgewing, veilig te bly, en die wonder van ons mariene erfenis te waardeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.