Wees ʼn slim verbruiker dié feestyd

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Verbruikers wat reeds elke sent twee keer moet omdraai, moet ook in die komende feestyd groter omsigtigheid aan die dag lê wanneer dit by hul finansies kom.

Ná tien agtereenvolgende rentekoersverhogings van 4,75 persentasiepunte sedert November 2021, en skerp stygings in kospryse, die petrolprys, elektrisiteitspryse en ander lewenskoste, het verbruikers ʼn moeilike jaar agter die rug.

“Die einde is egter nog nie in sig vir vuisvoos verbruikers nie en daarom moet verbruikers in die feestyd met groot omsigtigheid met hul finansies omgaan ten einde te verseker dat hulle nie die nuwe jaar met ʼn agterstand begin nie,” sê Riaan Grobler, hoof van adviesdienste by Everest Wealth.

Volgens Grobler was die afgelope Swart Vrydag-naweek reeds geleentheid vir verbruikers om slim met hul geld om te gaan.

“Verkope tydens Swart Vrydag was laer as verlede jaar en dit wys dat verbruikers onder finansiële druk is. Die meeste geld is op kruideniersware bestee, wat weereens wys dat verbruikers hul geld eerder op noodsaaklikhede as luukshede spandeer,” sê hy.

“Daar was uiteraard steeds diegene wat skuld aangegaan het om hul leefstyl vol te hou, terwyl daar eintlik afgeskaal moet word. Dit is kommerwekkend, aangesien dit hul uiteindelik baie meer gaan kos en dat dit tot verdere skuldprobleme in Desember en veral Januarie kan lei.”

Navorsing deur kredietburo’s het reeds daarop gewys dat al meer mense kredietkaarte, klererekeninge en betaaldaglenings gebruik as maniere om deur die maand te kom en dat Suid-Afrikaners al meer sukkel om hul lewenstandaard te onderhou.

“Baie verbruikers gebruik krediet om te oorleef en daar is ook ʼn skerp styging in die getal mense wat nie hul skuld kan afbetaal nie. Verbruikers kan dit bloot net nie meer bekostig nie en gaan boonop nog skuld aan om aan die lewe te probeer bly,” sê Grobler.

“Dis noodsaaklik om te besef hoe vinnig jou finansiële posisie weens mikro- en makro-faktore kan verander. Begroot dus voldoende vir die komende feestyd en dink twee keer oor elke rand wat jy uitgee. Diegene wat gelukkig is om ʼn bonus te ontvang moet probeer om minstens ʼn gedeelte daarvan aan skuld af te staan, ʼn gedeelte daarvan te spaar en ʼn gedeelte daarvan uit te hou vir ʼn noodfonds.”

Dink langtermyn

Daar is wel al lig in die toneel. Kenners voorspel dat lewenskoste voortaan nie so skerp sal toeneem nie, en die brandstofprys vir Desember gaan reeds noemenswaardig daal ondanks die reusestygings wat dit deur die jaar beleef het. Dit terwyl die rentekoers na alle verwagtinge teen winter volgende jaar gaan verlaag.

“Die skerp styging in lewenskoste het tot gevolg dat al hoe meer mense slegs op hul basiese behoeftes moet fokus om aan die lewe te bly,” sê Grobler.

“Dit blyk dat mediesefondsbydraes en skoolfonds volgende jaar ook aansienlik gaan styg terwyl verbruikers reeds duisende rand meer op motor- en huispaaiemente betaal.”

Hy sê dit alles beteken verbruikers gaan net versigtiger met hul finansies moet werk, veral oor die feestyd.

“Werknemers word gewoonlik vroeër in Desember betaal, maar dit kan tot gevolg hê dat verbruikers sukkel om in Januarie met hul geld uit te kom as hulle nie oor die feestyd omsigtig daarmee omgaan nie.

“Dit is belangriker as ooit dat verbruikers behoorlik moet begroot om seker te maak hulle kan met die prysstygings tred hou en om te bepaal waar hul uitgawes kan sny. Elke ekstra sent moet gebruik word om skuld af te betaal en om te probeer spaar om ʼn noodfonds te hê.

“Verbruikers moet verder kyk waar hulle moontlik geld kan bespaar. Dit sluit onder meer in om slim te wees met belasting en met beleggings. Verbruikers moet langtermyn dink terwyl daar gepoog word om finansiële storms te trotseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.