Weg van staatsmag met MTBR, vra DA

Tito Mboweni, minister van finansies. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die minister van finansies, Tito Mboweni, en die nasionale tesourie moet met Woensdag se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) wegbeweeg van die huidige staatsgebaseerde ekonomiese fokus, anders gaan die land sy ekonomiese soewereiniteit verloor.

Dié waarskuwing is Maandag aan die hand van die tesourie se eie syfers en vermanings gerig deur die DA se parlementêre woordvoerders oor finansies, Geordin Hill-Lewis en dr. Dion George.

Hill-Lewis het gesê daar is geen manier waarop die ANC-regering kan voortgaan om die gemors te maak wat van alle staatsbestuurde instellinge gemaak word sonder dat Suid-Afrikaners se mag om te besluit oor wat van die land se ekonomiese toekoms word, in die proses opgesê word nie.

Hy het uitgewys dat Mboweni en die tesourie telkens uitwys dat die gaping tussen die geld wat die staat inkry en die geld wat die staat bestee, heeltemal onvolhoubaar is.

Dan sê die tesourie en die minister presies wat die regering moet doen, maar dan doen die regering dit nie en die situasie versleg.

Wat die DA dus wil hê, is dat Mboweni en die tesourie vir ’n slag dit doen wat hulle weet gedoen moet word, beginnende daarmee om die staatskuld te stabiliseer en met verloop van tyd te begin vereffen.

“Die staat moet die gapende bek van die seekoei begin toedwing; die gaping tussen die staat se inkomste en uitgawes. Die eerste stap is om die staatsdiens se salaris- en loonrekening in te kort,” het Hill-Lewis aangevoer.

Die vier stappe wat die DA dus aanvra, is skuldstabilisering, die instel van ’n formele skuldplafon, die besluit om die salarisrekening eerder as die lewering van basiese dienste te besnoei en die besluit om geen verdere reddingsboeie aan staatsondersteunde ondernemings te verskaf nie – en by name nie aan die SAL nie.

Hill-Lewis het gemaan dat enige besluit om nie hierdie stappe te volg nie, binnekort sal lei tot ’n soewereine welvaartkrisis waarin Suid-Afrika se beleid bepaal sal word deur skuldeisers, hetsy in Beijing of in Washington.

Nogtans meen die DA dat hoewel Mboweni al hierdie dinge weet en die regte ding probeer doen, hy nie die steun van sy kabinetskollegas geniet nie en die regering uiteindelik presies gaan doen waarteen die minister en die tesourie self waarsku, beginnende by ’n reddingsboei van R10,5 miljard aan die SAL.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Drikus ·

Om SAL te probeer red – is soos ‘n man wat in die diepsee water trap en amper verdrink, want hy het reeds ‘n 10kg Lood om sy regter voet , nou dink hy gaan hy alles beter maak om nog ‘n 10kg lood aan die linker voet ook vas te maak. Dan is alles mos nou mooi gebalanseerd of hoe ?

Pieter ·

Ja ou TITO jy is deel van die ANC sirkus raak ontslae van jou broer gohrdan.

Persheks Adri ·

SAL is mors van ons geld wanneer gaan hulle dit verstaan? Dit kan NIE gered word NIE. Tito, ek hoop van harte jy kry die nodige steun, want duidelik hou jou maters nie van jou nie… Sny die hele lot se salarisse dan gaan jy beslis ‘n HELSE groot verskil sien. Hulle sit net en word betaal vir snot rol daar en stories uit dink om nog te kan plunder tsssssk

Maria ·

Mens hoop maar daar is GEEN geld in die begroting vir die redderlose SOE’s nie. Die geld is op, hoe moeilik is dit om te verstaan? Die regering kan glad nie die land se ekonomie bestuur nie. Dit is onmoontlik. Droewig dat hulle nog dink soos hulle dink

Gert Johannes ·

Die enigste manier om SAL te red is raak ontslae van 80% onbevoegde en oorbevolkte werknemers. Grondpersoneel in vergelyking met res van wêreld 4x te veel en oorbetaald, kan nie kompeteer nie. Stel bevoegde personeel aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.