“Ons lewe het in ’n oomblik verander.”
Wat veronderstel was om ’n ontspannende gesinsvakansie in Gauteng te wees, het in ’n absolute nagmerrie vir ’n ouerpaar van Gordonsbaai in die Wes-Kaap ontaard nadat hul gesin enkele dae ná Kersfees in ’n ernstige motorongeluk in Johannesburg betrokke was.
Die ongeluk op die N12 het die lewe van Gerhard van Niekerk en sy verloofde, Madelein van Zyl, se agt weke oue babaseuntjie geëis en Madelein in ’n ernstige toestand gelaat.
Intussen het vriende ingespring om die hoop mediese rekeninge te help delg.
Zane Groenewald, bemarkingsbestuurder van BackaBuddy, sê ’n motoris het op 28 Desember omstreeks 17:30 glo die gesin se Jeep Grand Cherokee links agter op die N12 getref. Gerhard het beheer oor die gesinsvoertuig verloor en teen ’n berg langs die pad gebots.
Gerhard (29) en die paartjie se oudste seun, Gregory (4), het ligte beserings in die ongeluk opgedoen. Madelein (27) het egter verskeie ernstige beserings, waaronder aan haar been, skouer, neus, wangbeen en ribbes, opgedoen.
Skanderings sou ook later toon dat sy haar elmboog, enkel en haar C2- en C3-nekwerwels gebreek het.
Baba Luke is ná die botsing breindood verklaar en is die betrokke aand omstreeks 23:00 in die hospitaal dood.
Groenewald sê Madelein is aanvanklik in die waakeenheid van ’n hospitaal behandel, maar intussen ontslaan. Sy moes ’n operasie aan haar elmboog ondergaan, terwyl ’n prosedure aan haar enkel uitgevoer sal word sodra die swelling gesak het en sy stabiel genoeg is om na Kaapstad vervoer te word.
Dit is wel nie nodig om aan haar nek te opereer nie en haar neus, wangbeen en ribbes sal ook mettertyd genees, meen dokters.
Meer as R18 000 is intussen vir die gesin se mediese koste en ander behoeftes ingesamel nadat ’n vriendin van die gesin, Bianca Weygandt, ʼn skarefinansieringsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur het.
“Ek wil graag almal aanmoedig om tyd saam met hul geliefdes deur te bring en vir hulle te sê dat jy hulle liefhet. Tyd is kosbaar en dit kan nie vervang word nie. Herinneringe is op die ou end al wat ons het,” het Gerhard ná die ongeluk gesê.
“Ek het ’n baie spesiale band met my seuntjie, Luke, gehad in die kort tyd wat God hom aan ons geleen het. Ons was so lief vir hom en gaan hom elke dag mis. Ry ook asseblief veilig en wees wakker op die paaie. Ons lewe het in ’n oomblik verander.”
Klik hier om tot die skarefinansieringsprojek by te dra.
My innige simpatie aan die gesin. Ek glo en vertrou sal ten volle gesond raak.
Baie jammer om van julle verlies te hoor, dit is baie hartseer. Ek weet nie hoe ek die situasie sal hanteer nie, het self 2 jong seuns. Sterkte
Rus veilig in God se sorg kleinding.
Klein mensies maak die pyn groot, sterkte aan die familie.
Absolute trauma op sy beste, om n kind te verloor. Sterkte.
Rus in vrede kleinding, so jammer.
Die berig rakende die ongeluk is vaag. Wat van die voertuig wat hul motor gestamp het ? Was daar ook mense beseer of het hul weggejaag?
Die Jeep se bestuurser is seker in die selle en wag vir sy straf? Jammer van julle verlies.
Ek glo darem nie die JEEP se bestuurder is in die selle nie aangesien die JEEP aan die gesin behoort het
@rooivalk,
lees die berig weer deur, dis sekerlik die “ander” voertuig bestuurder waarvan jy praat