Weldoeners help blinde hond weer loop

Kerneelz kan nie meer maklik staan, draai of loop sonder om sy balans te verloor en te val nie. (Foto: Verskaf)

Die klein gemeenskap van Kirstenhof in Kaapstad is in die proses om ʼn 14-jarige bokserhond genaamd Kerneelz weer op die been te kry, nadat sy jongste diagnose hom gedeeltelik verlam verklaar het.

Ná jare van gedeeltelik doof en blind wees, kan Kerneelz nie meer maklik staan, draai of loop sonder om sy balans te verloor en te val nie.

Dié brakkie het nou broodnodige fisioterapie nodig wat hom dalk kan help om van sy mobiliteit terug te kry.

Daryn Sutton (56), ʼn inwoner van Kirstenhof en vriend van Kerneelz se eienaar, Greta Wilson (52), sê Kerneelz is onlangs met parese en idiopatiese vestibulêre siekte gediagnoseer wat beteken dat sy agterste ledemate verlam is.

“Ek kon my met Kerneelz vereenselwig, want ek is self gedeeltelik blind en doof en val ook per geleentheid,” sê hy. Sutton het op ʼn jong ouderdom sy gehoor verloor en in sy vroeë 40’s het sy sig ook agteruitgegaan.

“Ek het Kerneelz se eienaar, Greta, ses jaar gelede ontmoet by ʼn geldinsamelingsgeleentheid vir gidshonde en sedertdien het ons saam met ons honde eindelose natuuravonture aangepak wat ons steeds van tyd tot tyd doen.”

Met Kerneelz se onlangse diagnose moes dié avonture egter gestaak word. Sy mobiliteit word so erg geraak dat hy dikwels sukkel om op te staan en wanneer hy wel lank genoeg kan staan, stamp hy teen goed en val.

“Ek het simpatie met hom [Kerneelz], want ek weet werklik hoe dit voel as jou hele lewe omvergewerp word.”

Volgens Sutton sien Kerneelz weekliks ʼn dierefisioterapeut wat sagteweefselmasserings, laserbehandelings en stabilisering- en versterkingsoefeninge met hom doen. Hy sien ook een keer ʼn week ʼn veeartsenykundige akupunkturis.

Sodra Kerneelz sterker is, sal hy hidroterapiesessies begin op ʼn watertrapmeul wat deur ʼn dierefisioterapeut bedryf word.

Dié behandelings, hoewel duur, sal Kerneelz se lewe help verleng en sy pyn bestuur.

Dr. Heidi Kuhn, Kerneelz se veearts, sê daar is ʼn kans dat fisioterapie Kerneelz kan help om die gebruik van sy agterpote ietwat te herwin. Hiervoor sal hy egter onbepaald behandeling moet ontvang wat tot meer as R1 500 per week kan kos.

Wilson kon egter tot onlangs nie die hoë koste van Kerneelz se fisioterapie bekostig nie en sy bestaande versekering is uitgeput en dek boonop nie die nodige terapie nie.

Sutton het besluit om Kerneelz te help en ʼn skarefinansieringsveldtog van stapel gestuur. Wilson het vantevore ʼn suksesvolle skarefinansieringsveldtog vir Sutton se afgetrede gidshond, Askii, onderneem en Sutton wou dieselfde vir haar doen.

Die twee hoop om eindelik R100 000 in te samel vir Kerneelz se behandeling en alle donasies word direk aan die betrokke veeartse betaal. Die gemeenskap het reeds meer as R5 000 geskenk en Wilson beplan om enige oortollige skenkings vir ander diere in nood aan te wend.

“Ek en Kerneelz het baie struikelblokke saam teëgekom en oorkom en ek kan nie my lewe sonder hom voorstel nie,” sê Wilson. “Hy is die appel van my oog en word voorgehou as ʼn modelpasiënt omdat hy so samewerkend, saggeaard en liefdevol teenoor al die veeartse is.

“Hy weet ons probeer hom help, so ek wil alles doen om dit moontlik te maak.”

Kerneelz het in die verlede gereeld gaan stap. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Prikkie ·

Mense, julle help nie vir Kerneels nie.

Ons moes in Desember ons lieflinghond laat “gaan”, maar ons het sy belange en sy toestand eerste gestel en nie ons eie nie.

Hy kon ook nie meer staan nie of behoorlik loop nie.

Doen die regte ding en laat Kerneels gaan “rus”.

Henk ·

Dis hard maar jy is reg. Kerneels sal nooit weer ‘n kwaliteit lewe hê nie. Mens raak so lief vir ‘n dier en dit maak seer, maar dink aan waardeur Kerneels gaan, net om op die einde maar in elk geval heen te gaan. Staan hom net by.

Sandra ·

As mens kan help om die Kerneelz enige hulp te gee wat moontlik is, moet dit gedoen word. Ek het ook ‘n hond gehad wat die gebruik van sy agterbene verloor het. Hy was ‘n skaaphond, en om vir so ‘n hond te kan se jy kan nie hardloop of jou eie ding doen nie, was hard. Ek het hom ook geneem vir akupunktuur en dit het hom op die einde van die dag nie baie gehelp nie. Ek verstaan Me Wilson se behoefte om alles te doen wat sy kan vir die pragtige sagte reus. Dis ons liefde vir hulle wat ons so aanspoort. Voorspoed met die behandeling aan u en Kerneelz.

Helene ·

Baie sterkte met hierdie pragtige hond se behandeling. Hy sal vr jou “se” wanneer die tyd daar is.

Casper ·

Probeer die veearts regtig om ‘n hond op 14 te help of wil hy of sy nog so paar randjies verdien voor hulle besluit die hond moet “verby gaan”dan kry jy veeartse wat genade dood bo genesing stel,ek weet ons het so een.

Prikkie ·

Ek weet nie wat die korrekte antwoord op jou vraag is nie Casper. Wat ek wel weet is dat Kerneelz al 14 jaar oud is, en dat dit oud is vir ‘n Bokser en enige hond van sy ouderdom moet gewis pyn hê ongeag van al die pyn medikasie en behandeling.

Ek wil net hoop dat wanneer ek eendag in so ‘n toestand verkeer, iemand my genadig sal wees en my sal laat gaan InshaAllah.

Jeanette ·

Ai mens is so lief vir jou hondekinders, maar as hy so ly dink ek persoonlik dis beter om hom liewer te laat gaan. Jy doen daai dier ‘n onreg aan want hy kan nie vrylik beweeg en speel en hardloop nie ek dink hy is in baie pyn, dink jouself in sy plek in, kan nie lekker wees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.