Welkom, Ruben! Wêreld se ‘eensaamste’ leeu kry tuiste op Afrika-bodem

Die wêreld se eensaamste leeu, Ruben [Foto: Animal Defenders International/Facebook]

Met ʼn senuweeagtige blik en op wankelrige pote het Ruben, bekend as die wêreld se eensaamste leeu, onlangs sy eerste tree op Afrika-bodem gegee.

Dié 15-jarige leeu is verlede maand in die Vrystaat hervestig nadat hy die afgelope ses jaar stoksielalleen in ʼn beknopte hok in Armenië deurgebring het.

Ruben was die enigste dier wat in ʼn private dieretuin agtergebly het nadat die deure gesluit is. Al die ander diere is hervestig, maar vir Ruben was daar geen nuwe heenkome nie en hy het selfs heeltemal opgehou brul.

Animal Defenders International (ADI), in samewerking met Qatar Airways Cargo se WeQare-liefdadigheidsinisiatief, het die koning van die oerwoud meer as 8 000 km vervoer om hom in die ADI Wildlife Sanctuary in die Vrystaat te hervestig. Die wildreservaat strek oor sowat 184 ha en bied reeds ʼn tuiste aan 32 leeus en tiere wat vroeër gered is.

“Met sy eerste tree by sy nuwe tuiste het sy bene gewankel. Hy was ondervoed en het ook vir etlike jare geen oefening ingekry nie. Hy het egter homself gedwing en uit sy reiskrat geklim en aanhou stap. Op dieselfde grond waar sy voorvaders gestap het,” sê Jan Creamer, ADI se president.

[Foto: Animal Defenders International/Facebook]

By sy nuwe tuiste het Ruben ná jare van eensaamheid weer ander leeus hoor brul. En dit was nie lank nie, of Ruben het ook weer sy eie stem ontdek. Hoewel aanvanklik sag, word die brul nou al hoe harder namate Ruben sy selfvertroue herwin en weer soos leeu voel.

“Hy het basies vergeet hoe dit is om ʼn leeu te wees.”

Creamer sê leeus is die mees sosiale lid van die groot katspesies en funksioneer in troppe in die natuur.

“Dit moes vir Ruben verskriklik gewees het om geen kontak of kommunikasie met ander leeus te hê nie. Om hom vir die eerste keer op gras te sien loop, die brul van sy eie soort te hoor, met die Afrika-son op sy rug, het ons almal in trane laat uitbars,” vertel Creamer.

Moeilike reis

Te danke aan Qatar Airways Cargo se WeQare-liefdadigheidsinisiatief wat ingegryp het en ʼn groter vliegtuig beskikbaar gestel het, kon Ruben se hervestiging wel plaasvind [Foto: Animal Defenders International/Facebook]

Ruben se gelukkige einde het amper nie ʼn werklikheid geword nie; ADI kon aanvanklik geen geskikte vlug vir hom vanuit Armenië vind nie.

Te danke aan Qatar Airways Cargo se WeQare-liefdadigheidsinisiatief wat ingegryp het en ʼn groter vliegtuig beskikbaar gestel het, kon die hervestiging wel plaasvind. Die vliegtuig se vragruimte het groot genoeg geopen sodat Ruben se reiskrat daarin kon pas.

In Katar is ʼn lugversorgde vragmotor ingespan om die groot kat tussen vliegtuie in Doha te skuif. Creamer en ADI se visepresident, Tim Phillips, het Ruben deurgaans vergesel.

Volgens Creamer was Ruben se gesondheid ʼn reusebron van kommer. “ADI het sedert Desember sy sorg in Armenië gefinansier en toe ons geen vlugte vir hom kon kry nie, was ons bang dat hy vir ewig daar vasgekeer sou wees.”

Die vliegtuig se vragruimte het groot genoeg geopen sodat Ruben se reiskrat daarin kon pas [Foto: Animal Defenders International/Facebook]

Elisabeth Oudkerk, verbonde aan Qatar Airways se vragafdeling, sê toe ADI die lugredery met Ruben se hartseer verhaal genader het, het hulle dadelik geweet dat hulle moet help.

“Daar is baie logistiek betrokke by die verskuiwing van diere soos Ruben: van die logistiek by die betrokke lughawens, die proses vir die op- en aflaai van die diere uit die vliegtuig, asook om die korrekte hokke en welstand van die diere te verseker. Dit verg baie moeite van ons span om sulke vervoer te organiseer, maar ons is trots op die wete dat ons gehelp het om terug te gee aan ons planeet,” sê Oudkerk.

“Ons is daartoe verbind om wild en bedreigde spesies te bewaar, daarom het ons ʼn tweede been van ons WeQare-inisiatief in 2020 van stapel gestuur, genaamd Rewild the Planet. Ons het onderneem om wildlewe en bedreigde spesies gratis te help om na hul natuurlike habitat terug te keer en ons sal voortgaan om dit te doen.”

Vasbeslote om weer te loop

Ná jare van erge wanvoeding en geen oefening nie, loop die mishandelde ou leeu moeisaam. Sy agterpote wieg en knak onder sy lyf.

Met sy aankoms in Suid-Afrika is Ruben verdoof en by die Old Chapel-veeartsenykliniek in Pretoria deur die wildveearts dr. Peter Caldwell ondersoek en behandel.

ʼn Habitat is spesiaal vir Ruben by ADI se wildreservaat in die Vrystaat ontwerp, met spesiale opritte na platforms en veiligheidsrelings.

ADI verwag dat ʼn lang pad na herstel egter nog vir Ruben voorlê. Maar sy veerkragtigheid het almal by sy nuwe tuiste stom gelaat.

“Hoewel sy bene wankel, het hy uit sy reiskrat geklim en dadelik met ʼn reuse-slaansak vol kos begin speel – sy eerste speelding,” vertel Creamer.

[Foto: Animal Defenders International/Facebook]

“Sy hele houding het verander. Sy gesig was ontspanne en hy het nie meer bang gelyk nie.”

Volgens Creamer is Ruben se vasberadenheid om te loop, inspirerend. “As hy struikel of val, staan hy weer op en loop dan aan. Hy is niks minder as heldhaftig nie.”

Ruben se manier van loop het binne etlike dae verbeter.

“Ons weet dit gaan ʼn lang pad wees en deurlopende veeartsenykundige behandeling verg, maar die begin van sy nuwe lewe kon nie beter gewees het nie.”

Om by te dra tot Ruben se voortgesette versorging en rehabilitasie, klik hier.

RUBEN’S FIRST ROAR IN AFRICA! It was a just small roar, he was cautiously announcing himself, and it means the world to everyone rooting for this battered old warrior. This was yesterday morning as Ruben emerged from his house – check out this morning’s live for a couple more little roars as he got up. We expect his roar to get louder as his confidence grows.We are keeping him in the house overnight as he transitions from the extreme summer heat in Armenia to the cold late winter nights in South Africa – but it will soon be Spring!Ruben’s courage and determination is shining through as he battles to stay on his feet. His movement will improve more as he exercises and gains more strength while being treated by Dr Caldwell.Thank you to everyone who has been there to #HelpRubenRoar please keep supporting us!https://adiwildlifesanctuary.org.za/

Posted by Animal Defenders International on Sunday, August 27, 2023

Ruben's roar is getting louder

Ruben’s roar is getting louder. Ruben is determined to walk around and even as his legs wobble, he pushes himself forward. His roar is getting stronger and louder, and he is listening to the roars of the residents next door. It’s not always possible to catch it on camera but we will keep trying! He’s a big boy and we think he is going to have a very loud roar one day!#HelpRubenRoar #lion #bigcat #adiwildlifesanctuary #adiws

Posted by Animal Defenders International on Wednesday, August 30, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Plaaskind ·

Arme Ruben, wens jou net die beste toe hier in SA. Mag jy baie gelukkig hierso wees en geliefd wees.

Sandra ·

Ek het sommer nou in trane uitgebars hier waar ek die berig gelees het. Dat so ‘n trotse sterk dier so wankelrig moet wees omdat hy lanklaas spasie gehad het om te loop breek my hart. En die feit dat hy so lank alleen moes wees en sy brul moes verloor, is baie hartseer. Ruben ek sien jou raak as ‘n vasbeslote leeu wat tenspyte van jou swakheid self opgestaan en geloop het, as ‘n goeie teken dat jy net op en aan kan gaan van hier af. Gods rykste seen aan die mense wat hom gehelp het om ‘n beter lewe te begin.

Patch ·

Ek myself.
Dis aaklig om ‘n dier wat met trots, fier en regop moet loop so te sien. Ruben, jy is ‘n pragtige leeu, welkom in jou land van herkoms. Mag jy gelukkig wees en nog baie lank lewe en jou magtige brul ten volle weer ontdek.
Die mense wat hierdie moontlik gemaak het, het harte van goud.

Amelia ·

Ai, ek is ook in trane. Ek wens dat alle diere wat ‘n miserabele bestaan in aanhouding verduur ook vrygelaat sal word.

Misky ·

My hart breek vir die arme prag dier…… onmenslik wat hulle gedoen het!!!!

Mariana ·

Dit is hartverskeurend om so ‘n pragtige dier in hierdie toestand te sien. Maar die hoop is dat hy sal herstel en sy plek sal inneem in sy nuwe tuiste.

Helene ·

Welkom tuis Ruben. Mag jy nou net van krag tot krag gaan wat jou gesondheid betref. Hartverskeurend om berig te lees.

Charllas ·

Weet nie as die trane is van blydskap dat jy nou veilig is nie of oor jy so moeilik loop nie maar oh dit loop. Ruben jy is nou tuis waar jy hoort onder mense wat hulle alles sal gee om jou weer sterk te kry soos die koning van die wild soos wat jy is.

Wit Leeu ·

Ek hoop Ruben herstel vinning. Het bietjie gehuil nou oor Ruben, dit is verskriklik wat met hom gebeur het. Herstel gou Ruben !

Suzette ·

Ag dis wonderlik dat Peter Caldwell na Ruben gekyk het. My German Shephard was verlief op Peter. Welkom in sonnige SA Ruben.

Diepoppie ·

Sjoe! Hoe loop die trane nou! So bly hy is nou in SA vir n beter lewe!

Juanita ·

Sulke tye wens ek dat ek baie geld gehad het. Breek my hart. Mag hy nog baie gelukkige jare hê.

Karoo ·

Ruben, ek wens jy kry ‘n pragtige Leeu weifie wat jou sal bemin en met wie jy jou nuwe lewe en geluk kan deel, alleen wees is “overrated”.

Ronel ·

Dit breek my hart – kan dit nie hanteer as diere mishandel word en swaarkry nie. Ek hoop sy laaste jare gaan opmaak vir al die swaar wat hy gehad het en dat hy sommer hope liefde gaan kry!!!

Eclectus ·

Diere doen een van twee goed want hulle ken nie selfbejammering nie. Of hulle pas aan en gaan aan, of hulle gee oor en sterf.

Oesterbaaier ·

Duisend dankies aan almal wat dit moontlik gemaak het. Julle is engele. Mag hy lank en gelukkig lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.