Wenke vir padveiligheid tydens dié Kerstyd

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Paaie in Suid-Afrika raak vinnig besiger met die Kersvakansie wat om die draai is, skole wat volgende week sluit en Suid-Afrikaners wat keelvol is vir Jan Tuisbly se karretjie ná die Covid-19-pandemie.

Volgens die Automobiel-Assosiasie (AA) is die paaie dié tyd van die jaar op sy onveiligste vir motoriste weens die duisende mense op die paaie.

Skole reg oor Suid-Afrika sluit op 15 Desember en heropen weer op 11 Januarie. Verkeersvolumes sal dan na verwagting toeneem op hoofroetes soos die N1 van Polokwane na Kaapstad via Gauteng en Bloemfontein, die N2 langs die KwaZulu-Natalse kuslyn, die N3 van Gauteng na KwaZulu-Natal, die N4 deur Mpumalanga en die N7 van Kaapstad tot by die Namibiese grens.

Statistieke van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) toon aan dat daar altesaam 1 395 noodlottige ongelukke en 1 808 padsterftes was gedurende die feestyd wat van 1 Desember 2021 tot 11 Januarie 2022 gestrek het.

Argieffoto (Foto: PublicDomainPictures/Pixabay)

Die AA sê Suid-Afrika het ’n massiewe padveiligheidsprobleem en die regering en sy agentskappe wat vir padveiligheid verantwoordelik is, moet baie meer doen om hierdie situasie te verbeter.

“Van die stappe wat hulle moet doen, is om die aantal verkeerswetstoepassers oor die hele land te verhoog, padveiligheidsbewustheid en opvoedingsveldtogte te verbeter en beter vervolging van oortreders te verseker.

“Ons moet terselfdertyd ook erken dat padgebruikers hul houding en bestuursgedrag moet verbeter. Ons moedig dus alle padgebruikers aan om te verseker dat hulle kalm op die pad is en padreëls gehoorsaam, nie net gedurende hierdie feestyd nie, maar regdeur die jaar.”

Volgens die AA kan padveiligheid nie die verantwoordelikheid van die owerhede alleen wees nie en elke padgebruiker het ’n rol om te vervul.

“Verkeerswetstoepassers werk uitermate hard oor hierdie tydperk om ons paaie veiliger te maak, maar hierdie pogings word gedwarsboom deur padgebruikers wat roekeloos bestuur, wat nie die padreëls gehoorsaam nie, en wat glo dat hulle bo die wet verhewe is.”

Die AA bied die volgende wenke vir reisigers:

  • Hou ten alle tye links op die pad en neem voertuie regs verby.
  • Indien jy stadiger as ander motoriste bestuur, maak vir hulle plek op die pad. Om te stadig in ’n baan te ry wanneer daar vinniger voertuie agter jou is, is gevaarlik en kan tot padwoedevoorvalle lei. Die korrekte benadering is om vinniger voertuie te laat verbykom wanneer dit veilig is om dit te doen.
  • Maak seker almal in die voertuig (voor en agter) is vasgegordel.
  • Moenie drink en bestuur nie.
  • Wees sigbaar wanneer jy langs die pad loop, veral in die aand, skemer en in swak beligte gebiede.
  • Neem ’n ruskans elke twee ure of elke 200 km. Dit sal jou help om agter die stuurwiel wakker te bly. Neem die tyd om jou bene te strek, vars lug te kry en om vir ’n paar oomblikke ontspanne te wees voordat jy jou reis voortsit.
  • As jy ’n fietsryer is, of op ’n fiets ry, dra ’n helm en ander nodige beskermende toerusting.
  • Ry volgens die toestande van die pad, nie noodwendig tot die aangeduide spoedgrens nie.
  • Moenie op jou selfoon kyk of werk terwyl jy bestuur nie.
  • Maak seker jou bande (en noodbande) is in ’n goeie toestand en styf opgepomp.
  • Maak seker jou ruitveërs (voor en agter) is in ’n goeie toestand. Selfs relatief nuwe ruitveërblaaie kan vinnig agteruitgaan as dit vir lang tye in die son gelaat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Santie Gildenhuys ·

En as jy besig is om ‘n ander voertuig verby te steek en jy het jou misgis met aankomende verkeer, verminder spoed en val terug. Moenie teen wil en dank WIL verbysteek nie.

SjN ·

Taxis is die grootste probleem, oorlaai, onpadwaardig, spoed, verbysteek op sperstrepe en verontagsaam van alle verkeersreels.

otter ·

wat van bande wat bars en net plain ongelukke. Onthou , nie almal is onverantwoordelik op die pad nie . Hou op om altyd negatief te wees. ongelukke gebeur , onthou dit.

Danie ·

Bly so ver weg van trokke as moonlik.Wees op die uitkyk vir slaggate.

Nico ·

Onpadwaardige voertuie, dronk bestuur, die vragmotors en mense wat soos varke op die paaie bestuur. Waar is die verkeers beamptes sal ook nie die onpadwaardige motors, tax’s en swaar voertuie van die pad afhaal nie, dit is mos die beste tyd om geld te maak deur bribe’s, hulle sit mos net en wag vir so’n geleentheid.

Piet ·

Die wenke is voor die hand liggend en het nog altyd gewerk. Wetstoepassers is nie die probleem nie. Wat tussen die ore en die stuurwiel gebeur is wel ‘n groot probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.