Werker wat geboortesertifikate verkoop tronk toe

(Foto: Maroela Media/ Jhua-Nine Wyrley-Birch)

ʼn Voormalige werknemer van die departement van binnelandse sake is in die Giyani-handelshof tot effektief agt jaar gevangenisstraf vir bedrog en korrupsie gevonnis.

Amos Ngwenyama is Vrydag op bogenoemde twee aanklagte tot onderskeidelik agt en ses jaar gevangenisstraf gevonnis. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Hy was by die kantoor van binnelandse sake in Malamulele in Limpopo werksaam en het glo geboortesertifikate aan buitelandse burgers in ruil vir omkoopgeld uitgereik.

Ngwenyama is verlede jaar ná ʼn gesamentlike ondersoek deur die departement se teenkorrupsie-eenheid en die Valke in Limpopo in hegtenis geneem.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het die vonnisoplegging verwelkom.

“Amptenare wat by bedrog en korrupsie in die departement betrokke is, se dae is getel.

“Ons het geen verdraagsaamheid vir enige dade van korrupsie en wanpraktyke nie. Lede van die publiek verwag van regeringsamptenare om die hoogste morele standaarde te handhaaf.

“Ons sal hierdie plaag van korrupsie in die regering uitroei en is gereed om as oorwinnaars uit die stryd te tree,” het Motsoaledi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Di ·

Welgedaan, ongelukkig is daar nog BAIE soos hy in binnelandse sake. Hierdie is ‘n massiewe probleem wat ook die oorsaak is van miljoene onwettige immigrante in SA. Selfs die Minister het erken dat hulle GEEN IDEE het HOEVEEL onwettige immigrante regtig in die land is nie. Tyd dat al die skelms openbaar word en hulle moet nooit weer enige pos in die Staat kry nie.

annie ·

Dr Aaron verdien bevordering. Hy is goud werd vir die land met sy besordheid oor die massas skelm uitlanders wat skaamteloos op ons land parassiteer.

Witbaard ·

Klein vissies. Wat van die groot skelms in die regering. Of is hulle nou almal te siek om vervolg te word.

domheks ·

Dit is maar ‘n druppel in die emmer, almal skep lekker geldjies en ons land loop oor van buitelanders.

schalk ·

goed gedaan nou nog net die klomp kry wat so sertifikate en bestuurslisensies uitdeel asof dit sweeties is

schalk ·

goed gedaan nou nog net die klomp kry wat lisensies en sertifikate uitdeel asof dit sweeties is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.