Werkgewer kan jou dalk pos oor ‘roekelose’ Covid-19-gedrag

Uiteindelik moet werkers ook billik wees en hulle moet verstaan dat hul gedrag nie net hulself raak nie, maar ook almal anders, (Foto: pixabay)

Jou werkgewer kán jou in die pad steek as jy willens en wetens buite kantoorure Covid-19-regulasies oortree en die virus opdoen, maar dit gaan ʼn moeilike oortreding wees om te bewys.

Justin Hattingh, ʼn senior regsadviseur by Strata-g Labour Solutions, sê werkgewers kan werkers wat die Covid-19-regulasies in hul vrye tyd oortree in die ergste moontlike geval afdank, mits die werkgewer kan bewys dat iemand buite kantoorure roekeloos opgetree en ander werkers in die gevaar gestel het. Hy sê in so ʼn geval is die grondslag waarop daar teen ʼn werker opgetree word die feit dat die gedrag ʼn uitwerking op die verhouding tussen werkgewer en werker, asook die pligte en verantwoordelikhede, van albei partye het.

Hy sê werkers wat wil aanvoer dat daar inbreuk op hul privaatheid gemaak word in ʼn poging om hul Covid-19-status weg te steek, het ʼn reg om nie ʼn mediese toestand met ʼn werkgewer te deel nie. Sou dit egter aan die lig kom dat ʼn werker sy kollegas in gevaar stel om die virus op te doen, kan die verdoeseling ʼn strafregtelike oortreding wees.

“Die moontlikheid om werkers te dissiplineer omdat hulle vals of misleidende inligting verskaf, bestaan ook. Uiteindelik moet werkers ook billik wees en hulle moet verstaan dat hul gedrag nie net hulself raak nie, maar ook almal anders,” sê Hattingh.

Anton van der Bijl, hoof van regsdienste by Solidariteit, sê egter die meeste mense se werkskontrakte stippel bepaalde werksure uit en maak nie voorsiening vir wat voor of na werk gebeur nie.

“Jy het ʼn baie groot reg op privaatheid buite werkstyd en dit gaan ʼn uitsondering wees as ʼn werkgewer in private omstandighede kan intree.”

Hy sê sogenaamde roekelose optrede is ʼn subjektiewe beskouing en dit kan moeilik wees vir ʼn werkgewer om te bewys.

Van der Bijl sê ook ʼn werkgewer sal moet bewys dat daar ʼn risiko vir die betrokke maatskappy is – hetsy deur byvoorbeeld reputasieskade of daadwerklike beroepsgesondheid- of veiligheidskade weens die werker se optrede.

“As ʼn werkgewer nie werklike skade kan bewys nie, gaan hy sukkel om op te tree.”

Van der Bijl stem saam dat daar ʼn aanspreeklikheid op werkgewers én werkers is om ʼn veilige werksomgewing te skep, veral in ʼn krisistyd. Hy sê die pandemie is ʼn gulde geleentheid vir werkgewers om na hul beleid oor onder meer beroepsgesondheid te kyk en die virussiekte het die soeklig op veilige praktykkodes en -beleid geplaas.

Hattingh sê ook ʼn werkgewer kan ʼn werker net voor stok kry as beleid ten volle op datum is en gesondheid- of veiligheidsverwante oortredings in die werkskontrak uiteengesit word. Hy sê werkers kan nie aanneem dat werkers ingevolge die wet gaan optree as hulle nie eens weet wat as wangedrag beskou word nie.

“Daar kan bevind word dat werkgewers wat werkers ontslaan omdat hulle Covid-19-protokol oortree – sonder dat die nodige beleid geld – dit onbillik gedoen het,” sê hy.

Hattingh sê die meeste werkgewers se gedragskodes bevat nie ʼn verwysing na beroepsveiligheidsoortredings nie. “Die gedragskodes hoef nie Covid-19-spesifiek te wees nie, maar moet dit duidelik stel dat enige oortreding van beroepsveiligheidsregulasies nie geduld gaan word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MakersMark ·

Niks met paranoia uit te waai nie die arbeidswet sê duidelik dis die werkgewer se plig om ‘n veilige werksplek te verseker. So die domastrantes wat kollegas in gevaar stel met hul cowboy houding waai sommer nou voor die base jou vra om te gaan. Waar ek werk is al twee mense deur disiplinêre verhore en afgedank agv roekelose optrede. Albei beslissings het gestaan in die arbeids arbitrasie en bedingingshof.

Jan ·

Hulle sal eers in die appélhof of die Grondwethof moet bewys dat die maatreëls wat oortree is grondwetlik is en wesenlike voordeel inhou. Die huidig-geldige Hooggeregshofuitspraak bepaal dat die regulasies ongrondwetlik en ongeldig is.

MakersMark ·

Niks met grondwet uit te waai nie soos ek reeds aangedui het die arbeidswet vereis ‘n veilige werkplek vir werknemers. Die Dept. van arbeid het reeds in 2020 duidelike CV19 bestuursreels vir werkgewers ingestel en inspekteurs van die dept. besoek reeds werksplekke om “compliance” inspeksies te doen. Indien daar fout is kan die werksplek toegemaak word. Dalk moet mense eers hulself bewus maak van die reels en wette voor hul slim aanmerkings maak.

MakersMark ·

Nee glad nie CV 19 bestuursreels al van April 2020 in plek op alle aanlegte en persele maar soos jy weet is daar die domastrantes wat nie in CV19 glo nie. Hulle soek nou ander werk. Dis juis streng toepassing van die reels wat dit teweeggebring het.

Jan ·

So ‘n werkgewer behoort voor die Grondwethof gedaag te word op grond van die Hooggeregshofuitspraak van 2 Junie 2020 dat die regulasies ongrondwetlik en dus ongeldig is.

Deon ·

“werkers” kan hierdie mos nou baie lekker misbruik!!! Ek voel nie te wel nie ek gaan myself laat toets vir covid, en so het jy 3 dae n week af….. Wat ek by my huis en na ure doen het absoluut niks met enige iemand te doen nie….. Nog n “tegniese” “analysis paralysis” brain wave van wie weet waar wat ook seker nerens gaan kom nie

Deon ·

Presies, en al hierdie vergaderings van die ministers en en, mens weet mos nou nie waar hierdie virus oral wegkruip en wag om jou te infekteer nie… Dom reel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.